IS AMERIKA SE ‘NO. 1-ONKRUID’ NOU OOK IN SA?
KENNERS wag op bevestiging dat Amerika se verwoestendste onkruidsoort by katoen, mielies en sojabone op 9 Februarie in katoenlande in die distrik Douglas opgespoor is.
Die gevreesde Amaranthus palmeri is voorlopig op sy voorkoms geïdentifiseer. Monsters van die plantmateriaal is vir DNS-ontleding gestuur na die Suid-Afrikaanse Onkruiddoderweerstandinisiatief (SAHRI) by die Universiteit van Pretoria. Die uitslag word binne ongeveer ’n maand verwag.
“Hierdie plant het die natuurlike vermoë om ’n ernstige – dalk dié skadelikste – onkruid in alle dele van Suid-Afrika se somerreëngebied te word,” sê dr. Charlie Reinhardt, projekleier by die SAHRI, dekaan van die Villa Academy en ’n buitengewone professor in onkruidwetenskap aan die universiteite van Pretoria en Stellenbosch.
“Dit het groot ontwrigting van landboupraktyke in Amerika meegebring weens die vinnige verspreiding daarvan oor groot dele van daardie land. Dit word bestempel as Amerika se nommer 1-onkruid as gevolg van die uiters sterk mededinging daarvan met gewasplante, en die gevolglike opbrengsverliese wat dit veroorsaak.”
REUSEVERLIESE
Volgens navorsing in Amerika het A. palmeri sojaboonopbrengs met 78% verlaag waar dit vanaf opkoms in die gewas teenwoordig was teen ’n digtheid van agt plante per vierkante meter.
Mielie-opbrengs is met van 11% tot 91% verlaag teen ’n voorkoms van 0,5 tot 9 plante per vierkante meter.
“Hierdie onkruid lewer van 500 000 tot 1 miljoen sade per plant. Sade kan ná drie jaar in grond steeds kiemkragtig wees. A. palmeri fotosinteer drie tot vier keer doeltreffender as katoen, mielies en sojabone, wat grootliks verklaar waarom dit ’n suksesvolle mededinger vir daardie gewasse is,” sê Reinhardt.
“As die DNS-ontleding en die Suid-Afrikaanse Nasionale Biodiversiteitsinstituut (Sanbi) se herbarium bevestig dat dié ‘nuwe’ Amaranthus-soort by Douglas inderdaad A. palmeri is, behoort noodoptrede vanuit soveel moontlik oorde te volg om dit te bekamp en verdere verspreiding te voorkom. Gelukkig kan ons leer uit die bestrydingspraktyke wat in Amerika ontwikkel is,” sê hy.
WEERSTANDIGHEID
Reinhardt sê die bedryf in Amerika het hom in sy stryd teen A. palmeri toegespits op onkruidbestryding voor planttyd en voor opkoms, asook grondbewerking. Ongelukkig het dié “formidabele onkruid” weerstand opgebou teen minstens drie meganismes van onkruiddoderwerking, naamlik die inhibeerders van fotosintese (soos atrasien), ALS-ensiem (soos chlorimuron), en EPSPS-ensiem (soos glifosaat).
Die SAHRI-navorsingsprogram aan die Universiteit van Pretoria sal verslag doen oor vordering met die identifisering van die plantbevolking in die distrik Douglas. Die SAHRI beoog ook verdere navorsing oor dié plant. Die resultate sal praktiese oplossings aan gewasboere voorstel.
“Hierdie inisiatief is sprekend van die voordele verbonde aan samewerking tussen universiteite en die private sektor, in hierdie geval die landbouchemiese (onkruiddoder-) bedryf en die boerderygemeenskap,” sê Reinhardt.
Boere wat soortgelyke plante in hul landerye opgemerk het, word aangeraai om die SAHRI dadelik te kontak by www.up.ac.za/
sahri; e-pos: dr.charlie.rein hardt@gmail.com.