Droogte wys daar’s wins in beskerming van opvangsgebiede!
Diep in die Baviaanskloof, op die laaste plaas voor jy die wildernisgebied van die westekant af binnery, word deesdae met roosmaryn, laventel en spekboom geboer en gewerk om die landskap en die vernielde waterstelsels te herstel. En dit word nie ten koste
Daar is dele van die droogteverteerde Karooveld wat hy wéét nooit sal herstel nie, sê mnr. Pieter Kruger van die plaas Zandvlakte in die Baviaanskloof. Hy wil hom egter nie slim hou oor ’n ander man se veld nie, voeg hy haastig by, want daar is ook afgetakelde gebiede op sy plaas. Dit is dié dat hy die soort oorbeweide veld wat in droogtetye “doodbrand”, kan herken.
Ons neem die bergpad op sy plaas na die afgetakelde gebiede. Pieter verduidelik: “Al langer as 20 jaar het géén bees, skaap of bok hier gewei nie. As ek toe maar geweet het wat ek vandag weet . . . Grond is die lewe op die plaas – as jy die grond doodmaak, is daar nie ’n toekoms nie.”
Vandag voel hy só ernstig oor bewaringsboerdery dat hy homself nie eens ’n boer wil noem nie. “Ek is ’n agri-ekoloog, ’n landbouer – een wat sáám met die natuur werk en nie in konflik daarmee nie.”
Altesaam 1 500 ha oorbeweide spekboomveld is herplant met sowat 4 miljoen spekboomsteggies om plantegroei en grondbedekking te herstel.
Deesdae sal jy nie ’n saailand, bok, bees óf skaap op sy plaas kry nie. Daar is wel roosmaryn- en laventellande, rehabiliteringswerk aan natuurlike veld, asook klipmandjies en betonstrukture om erosieskade aan die vloedvlakte en die Baviaanskloofrivier te help herstel.
Roosmaryn en laventel is nou sy landbougewas van voorkeur omdat dit nie ’n dorstige gewas is nie en dus die beste inpas by sy standpunt van natuurinklusiewe boerdery.
“My funksie as grondbesetter is veel groter as om net voedsel te lewer. Dit is onder meer om die water- en ekostelsels in stand te hou vir toekomstige geslagte. Dan glo ek het ek en my nageslag ’n langtermynverblyfreg op die grond.”
WATERSKEIDINGSJAAR
Pieter erken dit het ’n waterkrisis gekos om dié insig van bewaringsboerdery aan hom te openbaar. As jong, ywerige boer het hy met Angorabokke, Boerbokke, Merinoskape, beeste en volstruise, asook groentesaad op Zandvlakte, 6 500 ha groot, geboer.
’n Fontein op die buurplaas (hy het ’n serwituut vir die gebruik van dié fonteinwater) het jare lank genoeg water vir dié boerdery gelewer. In droogtetye was dit ’n bate, aangesien die Baviaanskloofrivier, wat deur Zandvlakte loop, niestandhoudend is.
In 1987 het dié fonteinslote egter opgedroog. Dit was die waterskeidingsjaar van Pieter se boerderybenadering.
“Ek het besef ek moet my boerderypraktyke aanpas sodat dit in balans met die omliggende natuur, temperatuur én reënvalsyfers kan kom; die natuur laat haar nie na jou boerderyagenda dwing nie.
“Maar om sáám met die natuur te be gin boer, is nie goed genoeg nie; ek moes ook aktief begin om afgetakelde boerderylandskappe, natuurlike veld én waterstelsels te herstel.”
Een van die eerste dinge wat hy gedoen het, was om in 1991 ’n keerwal aan die onderpunt van ’n alluviale waaier plat te stoot. (Die keerwal is in 1982 met behulp van staatsubsidies gebou om laaggeleë lande op die vloedvlakte op die buurplaas te beskerm.)
In leketaal is ’n alluviale waaier ’n breë “rotsbedding” aan die onderpunt van ’n bergkloof. Die energie van afloopwater uit die klowe word deur die klipperige alluviale waaiers gebreek waarna die water wyer uitsprei oor die rivier se vloedvlakte vóór dit by die rivier kom.
Die keerwal aan die onderpunt van die alluviale waaier wat Pieter platgestoot het, moes dien om die afloopwater uit die vloedvlakte, waar landerye gevestig was, te hou.
“Die afloopwater uit die alluviale waaier