AGRICOLLEGES INTERNATIONAL | Eerste kursus begin
Agricolleges International, die webgebaseerde studieplatform wat deur ’n groep boere van Tzaneen op die been gebring is, is gereed om sy eerste studente vir ’n kort kursus te aanvaar.
Die studieplatform is spesifiek daargestel vir landbou-opleiding.
Die ses weke lange kursus Bekendstelling aan Agribesigheid wat op 12 Maart beskikbaar word, sal hopelik die eerste van verskeie landbouverwante kursusse wees.
Kursusse wat die kollege aanvanklik gaan aanbied, dek basiese onderwerpe, soos landboubesigheid, plantproduksie en diereproduksie. Meer gespesialiseerde kursusse sal in die toekoms op spesifieke soorte gewasse en vee klem lê.
“Ons hoop om binnekort gereed te wees vir inskrywings vir ons geakkrediteerde Nasionale Sertifikaat in die Landbou (nasionale kwalifikasieraamwerk vlak 4),” sê mnr. Howard Blight, een van die stigterslede van Agricolleges International.
E-LEERPLANNE
Die webgebaseerde kollege het vroeëre planne om vyf landboukolleges oor Suid-Afrika heen te bou, laat vaar ten gunste van wolkgebaseerde of e-leerplanne. Dit maak dit moontlik om studente enige plek ter wêreld teen ’n breukdeel van die koste op te lei.
“In ’n land met so ’n hoë werkloosheidsyfer, soos Suid-Afrika, is webgebaseerde onderrig, of e-studie, ’n bekostigbare alternatief waardeur die jeug hulself kan toerus met die nodige vaardighede om werksgereed te wees,” sê Blight.
Agricolleges International sal studente die geleentheid bied om ’n kwalifikasie aanlyn te behaal, terwyl hulle praktiese ondervinding oor Suid-Afrika heen by vennote van die kollege opdoen.
Studente wat vir die eerste kursus wil inskryf, kry 50% korting. Dit sal slegs R2 400 kos. Dit sluit nie die R100 aansoekgeld in nie, sê Blight.