Suiwel: ‘Aanvaar siklusse — daar’s hoop’
Uitstekende teelmateriaal, goeie bestuurspraktyke en ’n doelgerigte teelbeleid vorm die kern van dié Wes-Kaapse suiwelboer se sukses. Dat mnr. JK Basson van Swartwater, Darling, daarmee beslis in die kol is, blyk duidelik uit sy stoetery se prestasies.
In ’n bedryf wat dikwels die wind van voor kry, het mnr. JK Basson van Darling die buitengewone reggekry. Binne ’n dekade het hy twee keer die kroon gedra as Nasionale Meestersuiwelboer van die Jaar – ’n prestasie wat min hom kan nadoen. Tog sê dié nederige 48-jarige boer van die plaas Swartwater buite Darling gou hy is gelukkig om dié prestasies te kon behaal. “Daar is baie ander melkboere wat dit ook sou kon doen – en dalk nog beter boere as ek.”
Hoewel party melkboere soms half beswaard oor die bedryf is omdat produksiekoste en melkpryse nie tred hou met mekaar nie, is JK optimisties. “Ek is baie optimisties oor die landbou in Suid-Afrika in die algemeen, en veral die suiwelbedryf.”
“Die suiwelbedryf is ’n kontantvloeibedryf wat minder riskant is as enige droëland-kontantgewasbedryf. Laasgenoemde hou altyd ’n risiko in weens wisselvallige klimaatstoestande en reënval. Die suiwelbedryf produseer ’n noodsaaklike produk wat alle mense nodig het en gebruik; dus sal daar altyd ’n vraag wees na suiwelprodukte. Jy moet dit bloot aanvaar en daarmee saamleef dat daar altyd beter en swakker tye sal wees weens die verhouding tussen voorraad, lewering en verbruik. Dit is aspekte wat gedurig wissel.”
Benewens die twee nasionale titels – in 2007 en by verlede jaar se Agri Expo Live- stock op Sandringham buite Stellenbosch – het hy ook die Wes-Kaapse kroon in 2008, 2013 en 2016 gedra.
SELEKTEER VIR MEDIUMRAAMDIERE
Waar het alles vir dié topsuiwelboer begin?
JK vertel dat sy pa, wyle JK sr., in 1990, terwyl hy by die Landboukollege Elsenburg ingeskryf was, skielik ernstig siek geword het. Hy moes alles los om die plaas oor te neem. Vandag, 27 jaar en talle eerbewyse later, draai sy bestaan om die Holsteinstoetery wat sy pa begin het – Ocean Breeze-Holsteins.
“Ek was my hele lewe met die ras doenig en het ’n passie vir dié swart-en-wit beeste.” Sy pa het al in 1975 begin om Holsteins te melk. In 1978 is semen uit Amerika vir die eerste keer gebruik om koeie kunsmatig te insemineer. Die resultaat was gou sigbaar, naamlik ’n beter tipe koei met ’n groot raam, hoë vrugbaarheid en goeie melkproduksie.
“Vandag selekteer ons egter vir mediumraamdiere omdat dit meer ekonomies is – die korrelasie tussen liggaamsgewig en melkproduksie is ideaal, en melkproduksie word nie ingeboet nie.”
Destyds is die eerste semen uit Amerika deur mnr. Peter Pentz, ’n Holsteinteler van Darling, na Suid-Afrika gebring en dit vorm steeds die basislyn van die kudde. “Vandag koop ek steeds semen by dieselfde maatskappy, Pringle Export Genetics, wat semen uit Amerika van die wêreldbekende semenmaatskappy, Select Science, verskaf.”
VIER KOEIHUISE
Ocean Breeze-Holsteins bestaan vandag uit 2 200 vroulike diere waarvan 950 koeie heeltyd in melk is. Hulle wei nie op natuurlike weiding nie en word onderdak in vier koei-
huise gehuisves op ’n volvoerstelsel.
Die eerste drie koeihuise – wat tussen 2002 en 2004 gebou is – huisves elkeen 222 koeie. “Die vierde koeihuis, wat in 2014 gebou is en
waarin kunsmatige inseminasie (KI) gedoen word, huisves 260 diere.”
Melkproduksie het dadelik aansienlik verbeter met die inbring van die