Namibië
Die landbou in Namibië het goeie vooruitsigte. Wat daartoe bydra, is dat die kommunikasiekanale tussen die regering en die georganiseerde landbou oop is.
Daar is sekerlik geen land ter wêreld waar die landbousektor nie probleme het nie en boere nie ontevrede oor sommige aspekte van hul beroep is nie. Dit is ook die geval in Namibië, maar daar is tóg ’n optimistiese lewensbeskouing en boere voel hulle het ’n goeie landboutoekoms.
Landbouweekblad het met mnr. Roelie Venter, nuwe uitvoerende bestuurder van die Namibiese Landbou-unie (NLU), gesels enkele dae nadat hy in Januarie in dié warm stoel in Windhoek gaan sit het. Dit volg op die aftrede van mnr. Sakkie Coetzee, wat die pos 15 jaar lank beklee het.
Roelie sê die landbou in Namibië word deur verskeie probleme in die gesig gestaar, waarvan sommiges op kort termyn en ander op lang termyn is.
Die grootste probleem is om die Namibiese regering te oortuig dat ’n bemarkingsomgewing sonder beperkings op uitvoer die beste opsie op lang termyn vir die landbousektor is. Volgens gerugte wil die staat egter dieselfde beperkings op die uitvoer van speenkalwers plaas as wat al geruime tyd vir slagskape geld.
Voorheen kon kleinveeboere net een skaap uitvoer (groot- liks na Suid-Afrika) vir elke ses skape wat plaaslik geslag is. Toe die mees onlangse droogte sy tande ’n paar jaar gelede ingeslaan het, is dit verander sodat een skaap plaaslik geslag moet word vir elke skaap wat lewend uitgevoer word.
“Dié beleid het die afgelope sowat tien jaar ’n nadelige impak op die kleinveebedryf gehad en kleinveegetalle het gedaal. Die laer produksie van slaglammers het ook druk op skaapabattoirs geplaas, met die gevolg dat twee van die vier uitvoerabattoirs reeds moes toemaak. Dit gaan met minder inkomste vir die veeboere en groot werksverliese gepaard omdat skaapboerdery