Moenie skuld maak met wild — Japie Grobler
Een van Suid-Afrika se topboere maan diegene wat wild by hul huidige besigheid wil voeg, om hulle te vergewis van al die risiko’s wat daaraan verbonde is, berig CHARL VAN ROOYEN.
MOENIE geld leen om met wild te begin boer of om duur, skaars wild met ongewone kleure te koop nie. Dit kan fataal wees omdat dit die boerderyrisiko’s soveel sal verhoog dat die boerdery nie volhoubaar sal wees nie. Begin eerder op ’n kleiner, bekostigbare skaal en konsentreer op jag en vleisverkope.
Aan die woord is mnr. Japie Grobler, boer van die plaas Karookom by Bothaville, voorsitter van Agri Securitas en die eenheidsforum vir die landbou (Asuf) en voormalige voorsitter van Graan Suid-Afrika, Senwes en Agri Suid-Afrika.
Hy is een van die sprekers op die Aldam-wildskool wat op 14 en 15 Maart by Aldam naby Ventersburg deur die Lewendehawe Registrerende Federasie (LRF) met Landbouweekblad as mediaborg gehou word.
Buiten graan en vee boer Japie ook met wild by Vredefort, waaronder elande, koedoes, waterbokke, rooibokke, njalas, sebras, volstruise en kameelperde. Hy teel ook buffels by Burgersfort. “Die wildboerdery het as ’n stokperdjie begin, maar mettertyd het die wildgetalle só uitgebrei dat ek na die bemarkingsmoontlikhede moes kyk. Veral boogjag is baie gewild.”
VERMY SKULD
Vanuit sy wye ervaring as boer enlandbou-ensakeleierpleithy by wildboere om nooit skuld te maak om wild te koop nie, veral nie om ’n wildboerdery te begin nie. “Nooit nie! In die huidige, stram ekonomiese toestande maak ’n mens nie skuld nie. Jy moet uitbreidings of nuwe fasette alleenlik vanuit die res van jou boerderybates aanpak. Dus moet jy genoeg ander bates hê om te begin om wild aan te hou.”
Hy verwys na die skerp daling in die prys van skaars wild, veral kleurvariante, waarvoor mense aanvanklik reusepryse betaal het. Toe het die vraag die aanbod oorskry, maar namate dié wild volop begin raak het, het die aanbod groter as die vraag geword en pryse het gedaal.
Japie sê boere sukkel in elk geval om finansiering vir wildaankope te kry omdat wild nie as kollateraal aangebied kan word nie, ander as met gewone boerdery.
“Ek sal dus geen jong mens aanraai om onversekerd skuld temaakommetwildteboernie. Volg eerder dieselfde beginsels as met ander boerderyvertakkings. Jy kry makliker lenings vir graanof veeboerdery.”
EIE KAPITAAL
Toe hy sy wildvertakking begin uitbreihet,hethyditmeteiekapitaal gedoen deur klein teelgroepies te koop. Hy het ook seker gemaak dit is van die nodige gehalte, wat uiters belangrik is – net soos wanneer ’n veeboer bulle en koeie of ramme en ooie aanskaf. Die diere moet oor meerderwaardige genetiese eienskappe beskik om op ’n hoë vlak te begin of om bestaande kuddes se gene te verbeter.
“Moenie dink jy kan met ’n bang inklim nie, want jy sal niemand beïndruk nie.
“Die wild wat jy koop, moet ook by jou boerdery- en klimaatstoestande aangepas wees. Vind vooraf uit of jou heersende grasse en struike die soort voeding bied wat die wild verkies wat jy in die oog het. Die wild moet gesond wees en vinnig kan aanteel,” sê Japie.
Hy wys daarop dat dit in wildboerdery, soos in enige ander bedryfsvertakking, gaan oor vraag en aanbod. As daar te veel van ’n produk is, daal die prys. Volgens Japie het die skaarswildbedryf in die begin té vinnig gegroei. Gevolglik oortref die aanbod nou die vraag. Alle mense kan dit in elk geval nie bekostig om peperduur wild te koop nie.
Hy raai wildboere aan om eerder na ander aspekte van wildboerdery, soos jag, te kyk om dit volhoubaar te maak. Suid-Afrika se wetgewing rakende jag maak die land ’n gesogte bestemming vir buitelandse jagters.
VLEIS
Wildsvleis kan wildboerdery ook volhoubaar maak. Suid-Afrika is weer ’n netto invoerder van rooivleis en wildsvleis is ’n goeie bron om bees- en skaapvleis aan te vul. Wildsvleis vind algaande ’n vastrapplek by verbruikers – nie net in die vorm van biltong en droëwors nie, maar ook as rooivleis. Dit is reeds baie gewild in ander lande en bied dus ook goeie uitvoermoontlikhede.
“My raad aan iemand wat met wild wil begin boer, is om die mark vir rooivleis op die intreevlak te betree, naamlik by die slaghuis op die dorp. Daarna kan wildboere in groepe saamwerk om wildsvleis aan supermarkte te lewer. Uiteindelik kan hulle die uitvoermark oorweeg.”
Die Aldam-wildskool word deur Epol, Standard Bank Unistel en Mbogo Wildlife Ranch geborg. Sien bl. 76 vir nog inligting en programhoogtepunte.