DIE ANDER SÊ
SUID-AFRIKA se stormwaterbehandeling is in ’n skokkende toestand. Volgens 2014 se Groendruppelverslag (die laaste een wat gepubliseer is) is bevind dat amper ’n kwart van die land se stormwaterbehandelingsgeriewe in ’n “kritieke toestand” was en nog ’n kwart is as “hoërisiko” bestempel.
Verder gebruik Suid-Afrikaners baie water – 235 liter per persoon per dag, vergeleke met ’n wêreldwye gemiddelde van 173 liter. Dié hoë verbruik per kop spruit waarskynlik deels uit water wat verlore raak weens lekkasies en die groot afhanklikheid van water-intensiewe steenkoolkragsentrales. Laastens is Suid-Afrika buitengewoon afhanklik van oppervlakwater en gebruik die land nie genoeg ander hulpbronne, soos grondwater, nie.
As Kaapstad se water opraak, sal dit vinnig in ’n nasionale noodtoestand ontaard. Grootskaalse migrasie sal watergebruik elders in Suid-Afrika verhoog en daarmee saam die gevare van oorgebruik. Mense sal ontwater, landboubedrywe sal krimp en daar kan selfs veiligheidsimplikasies wees.
Die Regering belê reeds jare lank nie genoeg in die ontwikkeling en instandhouding van grootmaat-infrastruktuur nie, en provinsiale en plaaslike regerings het nie die vraag na water doeltreffend bestuur nie. Suid-Afrika het nie ’n kultuur van waterbesparing nie. Gepaste prysmeganismes en ander aansporings kan daardie bewustheid aanhelp, maar alle inwoners – nie net dié in Kaapstad en Nelson Mandelabaai nie – moet water op ’n meer verantwoordelike manier gebruik.