Koring: Só kan bedryf gered word
Lae wêreldpryse en die droogte maak koringkultivars wat selfs in moeilike toestande hoë opbrengste lewer, dringend noodsaaklik. Die koringbedryf se omkeerstrategie voorsien meer geld om opbrengsgerigte teling aan te moedig, maar daar is beperkings.
Die toenemende druk wat SuidAfrikaanse koringboere ervaar om bloot te oorleef, laat hulle vrae vra oor die regverdigheid van sekere aftrekkings en hoe gou hulle resultate kan verwag van die omkeerstrategie vir die koringbedryf.
’n Boer, wat anoniem wil bly, het bereken dat hulle sowat R1 000 aan aftrekkings, statutêre heffings en verbeurde inkomste afstaan omdat die prys op Safex laer as invoerpariteit is ( sien die TABEL ). Dit is afgesien van die koste van produksiemiddele, soos kunsmis, brandstof en landbouchemiese middels.
Aangesien die Suid-Afrikaanse prys ’n afgeleide van wêreldmarkpryse is en enorme voorraad en groot oeste die prys in dié stadium laag hou, kan hulle nie hoop om hulp uit hierdie oord te kry nie. Wat hulle dringend nodig het, is koringkultivars wat aansienlik hoër opbrengste kan lewer – minstens 25% hoër, sê die boer.
Twee droë jare in die afgelope drie jaar en ’n prys wat 15% laer as in die vorige jaar is, het koringboere in ’n oorlewingstryd geplaas. In die noordelike Swartland het oeste verlede jaar gewissel van niks tot 1,5 t/ha. Daarmee gaan boere groot verliese ly.
NUWE KULTIVARS VIR OORLEWING
Mnr. Andries Theron, voorsitter van die Suid-Afrikaanse agentskap vir kultivar- en tegnologie-ontwikkeling (Sacta) wat ook by Moorreesburg boer, sê die daling in die winsgewendheid van koring gaan veroorsaak dat baie boere die bedryf verlaat. “In 2000 was ons 4 000. Ek wonder of daar 1 200 oor is.”
Hy besef dat almal meer moet doen met minder en dat hulle nie veel aan die prys kan doen nie. “Die enigste manier hoe ons markkragte in die Kaap kan verander, is met ’n ander markkrag, maar ons boere is nie meer in ’n posisie om ’n Kaap Graan te begin nie. Ons het nie geld nie.
“Al wat oorbly, is om die volume koring wat ons oes, met hoër opbrengste sodanig te vermeerder dat ons kan oorleef.”
Sacta is gestig omdat navorsing nie voorrang geniet by die Regering nie. Boere betaal ’n heffing van R25 per ton sedert die totstandkoming van Sacta in September 2016. Daarmee hoop hulle om meer geld vir kultivarteling beskikbaar te stel, maar net as saadtelers die gewenste resultate kry, sê Andries. “Suksesvolle kultivars wat markaandeel gee, gaan hul inkomste bepaal, nie ander oorwegings nie.”
Andries sê Sacta is ’n nie-winsgewende instelling met direkteure wat nie vergoeding ontvang nie. Behalwe hy, dr. Marinda Visser van Graan SA, dr. Lukeshni Chetty en mnr. Gert Heyns van die Suid-Afrikaanse Nasionale Saadorganisasie (Sansor) en me. Mariana Purnell van Agbiz Grain, is daar ook plek vir ’n verteenwoordiger van die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye of die Nasionale Landboubemarkingsraad (NLBR) wat moet toesien dat hulle doen wat hulle belowe het. Dié raad gaan eersdaags vergroot word as die oliesadebedrywe deel word van die proses.
Hy sê in die huidige situasie kan een party nie ’n ander oorheers nie.
In die 2016-’17-graanjaar het hulle sowat R40 miljoen aan koringtelers en R7 miljoen aan die Suid-Afrikaanse Instituut vir Garsteling (Sabbi) uitbetaal. Invorderings vir 2017-’18 vorder goed. Aangesien die heffing net vir twee jaar goedgekeur is, moet hulle voor einde Februarie weer aansoek doen. Hy sê daar is ’n risiko dat dit om politieke redes nie goedgekeur sal word nie. In so ’n geval sal koringboere ’n vrywillige heffing moet oorweeg.
Die geld word verdeel op grond van die markaandeel van die drie saadtelers. Markaandeel word op drie vlakke vasgestel. Die eerste is amptelike saadverkope van verskillende kultivars, soos geverifieer deur Sansor. Die tweede is deur ’n produsenteverklaring by die punt waar die koring ná die oes gelewer word. Laastens neem die Suid-Afrikaanse Graanlaboratorium ’n monster van elke vrag koring wat by ’n silo gelewer word vir gehalte-ontledings en kultivaridentifisering.
WINTERGRAANTRUST
Die statutêre heffing van R10 per ton wat boere jaarliks aan die Wintergraantrust moet betaal, word gebruik vir ontwikkeling, voorteling en om die Suid-Afrikaanse Graaninligtingsdiens (Sagis) en die Suid-Afrikaanse Graanlabora-
torium (SAGL) te finansier. Boere het min sê oor hoe die geld aangewend word en die helfte van die trustees word deur die Minister van Landbou, Bosbou en Visserye aangestel.
Tot 2016 moes die Wintergraantrust-heffing ook vir teling betaal, maar Andries sê in dié bedeling het teling aan die agterspeen gesuig. Boonop het die meulenaars en bakkers die botoon gevoer en net kultivars toegelaat wat tot húl voordeel was.
In die vorige bedeling het hulle hoogstens R9 miljoen aan alle telers gegee. Daarvan het die Landbounavorsingsraad se Instituut vir Kleingraangewasse gewoonlik die grootste deel gekry. Die stelsel het egter nie voorsiening gemaak vir prestasiemeting nie.
“Ek dink ons proses gaan beter wees. Die teler wat presteer en kultivars lewer, kry die inkomste,” sê Andries.
Op ’n vraag oor watter verwagtinge en sperdatums aan die telers gestel is, het hy gesê dit is moeilik, want teling is ’n lang proses. Ná drie jaar moet daar egter darem al resultate wees. “Ons moet ’n bietjie tyd gee. Baie van die telers het kultivars in hul koelkamers en skure wat in die vorige bedeling nie die paal gehaal het nie, maar wat dalk nou verder ontwikkel kan word.
“Ons het baie duidelik vir hulle gesê ons soek kultivars wat 5-10% beter vaar as bestaande kultivars.”
NIE SO MAKLIK
Die verwagting is dat hulle in tegnologie sal belê om kultivars te ontwikkel wat ’n groter opbrengspotensiaal het, sê dr. Francois Koekemoer, hoof van navorsing en ontwikkeling by Sensako, een van drie koringsaadteelmaatskappye in Suid-Afrika.
Opbrengspotensiaal kan egter nie onbeperk verhoog word nie, want die omgewing in Suid-Afrika, en veral in die Wes-Kaap, beperk dit wat kultivars kan lewer. “In die geval van droogte is daar geen kultivar wat kan groei as dit nie water kry nie.”
Boonop duur dit lank om ’n nuwe kultivar met ’n betekenisvolle hoër opbrengs te ontwikkel – iets wat hulle pas met SST 0166 in die Wes-Kaap reggekry het.
Hy sê dit is hoogs onwaarskynlik dat hulle ’n verhoging van 40% in opbrengs kan kry. “Miskien 15- 20%. As ons 15% kry, sal ek bly wees.”
In reaksie op die boer wat sê die opbrengsvermoë van koringkultivars moet 25% hoër wees, sê hy: “Ons gaan sukkel om daarby uit te kom, maar dit is nie onmoontlik nie.”
Die vordering wat hulle maak, hang af van die toekomstige klimaat, sê Francois. “Is die droogte wat ons verlede jaar ervaar het, ’n uitsonderlike geval, of is dit wat ons vorentoe gaan sien?”
Die nuwe finansieringsmodel is voordeliger as die oue, meen Francois. Hulle kry meer geld as in die vorige bedeling. Boonop word die toedeling gemaak volgens die markaandeel van elke saadteler.
In die Suid-Afrikaanse konteks, waar daar sowat twintig jaar lank net kultivars beskikbaar gestel is wat aan streng vrystellingsnorme vir maal- en bakgehalte voldoen het, is die vraag nou of telers hulle nog met sulke vereistes moet bemoei. “As ons gehalte heeltemal los, watter opbrengste kan ons kry?”
Die meeste van die kultivars wat nou beskikbaar gestel word, is ontwikkel in die tyd toe vrystellingsnorme gegeld het. Twee tot drie jaar sal nodig wees voor die kultivars wat net vir groter opbrengs ontwikkel is, beskikbaar gestel kan word.
Francois waarsku dat hulle nie bloot vir hoë opbrengs kan teel nie omdat sulke kultivars dikwels swak presteer as die toestande minder gunstig is. Kultivars moet dus ook oor opbrengsstabiliteit beskik, wat help dat hulle ook in moeilike toestande ’n stabiele opbrengs lewer. “Dit is soos die verskil tussen ’n resiesperd wat net op ’n baan kan hardloop en ’n Boerperd wat in die veld loop. Tussen dié uiterstes moet ons ’n balans vind.”
Hy sê hulle is beperk met die vordering wat in Suid-Afrika gemaak kan word omdat die tegnologie nie beskikbaar is nie. “Private teelprogramme, soos ons s’n, kan
in die toekoms hopelik meer bestee aan biotegnologie.”
Die res van die wêreld het baie vordering gemaak met teling en tegnologie wat kultivars kan karakteriseer en vasstel wat in hul agtergrond is. Suid-Afrika het betreklik agter geraak ten opsigte van dié tegnologie. “Omdat ons op so ’n klein skaal werk vergeleke met multinasionale maatskappye, is ons vordering stadiger. Ons hoop ons kan met die groter finansiering sulke tegnologie bekom of uitkontrakteer as dit te duur is om hier te dupliseer.”
Francois sê CenGen, ’n plaaslike biotegnologiemaatskappy op Worcester, doen fantastiese werk in hierdie verband, maar daar is sekere toerusting wat hy nie kan bekostig nie. Sensako gebruik ook biotegnologiemaatskappye in Australië en kon reeds deur hul ondersoeke vasstel dat SST 88, ’n kanniedoodkultivar in die Wes-Kaap, droogte op ’n sekere manier oorleef. Hulle is besig om dit te bestudeer om te kyk of hulle dit in ander kultivars kan inteel.
VORDERING MET TELING
Hoewel die afgelope produksiejaar volgens mnr. Driecus Lesch, Kaapse koringteler by Sensako, “droog, moeilik en wisselvallig” was, het die kultivar SST 0166 goed gevaar in die kultivarproewe. Proefresultate toon vier toetslyne wat betekenisvol beter as die Kaapse staatmaker, SST 88, gevaar het.
“Ons maak vordering met opbrengs. Die moeilikste is om lyne te kry wat op alle plekke oor jare goed presteer. Daar is lyne wat ’n uitstekende opbrengs lewer, maar ons kan dit nie net vir een of twee gebiede beskikbaar stel nie, want nuwe kultivars moet wyd aangepas wees om dit kommersieel te regverdig.”
Driecus sê op sommige plekke het kultivars met ’n kort groeityd, die nuwe kultivars SST 0166, SST 056 en SST 015, taamlik goed gepresteer. Elders kon die kultivars met ’n mediumlang groeityd, soos SST 00117, SST 0127, SST 0147 en SST 88, die laat reën benut en in sommige gebiede beter as die kultivars met ’n kort groeityd vaar. “Dit beklemtoon opnuut dat produsente ’n pakket van kultivars met verskillende groeitydperke moet plant om risiko te versprei.”
Wind het verlede jaar ook ’n groot invloed op opbrengste gehad. SST 0166 het uitgestaan as die Sensako-kultivar wat die wind (uitwaai) die beste deurstaan het.
Driecus sê Sensako streef na genetiese vordering ten opsigte van opbrengs in alle produksiegebiede, maar ook beter siekteweerstand teen blaar-, stam-, streep- en witroes.
Om beter kultivars so vinnig moontlik op die mark te kry, gebruik hulle moderne tegnologie by eksterne laboratoriums, soos CenGen, wat hulle help om DNS-merkergesteunde seleksie (MAS) te doen. Plante met verlangde gene wat só geïdentifiseer is, word dan in Sensako se dubbelhaploïede laboratorium op Napier “vasgevang” om suiwer lyne met beter siekteweerstand te verseker.
NAVRAE: Sensako, tel. 028 423 3313.