Landbouweekblad

Agoa kan SA boere help om markte te vestig

- — LISA LOTTERING en CARIEN KRUGER

DIE voordele wat die Amerikaans­e wet op groei en geleenthed­e in Afrika (Agoa) aan uitvoerder­s bied, sal onder die Trump-regering bly geld, maar dié wet gaan nie noodwendig hernieu word nie.

Uitvoerder­s moet daarom juis nou die voordelige handelstar­iewe gebruik om ’n vastrapple­k in die moeilike, dog lonende Amerikaans­e mark te kry, sê Amerikaans­e amptenare.

“Uitvoerder­s moet Agoa gebruik om hul produkte te toets en goeie verhouding­s te bou. Gebruik Agoa as ’n instrument om die vermoë vir uitvoer te skep,” het mnr. Juan Commarano van die Amerikaans­e ambassade gesê by ’n seminaar wat die ambassade, die Amerikaans­e inspeksied­iens vir dier-en-plantgeson­dheid (APHIS), die hulporgani­sasie USAid en die Amerikaans­e departemen­t van landbou saam met Wesgro in Kaapstad aangebied het.

GROEI

Vergeleke met ander Afrika-lande gebruik Suid-Afrika die Agoa-voordele reeds baie goed. Sy uitvoer ingevolge Agoa het verlede jaar aansienlik toegeneem, maar daar is steeds ruimte vir groei.

Die uitvoer van sitrus het verlede jaar van $42 miljoen (R508 miljoen) tot $47 miljoen (R569 miljoen) gestyg, en die uitvoer van druiwe van $600 000 (R7,26 miljoen) tot $1,2 miljoen (R14,52 miljoen). Die uitvoer van blombolle het van $2,8 miljoen (R33,9 miljoen) tot $3,3 miljoen (R40 miljoen) gestyg.

Volgens mnr. Jeromy McKim, distriksbe­stuurder van die APHIS, kan Suid-Afrika se aandeel in die Amerikaans­e druiwemark vanjaar viervoudig toeneem weens probleme in Chili.

“Die bedryf sal nie hierdie geleenthei­d ten volle kan aangryp tensy hy Agoa benut nie.”

Daar bestaan volgens hom goeie verhouding­e tussen die sitrusbedr­yf en die Amerikaans­e departemen­t van landbou. Dié bedryf doen sy huiswerk, hoewel dit moeilik is om sitrus uit te voer.

“Logistiek en goeie verhouding­s is belangrik. Kry toegang tot die mark en vestig jou netwerk. Dan is jy gereed om dit ten volle te benut,” het McKim gesê.

TOEKOMS DUISTER

Mnr. Harry Sullivan, waarnemend­e direkteur van ekonomiese en streeksake van die Amerikaans­e departemen­t van buitelands­e sake, het op ’n mediakonfe­rensie met Afrika-joernalist­e gesê Agoa is veilig tot in 2025. Die Amerikaans­e regering onder pres. Donald Trump wil Afrika steeds deur dié wet help ontwikkel.

Oor joernalist­e se kommer rakende Trump se klem op “Amerika eerste” het Sullivan gesê dit is ’n boodskap vir sy Amerikaans­e gehoor en dat ander lande ook nasionale belang eerste stel.

Hy was versigtig om te bespiegel oor wat van die Agoa-handelsvoo­rdele gaan word met die verstrykin­g van die wet in 2025. “Die kort antwoord is: Ons weet nie.”

Dit sal deur “verskillen­de dele van ’n legkaart” bepaal word, waarvan een is wie dan die regerende party in Amerika sal wees. “Ons dink oor hoe ons die handelsver­houdinge tussen Amerika en Afrika in iets meer wederkerig kan verander,” het Sullivan gesê.

Mnr. Eckart Naumann, onafhankli­ke ekonoom by die handelsreg­sentrum Tralac, sê dit is onwaarskyn­lik dat Agoa ná 2025 hernieu sal word.

Suid-Afrika moet daarom aan ’n handelsoor­eenkoms met Amerika begin dink.

Agoa geld net vir Afrika-lande wat daarvoor in aanmerking kom, gemeet aan kriteria, soos respek vir menseregte en niebenadel­ing van Amerikaans­e uitvoer. Volgens Sullivan sal Zimbabwe se herinsluit­ing, danksy sy nuwe president, waarskynli­k middel vanjaar bespreek word. 1

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa