Hart tot hart
Ons kan altyd opnuut verbaas staan oor die natuur se tegniese wonders, soos ’n vliegie wat maar 4 mm lank is, weer vir ons kom wys.
Hierdie snaakse kalant is ’n vliegie – ons kan dit dadelik identifiseer omdat dit slegs een paar vlerkies het. Al die ander insekte met vlerke het twee paar (behalwe die een uitsondering van ’n insekparasiet van die orde Strepsiptera). Dié soort vliegie se habitat is eintlik tropies van aard – warm en vogtig – en eintlik meer in die laerliggende plantegroei, daar waar plantdele verrot. Dis dus verbasend dat ek hulle hier by ons in Namibië gesien het; dalk het dit te doen met die goeie reëntyd (somer 2017).
Hier kom hulle in die lemoenboord en op die grenadellaplant voor – waar ek hulle weke lank kon dophou. Dit lyk asof hulle saans in ’n kleinerige swerm versamel om te oornag.
Dit is nog nie heeltemal duidelik wat die eintlike doel van die oë op die steeltjies is nie. Dalk aap hulle springspinnekoppe na, wat voor op die gesig twee groot oë het. Sodoende word moontlike vyande afgeskrik.
Dit is verder besonders dat die voelers van die vliegies op die oogsteeltjies sit en nie in die middel van die kop nie. Die voelers (antennas) is tweeledig – dit lyk soos ’n haartjie op ’n bolvormige staandertjie.
INTERESSANTE GEEN
Dit blyk dat die wyfies mannetjies met ’n wye oogspan verkies bo diegene met ’n smaller een omdat hulle meer vrugbaar is en moontlik ’n geen besit (wat die wyfies nie het nie) wat manlike nageslag tot gevolg het. Dié geen kan dalk nog ’n belangrike rol in die wetenskap speel. Die mannetjies met die wyer oogspan wen ook gewoonlik as daar met ander mannetjies om wyfies meegeding word.
VLIEGTOERTJIES
Al die vlieë (van die orde Diptera of eenpaar- vlerkiges) is vlieg-akrobate ten spyte daarvan dat hulle slegs een paar vlerke het. Hoe kry hulle dit dan reg om so goed in die lug te kan beweeg?
Die antwoord lê in ’n klein apparaatjie wat die vliegies pleks van agterste vlerke ontwikkel het. Dié apparaatjie word die haltere genoem. Dit stabiliseer die vlieg se liggaam in die vlug terwyl dit vlieg. Die halteres (balanseerkolfies) kan in drie rigtings draai. Dit stel die vliegie in staat om vertikaal in die rondte draai, horisontaal in die rondte draai en ’n skuins rotasie (of so verstaan ek dit). Kyk gerus, alle vlieë het dit.
Nog ’n interessante verskynsel is dat hulle in die winter (droë tyd) in groot hoeveelhede versamel. As hulle bloot versamel, sit hulle langs mekaar, maar as hulle opeenhoop, sit hulle bo-op mekaar – somtyds sentimeters diep.
Hulle sit stil en beweeg nie baie rond nie. As hulle versteur word (byvoorbeeld as die blaar beweeg waarop hulle sit), vlieg hulle op, maar gaan sit gou-gou weer.
Dit wys jou, as jy iets snaaks sien, neem die tyd en kyk ordentlik daarna. Dit mag net die moeite werd wees.
Anka Eichhoff is ’n boervrou van die sentrale ooste van Namibië. Sy beoefen plant- en goggakunde as stokperdjie. In ’n bewusmakingsveldtog onder medeboere vertel sy in kort artikels oor wat sy in die veld raaksien, wat interessant, belangrik, giftig, mooi, merkwaardig of snaaks is. Sien www.kyffhauser.co.za/invertebrates BRONNE: Alex Dreyer en Hans en Cobie Feijen,
Remarkable Insects of South Africa deur Lambert Smith, Insects of South Africa deur Mike Picker, Charles Griffiths en Alan Weaving. INTERNETBRONNE: https:// en.wikipedia.org/wiki/Halteres https://www.revolvy. com/main/index.php?s=Stalk-eyed%20fly