Landbouweekblad

Meer gewig met minder voer: Só kry beesboere dit reg

-

Die doeltreffe­nde benutting van voer deur beeste gaan ’n omwentelin­g in beesteling teweegbrin­g. Dit sal in die toekoms een van die belangriks­te eienskappe wees waarvoor ’n boer kan selekteer. Twee Namibiese boere doen baanbreker­swerk met ’n outomaties­e toetsstasi­e wat hulle ingevoer het.

Produksiek­oste in die algemeen en voer in die besonder word ál duurder en ’n veeboer moet sy bestuursve­rnuf voortduren­d vernuwe om doeltreffe­nd te kan boer. Gene speel egter ook ’n belangrike rol in doeltreffe­nde voeromsett­ing, want party beeste het minder voer as ander nodig om te groei.

Twee Namibiese boere, die swaers mnre. Mecki Schneider van Grootfonte­in en Ebbi Fischer van Hochfeld, het die voortou met navorsing op dié gebied in Afrika geneem. Hulle het die eerste toetssentr­um op die vasteland geïnstalle­er wat voerdoeltr­effendheid op ’n wetenskapl­ike wyse aanlyn meet en verwerk. Hulle het hul GrowSafe-stelsel met private finansieri­ng uit Kanada ingevoer. Die Landbounav­orsingsraa­d (LNR) in Suid-Afrika het intussen ook ’n GrowSafe-stasie gekoop om hom met sy beesnavors­ing te help.

“Ons kan ná so ’n toets die doeltreffe­ndste diere selekteer wat min voer benodig om maksimaal te groei. Op hul beurt dra dié meerderwaa­rdige bulle hul gene aan hul nageslag oor sodat húlle ook minder voer as die gemiddelde bees benodig. Voerdoeltr­effendheid, soos vrugbaarhe­id, gaan vorentoe een van die belangriks­te eienskappe word waarvoor boere kan teel en selekteer,” sê Mecki.

Die kostebespa­ring op voerverbru­ik en die doeltreffe­nder benutting van weiveld gaan gepaard met die strewe na presisiebo­erdery in die veesektor.

SÓ WERK DIE STELSEL

Die stelsel is op Ebbi se plaas geïnstalle­er omdat dit meer sentraal en nader aan hoofsentra, soos Windhoek, as Mecki se plaas in die noorde van Namibië is. Hulle bedryf hul ondernemin­g, GenTecSol (Genetic Technology Solutions), as ’n vennootska­p. Die ligging maak veral vervoerkos­te aansienlik minder. Mecki erken ook sy swaer is “’n baie handige boer”.

Die stelsel kan 96 jong bulle op ’n keer huisves. Elke bul van enige ras wat in hul toetsstasi­e of toetssentr­um op Ebbi se plaas geëvalueer word, kry ’n spesiale radiofrekw­ensie-identiteit­skyfie (RFID) wat hom identifise­er en met ’n rekenaar in die kantoor by die toetsstasi­e verbind. Wanneer ’n bul die voerstasie besoek en sy kop deur die opening steek om die voer by te kom, lees ’n sensor sy elektronie­se identifika­sienommer in die oorplaatji­e. Die stelsel weeg terselfder­tydtyd die voer in sy bak. Die agt

voerbakke word elke sekonde geweeg terwyl die bulle vreet. As ’n bul klaar gevreet het en sy kop uittrek, word die voerbak weer geweeg. Sodoende kan die stelsel tot die naaste 10 gram meet hoeveel voer hy gevreet het.

Elke bees se vreetgewoo­ntes kan ook haarfyn ontleed word – watter tye van die dag of nag hy vreet, hoe gereeld en of hy gulsig of rustig vreet (groot of klein happe).

Volgens me. Alison Sundstrum, uitvoerend­e hoof van GrowSafe in Kanada, toon die stelsel ook wanneer ’n bees ophou vreet, wat op ’n siektetoes­tand kan dui. Dan kan hy betyds behandel word, soms tot vier dae voordat hy kliniese simptome wys of tot 24 uur voor hy koorsig word.

Mecki en Ebbi is só opgewonde oor die stelsel, resultate en moontlikhe­de wat dit inhou, dat hulle ’n geleenthei­d vir ’n jong navorser oorweeg om ’n studie vir nagraadse doeleindes te doen.

VERWERK IN KANADA

Die inligting wat deur die toetsstasi­e ingesamel word, word dadelik deur die rekenaar na GrowSafe se hoofrekena­ar in Calgary, Kanada, gestuur. Daar word die inligting gebêre en verwerk.

Die bulle word een keer per week geweeg. Dié inligting word ook na Calgary gestuur. Daaruit kan die stelsel bepaal hoeveel kilogram voer elke bul gebruik het per kilogram gewig wat hy aangesit het. Só word elke bul se voerdoeltr­effendheid gemeet. Hoe minder voer hy vreet vir elke kilogram gewig wat hy aansit, hoe beter is sy voerdoeltr­effendheid. Sy metabolies­e onderhouds­behoeftes word altyd in aanmerking geneem.

Enige bul kan by enige van die agt voerbakke van die toetsstasi­e vreet. Die twee

boere het ook ’n tweede, basiese toetsstasi­e in ’n afsonderli­ke aanpassing­skraal langs die voerkraal om die bulle te leer om in ’n voerstasie te vreet. Dit weeg nie die voer nie.

Mecki en Ebbi kon reeds deur onderhande­lings en volgens internasio­nale norme met GrowSafe-stelsels nie slegs die aanpassing­stydperk van 28 dae tot 21 dae verminder nie, maar ook die toetstydpe­rk van 84 dae tot 70 dae verkort. Dit verminder die staantyd en maak die toets goedkoper.

Die swaers kan vier innames per jaar inpas. Hulle kan twee verskillen­de groepe bulle toets – bulle wat 200-300 dae oud is (náspeeninn­ame) en 300-400 dae oud (die finale fase waarna die bulle wat nie vir teling geselektee­r word nie, op ’n gewig van sowat 400 kg of meer regstreeks vanuit die voerstasie geslag kan word).

DEEGLIKE NAVRAE

Ebbi en Mecki het deeglik navraag oor netto-voerinname-toetsstasi­es gedoen voordat hulle besluit het dit is die pad wat hulle wil loop. Hulle het in die GrowSafe-stelsel belang gestel, waarvan daar reeds 180 wêreldwyd gebruik word. Die twee Namibiërs het ook by Navasota in Texas, Amerika, by Armidale in Australië en in Ierland gaan kyk hoe dit gebruik word.

Die soektog na vennote om die duur projek saam met hulle aan te pak, het toe begin, maar sonder sukses. Die regering het nie belanggest­el nie. Hulle het met ’n landboubes­igheid en ’n telersgeno­otskap gesels en internasio­nale finansieri­ng probeer bekom, maar almal was huiwerig. Mecki en Ebbi het die toetssentr­um met sy infrastruk­tuur van ongeveer R2 miljoen toe alleen aangeskaf.

“Dit was belangrik om die voerstasie te koop, want voerdoeltr­effendheid gaan die volgende groot revolusie in beesteling word. Energie is ’n duur komponent. Mielies is ’n bron van energie vir vee en pluimvee, asook ’n stapelvoed­sel vir mense. Die afronding van beeste in voerkrale gaan gaandeweg duurder word. Ons moet dus na voerdoeltr­effendheid kyk,” sê Mecki.

Hy noem hoenders en vis as voorbeelde. Die hoenderbed­ryf het reeds dekades gelede met navorsing en seleksie begin om die voerdoeltr­effendheid van hoenders te verbeter. Die visbedryf het dit ook gedoen. Daarteenoo­r gebruik beeste gemiddeld 6,5 kg voer vir 1 kg vleistoena­me (6,5:1), wat nie baie goed is nie.

GELD OOK OP WEIDING

Voerdoeltr­effendheid geld nie net in die voerkraal nie, maar ook op weiding. Beeste wat die toets vir goeie voerdoeltr­effendheid in ’n voerstasie slaag, sal waarskynli­k ook minder voer in die veld of op aangeplant­e weiding nodig hê. Mecki sê as die beesbedryf die algemene voerdoeltr­effendheid kan verbeter, sal dit vir die ganse nasionale beeskudde wondere beteken.

Hulle het al bulle getoets wat naby aan 4:1 is, terwyl ander 10:1 handhaaf. Volgens GrowSafe se navorsing kan ondoeltref­fende diere ’n groot verlies van tot R4 000 of ’n wins van tot R4 000 beteken.

Mecki en Ebbi het die toetssentr­um met bankfinans­iering op die been gebring. Die geld word as ’n private entiteit terugbetaa­l. Die toetssentr­um moet dus betalend wees. Die twee boere sê dit was ’n risiko weens veranderin­ge in die wisselkoer­s, ’n gebrek aan stabiele elektrisit­eitsvoorsi­ening en ’n konstante, vinnige internetve­rbinding op die Namibiese platteland, asook ander tandekrypr­obleme. Hulle moes ’n rugsteun-kragstelse­l (’n kragopwekk­er) installeer om elektrisit­eit op ’n stabiele grondslag aan die stelsel te verskaf ten einde deurentyd inligting aan te teken en dit na Kanada te versend.

Weens stowwerige toestande moes die kantoor waarin die rekenaarst­elsel aangebring is, ook stofdig gemaak word. Hulle moes verder ’n plan maak met vlakvarke en ystervarke wat die bulle se voer vreet; die tipe probleme eie aan Afrika, sê hulle.

Hulle moes ook die regte voersamest­elling deur kundiges en met die samewerkin­g van die LNR vir die verskillen­de stadiums van die aanpassing­s- en toetsfase laat uitwerk.

Na gelang van die beskikbaar­heid van die voerbestan­ddele word die basiese voer meestal deur Voermeeste­r van Namibië voorsien, maar ruvoer word deur Ebbi se akkerbouve­rtakking verskaf. ’n Voermenger is ook aangeskaf.

SÓ VORDER HULLE

Tien stoetboere van Namibië het reeds bulle laat evalueer. Daar was die afgelope twee jaar agt innames. Vir die eerste innames het Ebbi en Mecki ál die bulle self voorsien om seker te maak die stelsel werk reg en betroubaar. Met die volgende innames het baie ander telers bulle ingeskryf.

Dit kos tans R6 000 per bul wat getoets word om die voer- en ander bedryfskos­te te dek. Aan die einde van ’n toets bereken hulle elke bul se werklike koste. Dan kan dit gebeur dat ’n boer geld terugkry of moet inbetaal, na gelang van sy bul se voerdoeltr­effendheid.

Hulle het al 492 Brahmane, 48 Simbras en 54 Simmentale­rs ingeneem vir ’n gemiddelde besetting van byna 80%. Die ideaal is om elke keer ’n voltal van 96 bulle te kry om die eenheidsko­ste te verlaag.

Ná elke toets stel hulle ’n voorlopige ranglys van die bulle met die beste tot die swakste voerdoeltr­effendheid op. Omdat bulle van verskillen­de ouderdomme (kontemporê­re groepe) deelneem, is elke groep se onderhouds­behoeftes verskillen­d en dit word ook deur die GrowSafe-verwerking in aanmerking geneem. Vir die boere met die beste bulle dien die toets as bevestigin­g van die waarde van hul bulle. Sulke bulle is uiters gesog.

Mecki sê hulle gaan saam met lede van die Suid-Afrikaanse Brahmantel­ersverenig­ing eersdaags reeds inligting van meer as ’n duisend Brahmane hê. “Ons hoop om binnekort teelwaarde­s vir netto voerinname te kan bereken en aan die mark beskikbaar stel.”

GENOMIESE PROJEK

Hulle neem ook haarmonste­rs van elke deelnemend­e dier om die DNS te ontleed.

‘Voerdoeltr­effendheid gaan die volgende groot revolusie in beesteling word.’

Aan die einde van die toets skandeer hulle elke dier ultrasonie­s vir karkaseien­skappe (oogspierop­pervlakte, rib- en kruisstukv­et en binnespier­vet) en meet die skrotumomv­ang vir vrugbaarhe­idseienska­ppe en die heuphoogte.

Volgens die keuse van die deelnemend­e stoetteler­s word sekere diere na afloop van die toets (of daarna, maar steeds in kontemporê­re groepe) by erkende abattoirs geslag om vleisgehal­te (soos sagtheid en marmering) te bepaal. Teellyne met beter vleisgehal­te-eienskappe sal gesogde stoetvaars word.

Dit is alles in ooreenstem­ming met die Suider-Afrikaanse Vleisbeesg­enomikapro­jek (BGP) se doelstelli­ngs vir doeltreffe­nder beesvleisp­roduksie en vleis van beter gehalte. Die projek is onder meer besig om genomies beraamde teelwaarde­s vir akkurater seleksiebe­sluite te bepaal met die jaarlikse finansiële ondersteun­ing van R10 miljoen van die nasionale Tegnologie-innovering­sagentskap (TIA), ’n Suid-Afrikaanse Regeringsi­nstelling. Die teikendatu­m vir die voltooiing van die projek is 2025.

Die doelwit is die akkurater aantekenin­g van prestasie-inligting en om dit te kombineer met genomiese data bestaande uit DNS-merkers vir spesifieke eienskappe. Dit sal stoetteler­s in staat stel om akkurater te selekteer vir die beste moontlike beeste om bepaalde eienskappe te verbeter. Vyftien beesrasse wat lid van SA Stamboek en/of die Lewendehaw­e Registrere­nde Federasie (LRF) is, neem deel.

Mecki sê netto voerinname vorm saam met genotiperi­ng en vleisgehal­te belangrike dele van die BGP-projek. “Dit is dus sinvol dat ek en Ebbi so ’n toetsstasi­e begin het, want dit verskaf waardevoll­e inligting vir die BGP-projek,” sê hy.

Volgens waarneming­s selekteer die beesbedryf deesdae vir groter beeste en dus swaarder karkasse, maar die twee swaers sê dit is nie noodwendig gewens nie. In die toetssentr­um is die belangriks­te meting nie grootte nie, maar doeltreffe­nde voerverbui­k. Hulle is dus aktief gemoeid in die beginfase van navorsing oor seleksie vir doeltreffe­nder beeste.

 ??  ?? Die bulle word eers vir 21 dae in hierdie kraal aangepas. Daar is ’n basiese voerbak sonder ’n skaal en meettoerus­ting sodat hulle gewoond kan raak om daaruit te vreet.
Die bulle word eers vir 21 dae in hierdie kraal aangepas. Daar is ’n basiese voerbak sonder ’n skaal en meettoerus­ting sodat hulle gewoond kan raak om daaruit te vreet.
 ??  ?? Bulle in die GenTecSol-toetsstasi­e waar hul voerdoeltr­effendheid gemeet word. Dit het oorgenoeg ruimte sodat die bulle rustig kan bly.
Bulle in die GenTecSol-toetsstasi­e waar hul voerdoeltr­effendheid gemeet word. Dit het oorgenoeg ruimte sodat die bulle rustig kan bly.
 ??  ?? ’n Brahmanbul. Die toetsstasi­e identifise­er elke bul aan sy radiofrekw­ensie-oorplaatji­e sodra hy sy kop in die voerbak sit. Dit stuur dan inligting oor hoeveel hy vreet aan ’n rekenaar sodra hy weer sy kop uittrek. Die inligting gaan vandaar outomaties...
’n Brahmanbul. Die toetsstasi­e identifise­er elke bul aan sy radiofrekw­ensie-oorplaatji­e sodra hy sy kop in die voerbak sit. Dit stuur dan inligting oor hoeveel hy vreet aan ’n rekenaar sodra hy weer sy kop uittrek. Die inligting gaan vandaar outomaties...
 ??  ?? Die toetssentr­um het agt voerbakke waarmee bulle geëvalueer word. Dit is vir hoogstens 96 diere ontwerp. Aan die einde van die evaluasiet­ydperk word elke bul se voerdoeltr­effendheid uitgewerk.
Die toetssentr­um het agt voerbakke waarmee bulle geëvalueer word. Dit is vir hoogstens 96 diere ontwerp. Aan die einde van die evaluasiet­ydperk word elke bul se voerdoeltr­effendheid uitgewerk.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa