WAG DAAR BETER TYE NÁ SWAARKRY?
se netto inkomste het tot onlangs toe met bykans R20 000/ha te kort geskiet om volhoubaar te kan boer, maar ’n “strukturele aanpassing” wink dalk op die horison.
Dít kom uit VinPro se produksieplan-opname, ’n ontleding van 495 boerdery-eenhede se geldsake in die seisoen wat tot verlede jaar se oes gelei het.
Meer as ’n derde van wynboere boer teen ’n verlies. Sedert 1998 het sowat 1 500 wynboere – bykans ’n derde van die totale bedryf – die wynbedryf verlaat.
Produksiekoste het die afgelope dekade verdubbel, ten spyte van boere se pogings om kostedoeltreffender te wees. Dit het wynboere se gemiddelde netto inkomste afgedruk tot R6 645/ha – 1% laer as die vorige jaar, ten spyte van ’n ietwat groter oes.
“Wyndruifplase moet ’n netto inkomste van ten minste R27000/ha realiseer om volhoubaar te kan voortbestaan,” sê mnr. Andries van Zyl, senior landbou-ekonoom by VinPro.
Verlede jaar se groter oes het wel boere se gemiddelde bruto
inkomste met sowat 6% laat klim tot R54 158/ha, maar produksiekoste het in dieselfde tyd vinniger as inflasie gestyg (tot R47 513/ha), wat beteken boere se inkomste het nie bygehou nie.
OPFLIKKERING
Volgens Van Zyl het boere die afgelope paar jaar baie gedoen om hul produksie op te stoot en terselfdertyd koste in toom te hou. “Arbeid is steeds die grootste komponent van produksiekoste en ná die verhoging in die minimum loon later vanjaar gaan dit baie moeilik wees om koste af te bestuur. Pryse moet egter nou verbeter.”
Hy meen die bedryf het verlede jaar ’n draaipunt bereik en ’n “strukturele aanpassing” wag op boere. Dis danksy ’n krimpende aanbod van wyn wêreldwyd en die druk van die knellende droogte.
“Dit kan gunstig of ongunstig wees. Wingerde word ouer en minder en ’n strukturele skuif is onafwendbaar namate die plaaslike aanbod aanpas by die internasionale en plaaslike vraag na wyn,” meen hy. Hierdie strukturele aanpassings verwys onder meer na beter pryse aan primêre produsente, maar ook beter betaalvoorwaardes en kontraktering.
“Dis moeilik om te sê hoe lank dit sal duur voordat boere dit aan hul sak voel. Dit hang af van watter deel van die mark die boer bedien.”