DIE ANDER SÊ
HOEWEL mnr. Malusi Gigaba, Minister van Finansies, se begroting dalk genoeg gedoen het om die risiko van ’n verdere kredietafgradering af te weer, sal dié verligting waarskynlik van korte duur wees, aangesien daar geen aanduiding is van die ingrypende veranderinge in beleidsrigting wat Suid-Afrika nou nodig het nie, skryf dr. Frans Cronjé van die Instituut vir Rasseverhoudinge.
Dit laat die vraag ontstaan of pres. Cyril Ramaphosa sy politieke opmars in ekonomiese hervorming kan omskep. Wat in verlede week se begroting aangebied is, maak nie naastenby ’n oortuigende saak vir ekonomiese groei uit nie.
Die huidige groeiprojeksies is nie genoeg om op mediumtermyn werkskepping aan te help nie. Dit bring die risiko vir politieke onstabiliteit en stel ’n horison vir die Ramaphosa-wittebrood. Voorts is die Regering in ’n geheel en al onvolhoubare fiskale posisie.
Staatsbesteding verteenwoordig nou meer as 30% van die bruto binnelandse produk – ’n rekord. Selfs toe die ekonomie in die 1980’s rondom die Nasionale Party-regering in duie gestort het, het bestedingsvlakke net twee keer 26% oorskry.
Nóg Ramaphosa se “nuwe daeraad”-staatsrede, nóg die “taai, maar hoopvolle” begroting bring hoop om die begrotingstekort of die skuldtot-BBP-verhouding te tem.
Verder sal BTW en fiskale sleuring nog ’n swaarder las op huishoudings en verbruikers plaas, wat verbruikersbesteding sal demp en sodoende enige poging tot ekonomiese herstel sal ondermyn.