TYD VIR MOED SKEP?
Elke jaar wil ’n mens in die begrotingsrede meer van die landbou hoor. Vanjaar is dit darem as ’n kernbedryf in die Suid-Afrikaanse ekonomie erken, asof iemand uiteindelik die volle waarde van ons landboubedryf besef het. Miskien was dit die landbou se hulp verlede jaar om die land uit ’n resessie te kry of die felheid van een van die ergste droogtes nóg op sekere plekke. Êrens het die besef ingesink dat ons landbou een van die min goed is wat werklik in Suid-Afrika werk en van wêreldgehalte is.
Dalk het dit iets te doen met ons eerste boerepresident in dekades. Die verleiding om te swig voor pres. Cyril Ramaphosa se sjarme van vroegoggend stappies in Kaapstad en gewone mense se selfies saam met hom, is altyd daar. Dit is so ’n verligting ná die growwe selfsug van die Zuma-jare. Maar die ou wat sy hoop op ’n politikus gaan plaas, pluk ’n lat vir sy eie gat.
Ramaphosa sit met die probleem van onteiening sonder vergoeding. Dit is die bitter beker waarmee die Zuma-kamp hom saam met gratis hoër onderwys gelaat het. Hy is omring deur politieke adders en moet wys hy kan saampraat. Tog sê hy dit mag nie skade aan die ekonomie en voedselsekuriteit berokken nie. Ramaphosa weet dit is eenvoudig onmoontlik.
Intussen is honderde miljarde rande van die land gesteel. Daardie geld moet teruggekry word en die verantwoordelike blikskottels moet tronk toe. Niks minder sal goed genoeg wees om die skandvlek uit te vee dat belastingbetalers vir die gekheid moet betaal nie.
Die klein groepie belastingbetalers, en veral gewone salaristrekkers, het weer’ n goeie pak slae gekry. Terwyl’ n BTW-verhoging van 1 persentasiepunt miskien nie baie op ’n sakkie tamaties is nie, maak dit ’n groot verskil op ’n kapitaalbelegging van R80 miljoen. Dat ’n blatante stelery produktiewe kapitaal so moet striem, is onvergeeflik in ’n land wat ekonomiese groei so nodig het soos goeie reën.
Ramaphosa weet daar is reeds genoeg planne en kundigheid om grondhervorming uit te voer. Die landbou is immers sekerlik die vernuwendste sektor in die ekonomie. Die grootste struikelblok is egter die staat self.
As Ramaphosa wil sien hoe boere gevestig word, kan hy gerus ’n draai gaan maak by mnr. Dirk Louw, ’n bruin kommersiële boer van Grootdrink in die Noord-Kaap. Dit is ’n man wat ’n werklike bydrae tot die land lewer.
Die suksesresep? Dirk se wil om suksesvol te wees, die insette van ’n kommersiële produsent, soos mnr. André Smith, en die volharding van mnr. Tumi Thukubi, ’n amptenaar by die provinsiale departement van landbou wat regtig sy werk doen (lees eersdaags meer in Landbouweekblad). Soos hulle aanhou doen wat hulle moet doen, word vertroue gebou en kan die nodige moeilike besluite geneem word, terwyl nóg harder gewerk word. En die grondslag daarvan is die besproeiing s infrastruktuur wat die Hertz o g-regering in 1928 tot stand gebring het.
Woorde beteken niks nie – veral nie wanneer dit geuiter word deur die man wat die geplunder in ons staatsbeheerde maatskappye moontlik gemaak het nie.
Solank ons geld nie uitkom by ouens wat die land werklik vorentoe vat nie, soos Dirk, Andre en Tumi, en daar nie baie meer belê word in die infrastruktuur wat alles moontlik maak nie, beteken die begroting net mooi niks nie. Al laat Ramaphosa ook hoeveel selfies saam met hom neem. — CHRIS BURGESS