Minister mág waterbronne tydelik onteien
‘Water vir menslike gebruik geniet uiteraard voorrang in ernstige droogtetoestande.’
Regering het wel die reg om eiendom – soos waterregte – tydelik te onteien tydens ’n noodsituasie, maar dit is ’n uiters ingrypende maatreël wat selfs dan as ’n heel laaste uitweg oorweeg moet word.
Só sê mnr. Janse Rabie, hoof van natuurlike hulpbronne by Agri SA, nadat me. Nomvula Mokonyane, Minister van Water en Sanitasie, by die Parlement gesê het haar departement oorweeg dit om die lisensievoorwaardes vir damme in private besit te hersien om te verseker dat water vir menslike gebruik voorrang geniet.
Die droogte is enkele dae ná Mokonyane se aankondiging tot ’n nasionale ramp verklaar. Die Regering het reeds aangedui dat hy na die moontlikheid kyk om waterbronne, soos damme en natuurlike fonteine, op private grond te onteien.
WETTE
Die Onteieningswet (Wet 63 van 1975) maak voorsiening daarvoor dat die Regering in tye van rampe “dringende onteiening” kan toepas. Hy het die reg om die eiendom wat hy benodig, tydelik te onteien vir nie langer as 12 maande nie.
Die Nasionale Waterwet (Wet 36 van 1998) bepaal dat die Minister die reg het om enige private eiendom te onteien vir ’n openbadels, re doel of in die openbare belang. Dié reg van die minister mag egter net met die uiterste omsigtigheid uitgeoefen word, met inagnemening van die Grondwet (wat die hoogste gesag in Suid-Afrika is) en die Onteieningswet, sê Rabie.
Mokonyane het op ’n mediakonferensie by die Parlement gesê die landbousektor besit die meeste – ’n totaal van 4 030 – van die 5 125 geregistreerde damme in Suid-Afrika.
Die Departement van Water en Sanitasie besit slegs 323 damme, 66 damme behoort aan ander staatsdepartemente, 318 behoort aan munisipaliteite, 336 word deur die mynbou en nywerhede besit en die res deur waterrade of is balanseerdamme.
Mokonyane het benadruk dat Suid-Afrika nie meer damme vir ’n spesifieke doel kan hê nie, want “dit maak nie sin nie”.
“Ek is seker julle ken ZZ2 in Limpopo. Die damme in die gebied is spesifiek vir ZZ2 se produksie van tamaties opgerig.”
Sy het ook verwys na die Jozinidam in KwaZulu-Natal wat opgerig is vir die besproeiing van suikerplantasies, maar die mense wat daar woon, het nie toegang tot
die dam se water nie.
“Die lisensievoorwaardes vir die benutting van die dam moet hersien word sodat ons ’n grondwetlike verpligting rakende watervoorsiening kan vervul.”
Sy het bygevoeg daar sal binne die grondwetlike reëls opgetree word en verseker word dat die voorgestelde maatreëls nie voedselsekerheid nadelig raak nie.
BOERE HELP REEDS
Rabie sê water vir menslike gebruik geniet uiteraard voorrang in ernstige droogtetoestande, soos wat tans in die Wes-Kaap en dele van die Noord- en Oos-Kaap heers. Voorts is water ’n nasionale hulpbron wat aan ál die inwoners van Suid-Afrika behoort. Die Regering het deur middel van die minister die oorhoofse verantwoordelikheid vir en gesag oor die land se waterhulpbronne.
Agri SA en sy lede is nou betrokke by die departement en ander relevante provinsiale en plaaslike regeringsinstansies se maatreëls om die huidige droogte te oorkom.
“Boere in die Grabouw-Elgin-omgewing in die Wes-Kaap het reeds getoon dat waar dit prakties moontlik is om water in die watervoorsieningstelsel vry te laat, hulle bereid is om vrywillig met die Regering saam te werk in die algemene belang,” sê Rabie.