Kenners sluk swaar aan groot geld vir grond
DIE Regering se voortgesette besteding aan die koop van plase vir grondhervorming, sonder dat dit tot suksesvolle boerderye lei, het kritiek op ’n paneelbespreking van Absa-Agribesigheid en die landbousakekamer Agbiz oor die begroting uitgelok.
Dr. John Purchase, Agbiz se uitvoerende hoof, het gesê die bedrag van R4,2 miljard in die begrotingstoespraak vir die verkryging van 291 000 ha grond, versterk sy vrae oor die voorrangsake in die begroting.
Hy meen daar was nie in die toespraak ’n balans tussen wat aan maatskaplike sake bestee gaan word, teenoor wat in die groei van die ekonomie belê gaan word nie.
Prof. Ferdi Meyer, direkteur van die Buro vir Voedsel- en Landboubeleid (BFAP), het gesê terwyl nóg geld toegewys word om nóg grond te koop, bly die vraag steeds wat dan met die grond gebeur.
Meyer het gesê daar is ’n groot behoefte aan ’n omvattende produsente-opname sodat ’n mens kan weet wie watter grond besit en watter produsente ondersteuning moet kry.
Volgens Purchase wil landbou-sakeondernemings die Regering nader met voorstelle oor wetgewing rakende die herverdeling van grond, sodat amptenare meer aanspreeklikheid moet aanvaar.
Mnr. Andrew Makenete, ’n konsultant in die landbou en lid van die gehoor, het daarop gesê: “Mense wíl nie aanspreeklik wees nie. Hulle hou daarvan om grond te koop, want dan is geld bestee en hulle hoef nie rekenskap te gee nie.”
DADE, NIE WOORDE
Dr. Langa Simela, sake-ontwikkelingsbestuurder van AbsaAgribesigheid, het gesê daar is elke jaar beloftes dat swart kommersiële boere ontwikkel gaan word.
“Ons sien nie die boere na vore kom nie. Die grootste uitdaging is hóé die geld bestee word, asook die doeltreffendheid van besteding.” Verder meen sy doeltreffendheid ly weens ’n gebrek aan koördinering.
Volgens mnr. Wessel Lemmer,
landbou-ekonoom van AbsaAgribesigheid, het Suid-Afrika onlangs goed gevaar in ’n wêreldindeks oor die deursigtigheid van nasionale begrotings, maar dié deursigtigheid word nie na die besteding van die geld deurgevoer nie.
“Ons behoort die spoor te kan volg van hoe R200 miljoen aan die Vrede-suiwelprojek bestee is,” het hy gesê.
Lemmer was wel optimisties dat die begroting vir eers verdere kredietafgraderings van Suid-Afrika kan voorkom.
Hy het gesê die rand het tydens die lewering van die toespraak versterk.