Landbouweekblad

VRAE OOR MIELIEMARK

- COIS MARÉ Sannieshof

Ek wil net ’n paar vrae laat by my medeboere wat aan die genade van die sogenaamde vrye mark oorgelaat is.

Hoe gebeur dit dat ’n maatskappy wat mielies koop en verkoop en klaarblykl­ik gelieg het oor 300 000 ton mielies wat nooit ingevoer is nie, ’n boete van ’n skamele R1,20 per ton opgelê word? ’n Volle R360 000. Dít boonop in 2015, een van die droogste jare nóg.

Ek sal graag wil weet wat die uitwerking daarvan op die mielieprys was en water uitwerking hierdie fopnuus, soos hulle deesdae sê, op ons as boere gehad het.

Wat keer die maatskappy om dit weer te doen en hoe weet ons dit het nie al telkemale gebeur in ons “vrye mark” nie?

Die Nasionale Oesskattin­gskomitee bel my die afgelope twee weke en vra my wat was my mielie-opbrengs per hektaar verlede jaar. Hoekom? Soek hy mielies op plase om by die 16,8 miljoen ton mielies uit te kom?

Jammer as ek geen vrae meer wil beantwoord nie, nie eens as my eie koöperasie my bel nie!

Ek lees in ’n onlangse Landbouwee­kblad dat die vervoerdif­ferensiaal op koring in die Wes-Kaap weer bespreek gaan word deur ál die betrokkene­s in die bedryf. Dit gebeur mos maar wanneer daar ’n tekort is en die meulenaar nie anders kan as om eintlik ’n premie vir die koring te betaal nie, want hy het sy bedingings­mag verloor.

Ek hoop hulle laat vaar die differensi­aal heeltemal, want dit was maar net ’n meganisme omboereuit­tebuit.Diemarkis nou ryp daarvoor nadat die mark volwasse geword het en self kan onderhande­l oor die vervoerdif­ferensiaal, word in LBW geskryf.

Die mark wat “volwasse” geword het, is die meulenaars en verskaffer­s wat besef hul boere kan nie meer die wa deur die drif trek as dit so aanhou nie. Dis al.

Plaaslik, in die ou Wes-Transvaal en elders, laai interlinks mielies by naburige meulenaars uit en word pryse betaal asof dit in Randfontei­n gelewer is. Ook waar silo’s gunstig geleë is vir vervoer na Namibië en Botswana, word die Randfontei­n-differensi­aal afgetrek, terwyl ons eintlik ’n premie vir ons produk moet kry. Dit is omdat daar ’n oorskot mielies is. Dan geld ander reëls. Soos ons kan sien, sodra daar ’n tekort is, kom die differensi­aal nie ter sprake nie.

So gebeur dit dat ek die kwessie ook op Graan SA-inligtings­dae ophaal.

Die antwoord is toe dat ek my eie mielieprys en differensi­aal met die betrokke partye moet beding. Deur ons te verdeel het ons beheer oor ons produk verloor en die “vrye mark” oor ons.

As daar uitvoergel­eenthede is, moet boere met gunstige liggings premies kry wat deur Graan SA of koöperasie­s gereël word.

My volgende vraag is: Kan die vrye mark papiermiel­ies eet? Hy gaan dalk moet leer. Ons kan nie mielies lewer teen die huidige prys nie. Ons moet 2 ton mielies verkoop om ’n sakkie saad te koop. Ek weet die mark gee nie om nie. Hy wil net die laaste oes vir die laaste keer goedkoop by ons vat.

Ek lees mos hoeka in LBW

ons gaan in 2019 mielies moet invoer. Hulle is doodreg. Dit is net ten koste van hardwerken­de boere. Die Regering en instansies is boere onsimpatie­k en demoralise­er ons net verder met politieke uitsprake.

My medeboere, wat nou gemaak? Ons het nie antwoorde nie en so ook nie die slimkoppe nie.

Uitvoerpar­iteit is sowat R1 500 per ton en invoerpari­teit sowat R2 800 vir mielies van swak gehalte by Randfontei­n gelewer. Gaan hulle regtig mielies invoer as ons op beter pryse aandring? Daar is baie ruimte tussen die twee. Ek vra maar net.

Ons lewer ’n goeie produk in uiters moeilike toestande. Ons verwag net ’n deursigtig­e mark en regverdige pryse.

Moenie dat die stert die hond rondswaai nie. Boere moet hul prys maak en nie skaam wees nie. Ons het te lank die mark geglo. Laat hy die mielies kom plant as hy so slim is.

As ek iemand te na gekom het, is ek bly.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa