Staatsgeld en die landbou
Almal gaan haarfyn na die begrotingsrede luister – van die kredietagentskappe met die oog op ’n moontlike afgradering vir Suid-Afrika tot die landbou wat baie spesifieke probleme die hoof probeer bied.
Die nasionale begrotingsrede vir 2018 sal een van Suid-Afrika se belangrikstes in die geskiedenis wees. Populistiese beleidsrigtings sal teenoor ekonomiese werklikhede opgeweeg word.
Kredietagentskappe sal die uitkoms van die begrotingsrede evalueer. As Suid-Afrika afgegradeer word, kan sy staatseffekte buite die vereistes van die Wêreldbond-indeks val. Dit sal lei tot ’n eksodus van buitelandse beleggings wat met ’n verswakking van die rand gepaard kan gaan. Ekonomiese werklikhede weeg swaarder as ’n land se politieke omstandighede, want politieke omstandighede kan makliker verander as byvoorbeeld ekonomiese groei en werkloosheid.
Ondanks Suid-Afrika se probleme om korrupsie aan die kaak te stel, vaar die land nie oral sleg nie. In die Open Budget Index Ratings vir 2017 is Suid-Afrika tweede ná Nieu-Seeland geplaas betreffende begrotingsinligting wat aan die publiek gegee word (sien TABEL 1 ). Suid-Afrika presteer beter as die meeste lande ter wêreld ten opsigte van die omvang van die inligting wat die Regering aan die publiek beskikbaar stel en boonop kry die publiek daardie inligting tydig.
Suid-Afrika se hoë punt dui aan die Nasionale Tesourie lê die regte grondslag om die land se ekonomiese werklikhede te takel. Die grootste probleem is om seker te maak die geoormerkte begroting en toedeling word doeltreffend toegepas deur diegene wat aangestel is om dit namens Jan Publiek uit te voer.
Watter insig het jy in die toepassing van die begroting wat openbaar gemaak word? Is dit ’n staande punt op die sakelys van die plaaslike boerevereniging, produsente-organisasie, kommoditeitsforums en waar jy by die munispaliteit ’n bydrae lewer?
Die optimale en doeltreffende gebruik van begrotingsgeld moet gemonitor word. Daar behoort eintlik jaarliks ’n midtermynbegrotingsrede te wees wat aandui wat die landbou se grootste behoeftes is. Die aanwending en toedeling van geld vir die landbou op provinsiale vlak moet ook naspeurbaar wees.
GELD VIR LANDBOU
TABEL 2 dui aan hoeveel die Regering in elke provinsie bestee gemeet aan daardie provinsie se bydrae tot ekonomiese groei.
Die Wes-Kaap, te midde van ’n fel droogte, behoort groter ondersteuning te geniet vanweë die belangrike bydrae wat die provinsie tot ekonomiese groei lewer. Begrotingsgeld behoort toegedeel te word presies waar die hoogste opbrengs op kapitaal behaal word, of waar die grootste bydrae tot die ekonomie gelewer word. Provinsies wat nie ’n groot bydrae lewer nie, moet ondersteun word om ’n groter ekonomiese bydrae te lewer.
Daar behoort groter deursigtigheid te wees waar die toegedeelde regeringsgeld op voetsoolvlak gebruik word. Ek is bevrees Suid-Afrika sal nie op hierdie vlak ’n internasionale tweede plek vir elke provinsie behaal nie.
Die landbou ondervind reeds dat die doeltreffende benutting van staatsgeld vir die landbou bevraagteken word. Buiten die optimale besteding van geld ten opsigte van grondhervorming sluit dit onder meer ook die volgende praktiese aspekte in. Die onafhanklike bevestiging van die beplante hektare onder graan en oliesade. Die opsporing van voëlgriep deur waarnemingsprogramme. Volgens statistieke het voëlgriep reeds ’n nadelige uitwerking op pluimveegetalle in die voorafgaande jaar gehad. Die voorkoming van dieresiektes en die instandhouding van die vermoë om voldoende entstowwe beskikbaar te hê. Dieopknappingeninstandhouding van besproeiingskemas om die verlies aan besproeiingswater te voorkom. Die ontwikkeling van kapasiteit sodat handelsooreenkomste vir Suid-Afrika suksesvol beding kan word. Elke landboubedryf kan verder op die lys uitbrei op aspekte waar staatsgeld ’n regstreekse impak op die bedryf se omset kan hê, naamlik die doeltreffende aanwending van die begroting vir die landbou op voetsoolvlak waar ekonomiese groei gestimuleer word.
Raak betrokke en sluit aan by georganiseerde landboustrukture waar jy ’n verskil kan maak in die doeltreffende aanwending van die landboubegroting. Ons moet streef na deursigtigheid in die toepassing van die begroting daar waar dit saak maak.
Die “Open Budget Index” is die wêreld se enigste onafhanklike vergelykende maatstaf waaraan die deursigtigheid van regerings se begrotings gemeet word.
Mnr. Wessel Lemmer is ’n senior landbou-ekonoom by Absa-Agribesigheid in Johannesburg.