BAKTERIE-WERWING BEPAAL DROOGTEBESTANDHEID
Party plante het die vermoë om ’n bepaalde groep grondbakterieë na hul wortels aan te trek wat hulle meer droogtebestand as ander plante maak. Só bevestig navorsing deur ’n Kanadese bioloog.
Mnr. Connor Fitzpatrick van die Universiteit van Toronto het 30 verskillende plantsoorte wat in die omgewing rondom dié stad voorkom, in sy laboratorium van saad gekweek. Hy het almal in dieselfde grondmengsel en in nagemaakte droogtetoestande geplant.
Hy het elke plant se mikrobioom – die spesifieke samestelling van mikroörganismes, soos bakterieë en swamme, in en om hul wortels – ontleed. Elke plant het ’n unieke mikrobioom en die samestelling daarvan verskil meer tussen onverwante spesies as tussen plante wat geneties nader verwant is.
Connor se ontledings en die plante se reaksie op die droogtetoestande het gewys daar was ’n verskil tussen die verskillende plantsoorte se vermoë om ’n bepaalde groep grondbakterieë – die sogenoemde Actinobakterieë – na hul wortels toe aan te trek. Dié bakterieë was ewe beskikbaar in al die grond waarin die 30 plantsoorte gegroei het. Party van die plante kon egter meer daarvan uit die grond “werf”. In pas met dié vermoë, het hierdie plante ook baie beter in die droogtetoestande gegroei. Nóg een van Connor se bevindings bevestig die belangrikheid van wisselbou: Dit het bewys dat hoe meer soortgelyk die samestelling van ’n plant se wortelmikrobioom was aan dié van ’n voorafgaande geslag van ’n plant wat in daardie grond gegroei het, hoe meer het die tweedegeslagplant onder droogte gely. As die tweedegeslagplant se mikrobioom in ’n groter mate van die eerstegeslagplant s’n verskil het, was die tweedegeslagplant ook meer droogtebestand. “Daar is ’n komplekse web van interaksies wat plaasvind wat moeilik is om te ontrafel en meer studie nodig het,” sê Connor oor die ingewikkelde en dikwels steeds duistere wêreld van plante se mikrobioom.