Inspeksies: Wildvleis-uitvoer in gedrang
DIE onvermoë van die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye om middels te monitor wat deur die Europese Unie (EU) verbied word, kan Suid-Afrika binnekort sy mark vir wildsvleis daar kos.
Só sê me. Annette Steyn, die DA se skaduminister van landbou, bosbou en visserye. Suid-Afrika mag ook nie melk- en pluimveeprodukte na die EU uitvoer nie.
Die EU het Suid-Afrika sowat weke gelede in kennis gestel dat hy beoog om die land te verwyder van sy lys van lande met goedgekeurde planne om residu by intensiewe en ekstensiewe wild te monitor. Dit sal beteken dat die land nie volstruis-, krokodil- of wildsvleis na die EU kan uitvoer nie.
Hierdie uitsluiting gaan in werking tree sodra die gewysigde regulasies deur die EU gepubliseer is. Slegs besendings wat voor die publikasie van die uitsluiting versend is, sal tot die EU toegelaat word.
Landbouweekblad verneem dr. Mike Modisane, hoofdirekteur van diereproduksie en -gesondheid by die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye, het verlede Maandag na die EU vertrek om aan die kwessie aandag te gee.
RESIDUBEHEER
Suid-Afrika se nasionale plan vir die beheer van chemiese residu moet jaarliks deur die EU goedgekeur word. Dit is een van die vereistes vir die uitvoer van diereprodukte daarheen. Die doel van die residubeheerprogram is om te verifieer dat die bedrywe wat diereprodukte na Europa uitvoer, nie middels gebruik wat deur die EU verbied word nie.
Die EU verbied groeibevorderingsmiddels in diereproduksie. Dit sluit in anti-skildkliermidtwee
steroïede, resorsielsuurlaktone en beta-agoniste, wat dikwels in diereproduksiestelsels in Suid-Afrika gebruik word.
Die departement het verlede jaar self gesê die vernaamste rede waarom die land nie melk en pluimveeprodukte na die EU kan uitvoer nie, is omdat daar nie voldoen word aan die EUregulasies wat bepaal dat diere in geen produksiestadium blootgestel mag word aan middels wat in die EU verbode is nie.
OUDIT GEDOEN
Verlede Februarie het die Europese Kommissie se afdeling vir gesondheid en voedselveiligheid ’n oudit gedoen rakende
Suid-Afrika se residubeheer en residubesmetting by lewende diere en diereprodukte.
Die ouditverslag het tot die slotsom gekom dat ten spyte van voldoende beplanning, monsterneming en opvolgaktiwiteite ingevolge Suid-Afrika se moniteringsplan vir residu, is daar tekortkominge met die toepassing daarvan. Dit plaas die betroubaarheid van die residustatus onder verdenking.
Die departement het aan abattoirs wat deur die EU goedgekeur is, voorskrifte gestuur oor hoe monsters ingevolge die residumoniteringsplan geneem moet word. Ten spyte daarvan kon die departement nie in 2015 en 2016 die moniteringsplan toepas nie. Dit is omdat te min monsters geneem is of laboratoriums nie die monsters getoets het nie. Slegs 37% van die beoogde monsters vir ekstensiewe wild is in 2015 geneem. Die monsterneming vir die verskillende kommoditeite en weefsel het in 2016 tussen 67% en 90% van die teiken gewissel.
NIE BOERE SE SKULD
Die vraag oor waarom die EU nie Suid-Afrikaanse hoendervleis wil toelaat nie, het verlede jaar verskeie kere opgeduik toe hoenderstorting deur die EU in die Parlement bespreek is.
Steyn het gesê die departement het nooit genoem dat die residutoetsing die eintlike probleem is waarom die land nie na die EU kan uitvoer nie. “Ons moet ons huis in orde kry sodat daar niks is wat ons keer om uit te voer nie, want nou kan ons nie saamspeel op die vrye mark nie.”
Kommer bestaan dat bees- en skaapvleis ook in die toekoms in gedrang kan kom.
Sy hoop nie die blaam word op boere geplaas omdat hulle produkte gebruik wat in Suid-Afrika wettig is nie. “Die onus berus op die staat om die vlakke te monitor, maar hy het weer gewys hy kan nie prosedures vestig nie.”
Teen druktyd het die departement nog nie kommentaar gelewer nie.