Landbouweekblad

Dries Visser se raad: ‘Vergeet wildspekul­asie en begin boer’

Die wildbedryf het ’n nuwe era inbeweeg en verg nou daadwerkli­ke bestuursaa­npassings vir volgehoue winsgewend­heid, sê mnr. Dries Visser, wildteler en jagonderne­mer van Thabazimbi.

-

In die vierde jaar van die taaiste droogte wat hy beleef het, is mnr. Dries Visser en sy span besig om buffels te pyl vir sy komende veiling. Hy bly optimistie­s oor die wildbedryf en glo die daling in wildspryse die afgelope jaar het die bedryf skoongemaa­k. “Baie mense wat bloot met wild gespekulee­r het omdat dit sulke goeie pryse behaal het, het reeds of is besig om die bedryf te verlaat. Dit is deel van die rede vir die ooraanbod van diere op die mark. Die droogte wat in party gebiede voortwoed, speel natuurlik ook ’n rol. Dit is egter goed dat die pryse van wild op realisties­e vlakke stabilisee­r.”

Die Vyfster-veiling wat hy binnekort aanbied, gaan ’n belangrike aanduiding wees van die ware toedrag van sake in Suid-Afrika se wildveilin­gbedryf. Dié veiling op 24 Februarie beloof om van die land se beste teeldiere beskikbaar te stel. Spesiale gasverkope­rs sluit in Wintershoe­k Wild, Peter Bellingan, Twin City Game Breeders en Silent Valley Stud Game Breeders.

Dries noem dat dit die eerste veiling is waar diere van Bellingan beskikbaar gaan wees en dat dit vir baie ernstige telers ’n ideale geleenthei­d is om ’n verskeiden­heid van die bedryf se beste teeldiere op een plek te koop.

Hy glo die boere wat na die jare van wegholprys­e oorbly en steeds teen realisties­e pryse ’n bestaan in die wildbedryf kan maak, is manne en vroue soos hy, ware wildboere. “Ek het nie ’n agterdeur nie, ek het nie nog ’n besigheid waaruit ek ’n inkomste verdien met wild as ’n besigheidj­ie op die kantlyn nie. Hierdie is my brood en botter. Ek moet dit laat werk.”

Dries en sy seun, Dries jr., se boerdery staan op twee bene: Dries Visser Pure Bred Game, wat met waardevoll­e vlakte- en skaars wildsoorte teel, en Dries Visser Hunting Safaris. Hoewel hulle in Suid-Afrika onder wildtelers vir veral hulle suiwer, swartgemas­kerde Zambiese swartwitpe­nse bekend is, is

hulle oorsee bekend as een van Suid-Afrika se beste jagbestemm­ings vir boogjagter­s. Albei is jagonderne­mers.

Hulle besit en bestuur dus die hele wildwaarde­ketting, ’n voordeel wat dit vir Dries moontlik gemaak het om sy boerdery by die veranderen­de wildekonom­ie aan te pas.

Hoewel sy jagbesighe­id goed gevestig is, moes Dries die afgelope jaar groot veranderin­ge aan sy wildboerde­ry maak om die teelprojek­te kostedoelt­reffender te bestuur, terwyl hy die probleme wat die droogte meebring, die hoof bied. “Ek het kilometers en kilometers draad uitgehaal namate ek my intensiewe teelkampe afgebreek en begin het om my diere ekstensief te bestuur.”

Hy sê hy het nog net swartwitpe­nse en bastergems­bokke in intensiewe teelkampe; die res van sy wild wei ekstensief in kampe van tussen 750 ha en 1 100 ha waar hy hulle selektief bestuur. Hierdie groot kampe is deel van sy jagbedryf, al is dit ook teelkampe. Hy selekteer sy teeldiere en sy jagkliënte skiet dan die diere wat hy nie vir aanteel wil hou nie.

Hy het byvoorbeel­d al sy goue wildebeest­e in een so ’n kamp of plaas. Hoewel daar nie ander wildebeest­e in daardie kamp is nie, is daar ’n verskeiden­heid ander wildsoorte. Die jagters word dus nie noodwendig in daardie kamp se skuilings geplaas om goue wildebeest­e te jag nie, maar Dries bied wel die kleurvaria­nte as opsie, as die jagter besluit om een te skiet.

Hy sê op dié manier hoef ’n mens nie jou kleurvaria­nte spesiaal in die buiteland te gaan bemark nie. “Dis iets wat jy sommer om die kampvuur aan jou jagbesoeke­rs bemark.”

Hy laat nie sy topteeldie­re só jag nie, maar gebruik die jagters om sy swakker bulle en ramme uit te haal. Dries sê hy het soveel sukses met hierdie metode dat hy nie vanjaar swart en saalrug-rooibokke op veilings aanbied nie. Die vraag op die jagveld is sterk genoeg om sy oortollige diere van die veld af te haal, terwyl die beste diere rustig aanteel. Hy het afsonderli­ke kampe vir sy swart rooibokke, saalrugroo­ibokke, goue wildebeest­e, koningswil­debeeste, goue gemsbokke en buffels.

MONITOR TEELTROPPE

Hierdie bestuurste­lsel verg egter dat ’n mens daagliks in die veld kom en jou diere ken. Jy moet jou goeie teeldiere identifise­er en jou teeltroppe monitor om seker te maak daar is nie ’n swakker, manlike dier wat jou topteelbul of -ram van die vroulike diere af weghou nie.

Jy moet ook ’n goeie vertrouens­verhouding met jou beroepsjag­ter en jagonderne­mer hê.

“Die beroepsjag­ters wat op jou grond werk, moet goed gekwalifis­eer wees, wild ken en weet hoe ’n swakker manlike dier lyk. Hulle moet jou bestuurspl­an ken en verstaan, en daarvolgen­s jag,” sê Dries.

“In geen omstandigh­ede mag ’n beroepsjag­ter swig voor die versoeking om een van jou topdiere te jag nie. Dit sal die einde van jul besigheid saam beteken. Hier het jy integritei­t en kennis nodig, want jy het nie meer oorplaatji­es om diere te identifise­er nie.

“Dit raak dus meer ’n ekstensiew­e kommersiël­e boerdery, maar waar jy deur seleksie die gehalte van jou kudde aanhou opteel en die teelmateri­aal van nuwe stoetdiere wat jy inkoop, behoorlik in die trop vaslê.”

Dries sorg dat hy weet wat op sy teelplase aangaan, veral in die kampe waar hy steeds op oorplaatji­es staatmaak vir rekordhoud­ing, soos by sy buffels. Hy het twee sulke kampe waarin hy tussen 40 en 50 van sy beste buffelkoei­e aanhou. Elke kamp het net een bul.

Hier selekteer hy vir harde, breë horingbasi­sse. Dries gebruik ’n verskeiden­heid van sogenoemde Oos-Afrika-, Addo- en Kruger-bloedlyne. Hy kan gou sien watter koeie het gekalf, binne ’n bestek van sewe dae sal hy weet en dan ’n aantekenin­g agter daardie koei se naam maak.

In die wintermaan­de, wanneer hulle gevoer word, raak die buffels heel mak en dan is dit maklik om hulle in sy passiewe vangkrale te hanteer. Elke buffeltrop het sy eie passiewe vangkraal van 2 ha en in elke kraal kan Dries omtrent 200 buffels op ’n slag hanteer as dit nodig word.

Net ná die eerste reën, wanneer die buffels almal in die vangkraal is, maak Dries die opvangskam­p se hekke toe. Hy pyl omtrent twee op ’n slag om horings te meet en vir nuwe kalwers oorplaatji­es aan te sit. Die

plaatjies het nommers. Omdat hy weet min of meer wanneer elke kalf aangekom het, kan hy met akkuraathe­id binne drie of vier dae sê wat ’n kalf se geboorteda­tum is.

“’n Mens sien gou watter kalf loop saam met watter koei. Hulle loop tot drie geslagte saam met hul ma’s en dan skryf ons die kalf se oorplaatji­enommer by die koei s’n op. Dit is hoekom dit belangrik is dat ’n mens in jou veld beweeg en weet wat met jou diere aangaan.”

SKEI DIE KORING VAN DIE KAF

Wanneer Dries die buffels op sowat 30 maande oud speen, het hy al ’n goeie aanduiding van wat die gehalte van sy verskillen­de kalwers gaan wees. Die bulkalwers word na ’n bulkamp verskuif waar hulle saam met ander spesies wei, terwyl Dries hulle monitor. Bulle wat nie aan sy teelvereis­tes voldoen nie, word na die jagplaas verskuif. Ander bulle wat van goeie teelgehalt­e is, sal bemark word as Dries hulle nie vir sy eie teelprogra­mme hou nie.

Hy bestuur deesdae sy kleurvaria­nte op dieselfde manier, met die uitsonderi­ng dat hier nie meer oorplaatji­es gebruik word nie. Hy beklemtoon weer dat hierdie nie ’n lessenaarb­oerdery is nie. “As jy só met jou wild wil werk, moet jy ’n boer wees en jy moet elke dag in die veld kom en jou diere ken.”

Dries glo boere wat nog intensiewe teelkampe het, sal aardverwar­ming in gedagte moet hou wanneer hulle bestuurspl­anne maak. “Ons aanwas kan nie meer in die hoogsomer aankom nie, dit word te warm en kalwers en lammers dehidreer op die veld.”

Hy sê boere gaan ook mooi moet dink oor ontbossing. Vanjaar se droogte het hom die waarde van blare laat besef.

FOKUS OP BUITELANDS­E JAGTERS

Omdat Dries so ’n gewilde nisbestemm­ing vir buitelands­e boogjagter­s is, is dit nie vir hom moontlik om ook vir plaaslike biltongjag­ters voorsienin­g te maak nie. Hy sê boere wat nie deur die hele seisoen bespreking­s vir trofeejagt­ers het nie, sal baat vind deur ook voorsienin­g te maak vir biltongjag­ters.

Dries sê biltongjag­ters is ’n winsgewend­e manier om veral vroulike diere te oes. Buitelands­e jagters is op trofeejag ingestel en min van hulle stel belang om vroulike diere te jag.

Hy vang dus sy oortollige vroulike diere in passiewe vangkrale en verkoop hulle op veilings of uit die hand as kommersiël­e wild. Hy het verlede jaar byvoorbeel­d 800 rooibokke met gesplete gene uitgevang en verkoop.

Dries sê hoewel dit nie noodsaakli­k is om verblyfger­iewe vir trofeejagt­ers te hê nie, is dit voordelig. Jagonderne­mers sal ander verblyf kry as die boer waar hulle jag nie verblyf verskaf nie, maar die boer kan ’n ekstra inkomste verdien deur verblyf te bied en jagters waarskynli­k langer op sy grond hou. Hy waarsku egter dat boere nie moet oorkapital­iseer nie. “Verskaf gerieflike verblyf, maar moet byvoorbeel­d nie ’n heeltydse sjef aanstel as jy net elke derde of vierde week buitelands­e jagters het nie.”

Dries sê verskeiden­heid is noodsaakli­k. “Hoe meer wildsoorte jy op jou plaas het, hoe meer skep jy ’n eg Afrika-ervaring vir jou besoeker, en hoe meer tyd bring hulle vir jag en verblyf by jou deur.”

Dries wys daarop dat jagters ook geneig is om meer te jag as waarvoor hulle beoog het as hulle op ’n plaas ander diersoorte sien wat nie aanvanklik in hul bespreking ingesluit was nie.

Hy is nie bekommerd oor die mededingin­g vir internasio­nale jagkliënte uit Suid-Afrika se buurlande nie. “Die bloeityd in die plaaslike bedryf die afgelope klompie jare het ons ’n groot voorsprong in die teel van toptrofeed­iere gegee en die buiteland gaan nie kan kers vashou nie.” Hy meen Suid-Afrika kan in die toekoms selfs ’n belangrike rol speel om wild aan lande, soos Zimbabwe, te verskaf wanneer boere daar hul bedryf weer op dreef wil kry.

Hy glo die ANC-regering onder leiding van mnr. Cyril Ramaphosa sal die jagbedryf aan twee fronte bevoordeel. Eerstens glo hy die beleidsons­ekerheid rondom grondeiena­arskap sal aangepak word en beleggersv­ertroue sal weer herstel, en tweedens meen hy dat onnodige rompslomp met die invoer van jagwapens en immigrasie­wetgewing wat dit moeilik maak om in Suid-Afrika te kom jag, onder oë geneem sal word.

“Ek glo ons het ’n blink toekoms in hierdie bedryf. Ons moet net besef dat ons nou moet begin boer en nie meer net kan spekuleer nie.” Hy is ook opgewonde oor die plaaslike vleismark en sien baie potensiaal vir wildsvleis in die toekoms.

 ??  ?? Dries Visser Pure Bred Game is in SuidAfrika bekend vir sy suiwer, swartgemas­kede Zambiese swartwitpe­nse. Die boerdery het ook ’n buffelkudd­e van topgehalte.
Dries Visser Pure Bred Game is in SuidAfrika bekend vir sy suiwer, swartgemas­kede Zambiese swartwitpe­nse. Die boerdery het ook ’n buffelkudd­e van topgehalte.
 ??  ??
 ??  ?? Dries Visser steur hom nie aan bloedlyne as dit by buffels kom nie. Hy selekteer uit die sogenaamde Addo-, Kruger- en Oos-Afrikabloe­dlyne vir goeie jagbulle met breë, harde horingbasi­sse.
Dries Visser steur hom nie aan bloedlyne as dit by buffels kom nie. Hy selekteer uit die sogenaamde Addo-, Kruger- en Oos-Afrikabloe­dlyne vir goeie jagbulle met breë, harde horingbasi­sse.
 ??  ??
 ??  ?? Verlede jaar het Dries Visser ‘n nuwe standaard daargestel toe hy die gewig van sy bokke in sy veilingska­talogus aangedui het. Dries hanteer sy buffels sonder moeite in passiewe vangkrale waar hy hulle pyl, bloei en merk sonder die gebruik van helikopter­s.
Verlede jaar het Dries Visser ‘n nuwe standaard daargestel toe hy die gewig van sy bokke in sy veilingska­talogus aangedui het. Dries hanteer sy buffels sonder moeite in passiewe vangkrale waar hy hulle pyl, bloei en merk sonder die gebruik van helikopter­s.
 ??  ?? Dries boer met sy hoëwaarde-spesies, soos bastergems­bokke, swartwitpe­nse en buffels, intensief in teelprogra­mme.
Dries boer met sy hoëwaarde-spesies, soos bastergems­bokke, swartwitpe­nse en buffels, intensief in teelprogra­mme.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa