GROEI: GIGABA STEUN SWAAR OP LANDBOU
DIE Regering se hoë verwagtinge dat die landbou sal voortgaan om ekonomiese groei te ontsluit, het opnuut in mnr. Malusi Gigaba, Minister van Finansies, se 2018-begroting deurgeskemer.
Bedryfskenners is egter nie oortuig dat die geld wat daaraan toegewys is, voldoende is nie (sien die berig hier onder).
Die begroting van die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye is vir die boekjaar 2018’19 net meer as R7 miljard.
Gigaba het aangekondig dat om die toegang van Suid-Afrikaanse landbouprodukte tot die wêreldwye mark te versterk, die departement ’n bykomende R40 miljoen op die mediumtermyn begroot het om infrastruktuur op te gradeer en om laboratoriums (by die Landbounavorsingsraad) toe te rus.
“Dit sal die vertroue aan sy wêreldhandelsvennote gee dat Suid-Afrikaanse landbouprodukte voldoen aan internasionaal erkende standaarde vir menslike veiligheid, wat ons vermoë om ongehinderd te kan uitvoer, sal aanhelp.”
Sowat R581,7 miljoen sal oor die volgende vyf jaar aan 450 swart kommersiële boere toegestaan word. “Deur kanse vir swart boere te skep word die landbousektor van ons ekono- mie radikaal getransformeer.”
LANDBOU WYS STAAL
Gigaba het beklemtoon dat Suid-Afrika dapper en gekoördineerd moet wees om sektore te bou waar hy ’n mededingende voordeel het en werklik van wêreldgehalte kan wees.
“Dié sektore sluit in die landbou, mynbou, toerisme, vervaardiging en uitvoerdienste na die res van Afrika en wêreldwyd. Die kanse is egter nie tot daardie sektore beperk nie,” het Gigaba gesê.
Die sterk groei in die landbou was gedurende die afgelope boekjaar die ligpunt te midde van swak ekonomiese groei, ’n resessie, kredietafgraderings en verhoogde kommer oor regeringsbestuur en die volhoubaarheid van staatsmaatskappye. Dit was ook een van die sektore wat sedert Oktober se mediumtermynbegroting Suid-Afrika se groeivooruitsigte aansienlik verbeter het, met sterk groei die afgelope paar maande.
Die groei in die bruto binnelandse produk (BBP) vir verlede jaar is nou weer opwaarts tot 1% aangepas nadat dit verlede jaar afwaarts van 1,3% tot 0,7% hersien is.
Die verwagte groei vir vanjaar
is 1,5%, wat tot 2,1% in 2020 kan styg.
GAPING
Die verbeterde uitkyk kon egter nie die Regering se grootste probleem, die belastingtekort van R48,2 miljard, uitwis nie. Boonop het oudpres. Jacob Zuma in Desember gratis hoër onderrig aangekondig wat op die mediumtermyn bygewerk moet word.
In antwoord daarop is nuwe belastingmaatreëls ingestel wat na verwagting R36 miljard in die komende boekjaar sal inbring.
Dit is hoofsaaklik deur ’n persentasiepunt-verhoging in die belasting op toegevoegde waarde (BTW) en aanpassings aan persoonlike inkomstebelasting.
Die 19 basiese voedselitems, soos droëbone, mieliemeel, stampmielies en rys, wat van belasting vrygestel is, sal die impak van die verhoogde BTW op die armste huishoudings beperk.
Van 1 April sal rogbrood en brood met ’n lae glukemiese indeks (GI), wat meestal deur meer welgestelde huishoudings gekoop word, egter nie meer vrygestel wees van BTW nie. Slegs bruin- en volgraanbruinbrood sal daarvan vrygestel wees.
HERTOEWYSING
Besnoeiings en hertoewysings is ook aan staatsbesteding gemaak. Oor die volgende drie boekjare sal besteding met R85 miljard verminder word. Daarvan gaan R57 miljard aan hoër onderrig en opleiding, en die gebeurlikheidsreserwe kry R10 miljard by.
Die gekonsolideerde begrotingstekort sal na verwagting verminder van 4,3% van die BBP in 2017-’18 tot 3,5% in 2020-’21.
“Ons durf nie onverantwoordelik geld leen en dit vir die toekomstige geslagte los om te betaal nie,” het Gigaba gesê.