Weer moet nou nouer dopgehou word
Die impak van die waterskaarste in die Wes-Kaap en omgewing wat nou ongekende afmetings aanneem, beklemtoon opnuut die belangrikheid van klimaatmonitering, skryf wetenskaplikes van die Landbounavorsingsraad.
Die huidige uiterste klimaatstoestande noodsaak die mens om rekenskap te gee van elke druppel reën wat val om só die doeltreffende bestuur van waterverbruik te verseker. In Suid-Afrika is ’n paar organisasies wat weerstasienetwerke bedryf, waarvan die Landbounavorsingsraad (LNR) se Instituut vir Grond, Klimaat en Water, naas die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWS) die uitgebreidste weerstasienetwerk oor die land heen besit.
In die geval van die LNR word landbougebiede goed verteenwoordig in die geografiese plasing van die weerstasies. Tans is daar sowat 450 outomatiese weerstasies wat uurliks lesings neem van onder meer reënval, temperatuur, wind en straling. Die LNR reik ’n maandelikse nuusbrief uit, Umlindi – The Watchman, waarin ’n verskeidenheid reënvalmoniteringskaarte verskyn.
Die SA Weerdiensweerstasies se reënvaldata word ook gebruik vir die opstel van die Umlindi-reënvalkaarte om sodoende die beste moontlike voorstelling van die werklike reënvaltoestande te kan weergee.
Benewens die weerstasiegedrewe produkte wat in Umlindi verskyn, word afstandswaarneming gebruik om die toestand van die plantegroei te monitor. Soos met die weerstasiedata, het die LNR reeds ’n argief van afstandswaarnemingsdata opgebou. Die beskikbaarheid van die data-argiewe maak dit moontlik om huidige klimaat- en plantegroeitoestande te vergelyk met ooreenstemmende tye in die verlede.
Hou in gedagte dat sulke vergelykings of pogings om huidige klimaatstoestande met historiese klimaatstoestande in perspektief te stel, sal afhang van hoe lank die betrokke datastel bestaan. Afstandswaarneming is baie “jonger” as die bestaan van weerstasienetwerke. Dit is iets om in gedagte te hou, veral oor gebiede waar sikliese gedrag op die dekade-tydskaal mag voorkom.
AL DRIE JAAR DROOG
Die huidige droogtetoestande oor die Weswarm Kaap het ’n aanloop oor die laaste drie jaar, waarvan die reënval verlede jaar die laagste was. ’n Ontleding van die gebiedsgemiddelde rondom die Theewaterskloofdam wys dat verlede jaar se reënval oor daardie gebied die laagste was in die opgetekende reënvalsyfers van die weerstasie daar.
KAART 1 stel die ruimtelike reënvalverspreiding vir Mei tot September verlede jaar voor. Volgens die kaart is dit duidelik dat die winterreënstreek ’n groot tekort aan reën gehad het. In sekere dele van die opvangsgebiede van die hoofdamme in die Wes-Kaap het minder as die helfte van die normale winterreën voorgekom. ’n Tydsreeksontleding (nie hier gewys nie) dui aan dat die laaste goeie reënvaltyd daar in 2014 voorgekom het toe die reënval ongeveer 160% van die normale reënval was.
’n Ontleding van die maksimum temperature (nie hier gewys nie) dui aan dat die maksimum temperature van die laaste sowat vyf jaar in die somermaande bonormaal was. Dit vererger die ondernormale voorkoms van reën nog meer.
Dit is ’n aanduiding van die meer gereelde voorkoms van uitermate hoë daaglikse maksimum temperature.
Die warmer as normale toestande in die somermaande plaas dan verdere druk op die reeds ondernormale beskikbaarheid van water.
In Januarie vanjaar was die maksimum temperature oor die westelike dele van die Wes-Kaap gemiddeld ongeveer 2 °C tot 2,5 °C warmer as normaalweg.
UITWERKING OP PLANTEGROEI
Daar is ook tans strawwe klimaatstoestande wat oor dele van die Oos-Kaap heers. Ná goeie reën in 2015 kry dié provinsie die afgelope twee jaar nie ordentlik en gereeld reën nie.
’n Ontleding van weerstasiedata toon dat in 1991, 2009 en 2013 soortgelyke lae reënval oor die opvangsgebied van die Kougadam