Willemse: SA landbou kán globaal meeding
Plaaslike landboubedrywe moet dringend baie meer aandag daaraan skenk om Suid-Afrika se internasionale mededingendheid in landbouhandel te verbeter.
Suid-Afrika het ’n besonder oop benadering ten opsigte van die handel in landbou en voedsel. Gemeet aan internasionale standaarde van regeringsteun aan die landbou maak dit die land een van die kommersiële landboulande ter wêreld wat min staatsteun kry. Terselfdertyd is Suid-Afrika ook baie blootgestel aan internasionale handel.
Die in- en uitvoer van landbouprodukte na en van Suid-Afrika is sowat 60% van die bruto waarde van die land se landbouproduksie. Hierdie hoë syfer wys Suid-Afrika is baie blootgestel aan mededinging in die internasionale mark, hetsy via invoer in 2016-’17 van sowat R80 miljard of uitvoer van sowat R83 miljard.
Onthou, Suid-Afrika se landbouhulpbronne vergelyk swak met dié van ander groot landbou-uitvoerlande. Suid-Afrika sal toenemend op tegnologie, vernuwing en entrepreneurskap moet staatmaak om mededingend te kan bly.
Suid-Afrika se invoertariewe op landbouprodukte is gemiddeld ook van die laagste in die kommersiële landbou ter wêreld.
Boere gee egter nie veel aandag daaraan nie. Hulle bestee eerder die meeste van hul energie aan vergaderings om ’n teenvoeter vir vyandige staatsbeleid en misdaad te vind.
’n Mens moet besef Suid-Afrika raak stadig maar seker agter in die internasionale mededingende arena. Ons skenk te veel aandag aan die verkeerde dinge en gee te min aandag aan debatte oor hoe Suid-Afrika se landboubedryf wêreldwyd mededingender kan raak.
Die Amerikaanse graanraad is ’n liggaam wat uitvoer bevorder. Boere en die staat dra daartoe by om graanuitvoer te bevorder. Hierdie raad het onlangs in ’n onafhanklike ekonomiese studie die volgende bevind: Vir elke dollar wat hy aan die ontwikkeling van uitvoermarkte en die bevordering van uitvoer
bestee, is die opbrengs wat terug beland in die binnelandse landbou-ekonomie sowat $20. Dit sluit die feit uit dat uitvoer kwaai gestyg het en dat baie permanente werkgeleenthede geskep is.
Sover ek weet, het Suid-Afrika se belangrike landbou-uitvoerbedrywe bitter min sulke pogings (dalk wel in die geval van die wynbedryf). Êrens gaan die vinnig groeiende uitvoerbedrywe met groot binnelandse produksie hul egter vasloop as hulle nie herbesin oor hoe om mededingender te wees en hoe om hul produkte internasionaal te bevorder nie.
Natuurlik behoort die Regering ’n kernrol te speel om toegang tot gunstige uitvoermarkte vir plaaslike produkte te beding en te help met markbevordering. ’n Mens hoef net by die Amerikaners te gaan kyk hoe om elke rand met R20 te vermeerder. Navorsing deur die ekonomiese navorsingsdiens van Amerika se departement van landbou het onlangs bevind dat handel in landbouprodukte van 1995 tot 2014 wêreldwyd bykans verdriedubbel het.
Die groei in inkomste in opkomende ekonomieë het die groei in handel help voortstu. Nóg belangriker, daar is bevind dat sogenoemde opkomende ekonomieë (waarvan sommige baie goeie landbouhulpbronne het) toenemend ’n dominante rol in die wêreld se landbouhandel begin speel. Die navorsing het ook bevind dat van dié lande hul steun aan hul landbou vergroot het, terwyl die EU en Amerika – wat tradisioneel landbouhandel oorheers het – hul steun verminder het.
Die feit is dat dié lande, soos Brasilië, China, Indië, Rusland, Argentinië en Indonesië, regstreekse mededingers vir Suid-Afrika se eie boere is. Groei in produktiwiteit in hierdie lande het ’n groot bydrae gelewer tot hul groeiende mag in landbouhandel en hul klem op mededingendheid.
’n Goeie voorbeeld is Rusland, wat nou wêreldwyd meer koring uitvoer as Amerika. Suid-Afrika voer sowat die helfte van sy koring in uit die Oosbloklande.
Ten spyte van ’n huidige koring-invoertarief wat met die skrywe hiervan sowat R716/ ton was, stry Suid-Afrika se koringboere op droëland ’n verlore stryd. Selfs met die invoerbeskerming kan hulle nie hul koste dek nie.
In die geval van mielies kon die meeste van Suid-Afrika se mielieboere verlede jaar te midde van rekordopbrengste nie hul volle produksiekoste dek nie. Dit was omdat die prys waarteen plaaslike boere kan uitvoer, nie lonend is nie.
Vanjaar se oes – wat na verwagting sowat 40% kleiner is – sal steeds uitvoer verg, maar weer teen pryse waarteen baie mielieboere steeds nie hul volle koste kan dek nie.
Ek dink dit is ’n fundamentele knelpunt wat te min aandag kry. Alle betrokkenes
WÊRELD-LANDBOUHANDEL GROEI Met ’n nuwe bedeling in Zimbabwe ontstaan die gevaar dat die markte van Suid-Afrika se uitvoerboere in Zimbabwe ál meer onder druk gaan kom.
sal gesamentlik baie meer aandag daaraan moet gee, want Suid-Afrika se saaiboere is besig om hul internasionale mededingende stryd te verloor. Dit gaan uiteindelik ook tot regstreekse nadeel van plaaslike intensiewe veeboere wees.
STAATSTEUN VERSKUIF
Die groei in internasionale landbouhandel word toegeskryf aan die Uruguay-ronde van die Algemene Ooreenkoms oor Tariewe en Handel wat in 1995 in werking getree het. Dit was daarop gemik om invoertariewe te verlaag. Dit was egter ook die einde van die Suid-Afrikaanse landboubemarkingsrade en invoerbeperkings.
Die onderhandelinge het ’n groot uitwerking op Suid-Afrika se hele landboubedryf gehad. Invoerbeheer is ook afgeskaf. Daarby kom die vryehandelsooreenkomste met die EU, wat sekere hoeveelhede koring en hoendervleis tariefvry in Suid-Afrika toelaat.
Die kort samevatting van die veranderinge was dat die Suid-Afrikaanse landbou baie meer blootgestel is aan internasionale handel en invoer. Ek dink dit het veral die vleis- en graanbedrywe die laaste aantal jare onder kwaai druk geplaas.
Suid-Afrika se gemiddelde invoertariewe op landbouprodukte is ook onder die laagste kwart in die Amerikaanse navorsing. Baie lande maak gebruik van allerlei gesondheidswetgewing om invoer erg aan bande te lê – ten spyte van sogenoemde lae invoertariewe.
TABEL 1 gee ’n opsomming van hoe die staatsteun in ontwikkelde lande gedaal het, maar wys ook dat nuwe mededingers in die landboumark hul landbousteun vermeerder en dus ál meer met Suid-Afrika meeding.
Die produsentesubsidie-ekwivalent (PSE) in die tabel is ’n omvattende maatstaf van staatsteun wat uitgedruk word as ’n persentasie van bruto landbou-inkomste. Die EU en Amerika het hul steun aan die landbou effens afgeskaal. Nuwe uitvoerlande, soos Indonesië, China en Kazakstan, het hul staatsteun aan die landbou vergroot. En dít terwyl steun aan die landbou in Suid-Afrika meer as gehalveer het.
Saam met Australië en Nieu-Seeland is Suid-Afrika een van die kommersiële landboulande met die minste staatsteun aan die landboubedryf. Die verskil is dat baie navorsing, debatte en aksies in Nieu-Seeland en Australië van stapel gestuur word om hul landbou uiters mededingend te hou. Dit is nie noodwendig in Suid-Afrika die geval nie. Tabel 1 toon ook die gemiddelde invoertariewe op landbouprodukte in die betrokke lande.
toon ’n opsomming van die belangrikste landboulande waarheen Suid-Afrika uit- en invoer, asook die bedrae wat ter sprake is. Van dié lande waaruit ons invoer, is regstreekse mededingers met Suid-Afrika. Van hulle kry heelwat meer staatsteun as plaaslike boere.
Onthou, Suid-Afrika se belangrikste uitvoerbedrywe is basies vrugte en wyn na Europa en wol na China, waar ons wel kan meeding. Die meeste ander groot landboubedrywe in Suid-Afrika is egter die afgelope paar jaar onder aansienlike druk.
Die bedrywe is al minder mededingend teen ingevoerde produkte en hulle voer moeilik uit.
Met ’n nuwe bedeling in Zimbabwe is daar die gevaar dat die markte van Suid-Afrika se uitvoerboere in Zimbabwe en selfs Mosambiek ál meer onder druk gaan kom. Dit maak dit nóg dringender vir Suid-Afrikaanse boere om nuwe uitvoermarkte te soek.