Miljarde vir stryd teen verval van waterstelsels
TE midde van ’n knellende droogte en die ernstige verval van waterinfrastruktuur het die Tesourie R126 miljard in die mediumtermyn-bestedingsraamwerk (die volgende vyf jaar) bewillig vir die opgradering en instandhouding van waterinfrastruktuur en beleggings in waterdienste.
Daarvan gaan altesaam R91,6 miljard vir waterinfrastruktuur gebruik word en R34 miljard vir waterdienste, grootliks via munisipale toelae.
Skaars ’n week nadat die droogte in die Wes-Kaap, die Oos-Kaap (waaronder die Nelson Mandelabaai-metro) en die Noord-Kaap tot ’n nasionale ramp verklaar is, het mnr. Malusi Gigaba, Minister van Finansies, soos pres. Cyril Ramaphosa, in sy begrotingsrede ’n beroep gedoen op Suid-Afrikaners om water te bespaar.
“Suid-Afrika is ’n waterskaars land en daar is ’n groot vraag na water- en sanitasiedienste om in die behoefte van die ekonomie en die groeiende bevolking te voorsien.
“Daarom is (die Regering se) planne daarop gerig om die houvermoë van damme op lang termyn te vergroot in die lig van klimaatsverandering wat op ’n warmer en droër toekoms dui,” het hy gesê.
SAMEWERKING
Gigaba sê die Regering sal aanhou om met munisipaliteite saam te werk om met doeltreffende maniere vorendag te kom om die droogte te bestuur. Hy sê die geskikte manier om op die droogtekrisis te reageer, is om watergebruik te verminder en opgegaarde water te beskerm.
Hy meen ’n interregeringsbenadering is nodig om landbou- en stedelike watergebruik te bestuur.
Hoewel die Stad Kaapstad sy somerwaterverbruik van 1,2 miljard liter per dag tot minder as 600 miljoen liter per dag verminder het, moet waterverbruik verder tot minder as 500 miljoen liter per dag in die somer en herfs (tot Julie vanjaar) verminder word.
Volgens Gigaba is dit onmoontlik om op groot skaal nuwe watervoorsieningsvermoëns te skep om die korttermynuitwerking van die droogte te verminder.
Soos bevestig deur interna- sionale kenners, is tydelike kleinskaalse ontsoutingsaanlegte duur en sal dit geen werklike verskil maak om water te verskaf nie.
Die Stad Kaapstad en die Departement van Water en Sanitasie sal moet ooreenkom op planne om grondwaterhulpbronne te ontwikkel, afvalwater deurgaans te hergebruik en kostedoeltreffende ontsoutingsvermoëns daar te stel.
VOLHOUBARE PLANNE
Volgens Gigaba is die Regering daaraan toegewy om die beskikbare water te bestuur en te verseker dat daar in basiese behoeftes voorsien word, terwyl volhoubare, langtermynplanne uitgevoer word.
Hy sê die Regering is gereed om, waar nodig, die volgende bystand te lewer: R6 miljard word in 2018-’19 vir droogtehulp en openbare belegging opsygesit om die watersektor te ondersteun en openbare beleggingsprojekte te versterk. Die Regering is bekommerd oor potensiële werkverliese in kwesbare boeregemeenskappe. As dit gebeur, sal die Regering die Werk vir Water-program tydelik uitbrei om werksverliese op plase te beperk. Die Wet op die Verdeling van Inkomste maak voorsiening dat voorwaardelike toelaes hertoegewys kan word vir ramphulp. Bykomende finansiering kan in 2017-’18 vir onmiddellike ingrypings, soos versnelde grondwaterontginning, bestee word. Ramphulptoelaes vir provinsies en munisipaliteite ter waarde van R432,7 miljoen in 2017-’18 en R472,9 miljoen in 2018-’19 kan in noodgevalle op kort kennisgewing bestee word.