DIE KERSBOOM
Teen die hange van die Sederberge waar klein reënstroompies verby varings en mosbedekte rotse spat en baljaar, staan ’n Kersboom. Stil, slank en elegant – ’n volmaakte simfonie van wortel, tak en blaar. En as die koel, vroeë mistigheid in die skuins sonstrale smelt, word die Kersboom se natuurlike versiering van kristal en dou verlig en omskep in ’n byna bonatuurlike stralekrans van betowerende reënboë.
’n Week of so voor Kersfees verskyn daar ’n kêrel met sy skerp byl op die toneel, en ná ’n paar goed gemikte houe lê die Kersboom op sy rug, reg om iemand se sitkamer vir ’n rukkie te versier.
Om sonder wortels in ’n emmer vol klippe te staan, met blink balle, sterre en elektriese liggies aan elke tak, is ’n ontnugterende ervaring vir enige boom, om die minste te sê.
Geleidelik, op ’n onverstaanbare wyse, vind daar ’n eienaardige ontwaking in die verminkte Kersboom plaas. Sy vrye, sluimerende wese word soos ’n vuis saamgetrek in ’n eksklusiewe, afsonderende selfbewustheid.
“As my vriende in die berge my nou kon sien,” dink die boom, “hoe jaloers sou hulle tog wees!”
Die kinders staar met groot oë na die verskynsel van winkende liggies, blink tooisels en plastiekspeelgoed. “Lyk ek nie absoluut fantasties, selfs fabelagtig nie?” vra die boom hulle, maar die kinders kan nie boomtaal hoor of verstaan nie.
Later in die nag loer die maan in diep, blou stilte met silwer strale deur die gordyne. Die klatergoudversierings blink spookagtig in die skemer. “Jy verlang seker na die berge,” sê ’n stem in boomtaal.
Die Kersboom skrik byna al sy takke lam. Hy was so versonke in sy nuut ontdekte selfbeeld van vleiende voorwerpe dat hy nooit vir Kersvader daar by die kaggel sien staan het nie. Onverhoeds betrap probeer die boom haastig sy kalmte herwin.
“Verlang na die berge? Hoe belaglik!” sê hy met skynselfvertroue. “Kyk net na my, Oubaas, hier het ek alles wat ’n boom kan begeer.”
Sinterklaas glimlag. “Jy sal seker nie nee sê vir ’n bietjie water en sonlig nie, of hoe?”
’n Vae herroeping van klam grond en lentewinde wat strelend met blare speel, styg op in die binneste van die boom. Met heimweë dink hy nou terug aan die natuurlike
verwantsbewustheid wat alle lewende dinge behels. Maar die werklikheid van sy onmiddellike toestand van selfbewutheid, gegrond op versiersels, oortref egter die half ontwaakte droom van die verlede.
Sinterklaas stap nader en kyk diep na die swaarbelaaide boom, verby al die rommel en raak met teerheid aan een van die halverlepte takkies.
“Ná ’n paar dae gaan hulle jou versiersels afhaal en jy sal op ’n brandstapel gegooi word.”
Dié woorde sny soos ’n kil winterwind deur ons simbool van blydskap. Meteens word die boom bewus van sy benarde toestand en die raaisel van die hele proses.
“M-m-maar wat is dan die doel van hierdie skouspel as ek alles gaan verloor?” stamel hy.
“Wie gaan wat verloor?” lag Kersvader vir die boom. “Die geheim van Kersfees sal jy self moet ontdek. Niemand kan dit aan jou verduidelik nie. Nou is jou kans, maar daar is min tyd.”
Die Kersboom wil nog teëpraat, maar Sinterklaas het reeds in sterrelig en maanskyn verdwyn.
Meteens voel die boom nie meer so ingenome met sy versiersels nie. En om die situasie te vererger, word sy eie verleptheid weens gebrek aan voeding al hoe duideliker.
Twee dae later gebeur dit nes voorspel is. Die opgewonde kinders help hul pa om die nou byna sterwende boom na ’n groot vreugdevuur in die agterplaas te sleep. Pa tel die boom op en met ’n laaste sug van verdriet val die boom in die vlamme. Gou word dit in die verterende hitte verswelg. Die oostewind kom en warrel die vaalwit rook van die brandende boom hoog bokant telefoondrade en dakke na die verre blou berge, waar ander Kersbome wag. ALBERT VAN ZYL Brief per e-pos ontvang.