Landbouweekblad

KRY VIR JOU VARS WATER

- JONG BOER Bloemfonte­in

Ek boer wes van Bloemfonte­in. By ons lyk dinge nie goed nie gegewe die mielie- en sonneblomp­lanttyd wat verbygegaa­n het sonder dat veel geplant kon word omdat die reën net nie gekom het nie. ’n Man se kop werk oortyd en jou gedagtes, wat nie wil kalmeer, put jou op ’n ander manier as werk uit.

Dis toe ek besef het ek sal ’n plan moet maak. Die gedagte het my hier teen Kersfees getref dat ek (weer) niks aan die natuur kan doen nie, maar dat ek wel my kop kan beheer en my perspektie­f op koers kan hou.

Só het die nuwe jaar begin en ek het een besluit geneem wat my tot nou toe laat moed hou het. Dit was om ander reën te gaan soek as die reën wat tot in daardie stadium nie geval het nie. Ek het onthou dat daar iewers in die Bybel staan: “Kom na My toe en ek sal vir jou van die Lewende Water gee”.

Ek het besluit om elke oggend vroeg op te staan en te gaan drink van die Lewende Water waarvan die Bybel praat, voordat ek na my skure gaan om die span daar te gaan ontmoet en die dag aan te pak met talle probleme en oë wat na my kyk. Oë wat van my verwag om nie moed te verloor nie en nie op te hou planne maak nie.

Groot was my verbasing toe ek ná ’n paar dae besef dat hierdie Water nie opraak nie en dat die hittegolwe en die westewind dit nie laat verdamp nie. Die enigste voorwaarde is om elke oggend daarvan te kom drink. Jy kry genoeg vir die dag, maar môre moet jy weer vars Water gaan kry. Saam met die vars Water, het ek gesien, kom daar vars planne, vars energie, vars moed, vars vrede en va(r)sbyt!

Ek vertel bogenoemde aan elkeen wat, soos ek, elke dag uitkyk vir die wolke om saam te pak en die reënwater te bring. Ek wil jou aanmoedig om elke oggend voor jy jou dag begin, van die Lewende Water te gaan haal. Dit is beskikbaar in oorvloed en sal jou nie teleurstel nie, anders as ’n weervoorsp­elling of ’n boorgat wat begin sluk. Dit sal jou dra in tye soos dié. Ek glo jy sal so verbaas staan soos ek daaroor!

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa