Meganisasie: Raak tegnologie boere se baas?
Tegnologie bring vooruitgang en produktiwiteit, maar dit bring ook frustrasie, wat boere soms dwing by hul eie werktuie se sagteware te laat inbreek.
Vra mnr. Roland Hörner, hoof van vernuwing by die Duitse Landbougenootskap (DLG), wat op vanjaar se Agritechnica-skou aan die vernuwingsfront uitgestaan het en hy sal vinnig antwoord dat dit die digitalisering van die landbou is. Die soomlose koppeling tussen sagteware, data en ysters se einddoel is om produktiwiteit te verhoog.
Vra Roland wat hom bangmaak en hy antwoord sonder skroom: Die ontoeganklikheid van moderne tegnologie vir die boer; die outokratisering van landboutegnologie; dat boere afhanklik raak van die verskaffers van noodsaaklike tegnologie.
Hierdie vrees, sê hy, is die ander kant van die digitaliseringsmunt: In dieselfde mate as wat tegnologie ’n hulpmiddel is wat boere help om groter potensiaal te ontsluit, lewer dit onvermydelik ook “wenners” en “verloorders” op. Roland – en baie ander mense – vrees dat die wenners uiteindelik slegs die verskaffers van tegnologie sal wees.
Hy is nie al mens wat so dink nie. Boere in Nebraska in Amerika het vroeër vanjaar ’n veldtog begin met die doel om wetgewing te laat skep wat vir boere beheer gee oor die tegnologie in hul trekkers (die “Right to repair”-beweging).
John Deere en ander vervaardigers het al deurgeloop, met boere wat meen dat hulle – selfs nadat hulle ’n aardige bedrag vir ’n trekker betaal het – steeds nie dié toerusting “besit” nie. Dit is omdat die sagteware en die herstel daarvan steeds onder John Deere se beheer val.
PROBLEEM MET WETGEWING
Volgens Roland is een van die grootste pro- bleme dat wetgewing, veral wat intellektuele eiendomsreg betref, nie gou genoeg aanpas om met die vooruitgang in tegnologie tred te hou nie. Dit het aanleiding gegee tot ingewikkelde hofsake, waarin van die vervaardigers aangevat is.
Dié frustrasie is uiteraard niks nuuts vir boere wat reeds jare lank met ingewikkelde tegnologie werk nie. Selfs boere met etlike jare se ondervinding of ingenieursgrade word daarvan weerhou om herstelwerk aan hul eie werktuie te doen weens die “swart boks” van sagteware en ysters.
Die praktiese gevolg is dat wanneer ’n komponent lol en herstelwerk benodig, het die boer geen ander opsie as om ’n geakkrediteerde werktuigkundige te gebruik nie. Dit is sodat dié kundige jou trekker aan sy rekenaar kan gaan koppel en agter die skerms ’n oplossing vind, terwyl jy daarmee tevrede moet wees om die rekening te betaal.
Elders ter wêreld het boere begin om hul eie trekkersagteware te “kraak” (dikwels met onveilige sagteware wat van die internet afgelaai word) om beheer oor hul werktuie terug te kry.
RISIKO VAN PRIVAATHEID
Die geslote aard van trekkersagteware is egter nie heeltemal sonder rede nie omdat digitalisering en outomatisering ook privaatheidsen sekerheidsrisiko’s inhou. Iemand wat ongemagtigde toegang tot ’n boer se data bekom, kan dit teen hom of haar gebruik.
Verder kan kuberkrakers moontlik toegang tot ’n werktuig se rekenaar bekom om dit te kan beheer of deur middel van ’n sag- tewarevirus buite werking te stel.
Binne die Suid-Afrikaanse konteks is dit nie eens ’n geval van dit self probeer regmaak of kla oor die koste om dit reg te kry nie. Dit is dat die boer net enigiemand in die hande wil kry wat dit wél kan herstel.
Veral met kommunikasieprobleme tussen sagte- en hardeware wat so frustrerend kan wees dat ’n mens die werktuig vir ’n dag net daar in die land wil los! Ons almal ken gevalle waar daar geen meganiese probleem is nie, maar die stelsel wil eenvoudig nie werk nie . . .
In Suid-Afrika is die aantal kenners van dié spesialistegnologie binne ’n spesifieke area dikwels só min dat individue hulself eenvoudig nie op ’n enkele aspek kan toespits nie. Dus kan die persoon nie die spesialiskennis ontwikkel wat dikwels nodig is as dinge begin skeefloop nie.
Die oorsaak van die gebrek aan kennis is tweeledig: Eerstens, vervaardigers gebruik meestal hul eie, geslote stelsels wat kundiges dwing om in ’n enkele fabrikaat te spesialiseer. Tweedens, modelle verander vinnig en die stelsels is dikwels nie terugwaarts versoenbaar nie.
Suid-Afrikaanse boere se bedingingsmag om die ontwerpsfilosofie van die internasionale vervaardigingsreuse te verander, is beperk. Tog moet ons ook ons stem by dié van ons internasionale kollegas voeg oor die demokratisering van landboustelsels.
Jan C. Greyling is ’n boer, navorser, landbou-ekonoom en dosent aan die Universiteit Stellenbosch.