GENADE VAN BO
Die hemele het toe plek-plek oopgegaan. Dele van veral die weste van die somersaaigebied het reën gekry, asook kolle in die Suid-Kaap en dele van die bitter droë Karoo. Boere wat onlangs nog neerslagtig was, skep weer moed en het hoop ná die bietjie reën.
Hoewel al die mielies nie in die grond is nie en die wat wel is, maar swaar trek op plekke, is daar dalk ’n kans vir ’n paar sonneblomme in beseringstyd. Die weidings kry ook ’n welkome hupstoot voor die herfs.
Elders, soos in die Karoo, is dit egter steeds katastrofies. In die Gamtoosvallei, wat sedert verlede Mei ’n rampgebied is, is boere se waterkwotas al sewe maande gelede met 60% besnoei. Port Elizabeth moet met 42% minder water klaarkom.
Kaapstad, Suid-Afrika se internasionale toeristebestemming, kry egter die meeste publisiteit. Oorsese koerante skryf onheilspellend oor moontlike ongekende burgerlike anargie indien die eerste groot stad in die ontwikkelende wêreld se water sou opraak. Baie voorstedelike stadsmense se krane het nog nooit, soos op plase en klein dorpies, opgedroog nie. Paniek het begin posvat — klein motors met groot plastiektenks op die dak sukkel deur spitsverkeer, vuisgevegte oor water breek by natuurlike fonteine uit en daar is gerugte van bure wat mekaar se reënwatertenks leeg pomp.
Anders as in die stad, het Dag Zero egter reeds vir baie boere in die Wes-Kaap aangebreek. Dié wat kan, sluit hul besighede tot dit weer reën. Só word tienduisende mense se bestaan bedreig — van getroue plaaswerkers tot bestuurders in lugverkoelde kantore.
Sake is lelik deurmekaar. ’n Koringboer sê nou die dag: “Ons is altyd beter af met ’n swakker oes en ’n goeie prys as met ’n goeie oes en ’n swak prys. Maar vanjaar? ’n Swak oes én ’n swak prys?”
Is die prysrisiko van koring en mielies dan nou hoër as die produksierisiko?
In dié oorlewingstryd lyk die vervoerdifferensiaal-aftrekkings by koring byna roofsugtig, veral omdat die Kaap self te min koring het. Die somme klop nie eens vir ouens wat wel ’n skaflike gemiddelde opbrengs van sowat 2,3 ton per hektaar kon behaal nie. Om die waarheid te sê, boere betaal nou in op hul uitgestelde pryskontrakte by landbouondernemings.
Al hoe meer koringboere kyk nou na alternatiewe gewasse, soos gars en medics, vir hul vee. In die weste van die somersaaigebied spits al hoe meer boere hulle ook op vee toe, ondanks hoopvolle voorspellings dat die mielieprys behoorlik sal kop oplig, al moet wit sowel as geel mielies nog ’n agterstand van sowat R1 000 per ton uitwis om 2016 se kruin te bereik.
Maar ons boere maak ons trots. In die Elgin-Grabouwvallei help landbouers die Stad Kaapstad met ’n ekstra 67 miljoen liter water per dag uit ’n vol Palmiet-Kogelbergdam. Nog ander bied aan om 140 000 liter water per dag te lewer, en daar is beloftes van 30 000 liter per dag vir Khayelitsha.
Baie stedelinge verstaan nou vir die eerste keer hoe kosbaar water werklik is, maar moet nog baie leer. Van 50 tot 100 voorstedelike boorgate word per dag gesink, en die les dat grondwater alles behalwe ’n onuitputbare waterbron is, moet nog geleer word. Dit is die besef dat alle water, bo én onder die grond, maar net van een plek kan kom, en dit is van bo af. Dit kom uit die hemel, en dít is blote genade van Bo. — CHRIS BURGESS