Landbouweekblad

So ’n vark! (Uitspantyd)

Die dag toe ’n vlakvark met oom Martiens afgereken het, het hy ’n belangrike les geleer.

- KOOS BARNARD

Kola, het jy al met ’n willevark slaags loop raak? Só vra oom Martiens terwyl hy oor sy blikbeker na die vlamme toe korrel. “Willevark, Oom?” vra ek. “Ja, man, daai balielyfva­rke metie sterte wat so kiertsrego­p staan as hulle hardloop. Wat noem julle die goed tog?” “Vlakvarke?” “Ditsem, Kola. Verpesting se kontant-astrante wielneuste darie. Jy sal sweer hulle het notice van ou queen Victoria self gekry lat die hele veld aan hulle behoort.” “Hoe so, Oom?” vra ek. “Jong,” sê oom Martiens, “dié vertel ek jou nou. Sôre eers hier vir ’n knertsie, my beker se boom is droër as ’n boorgat in die Sinai-woestyn.”

Ná die eerste slukkie geselswate­r knyp oom Martiens sy oë bot toe, klap sy tong behaaglik en toe skop sy gesels weer in rat.

“Kola, dit was ’n koue wintersmôr­e, Depressiej­are se tyd. Só koud lat dit my smaak die son het ook metie Depressie sy gat gesien. Ewenwel, jou pa en ek was aan’t jag dour skuins annerkant Windhoek op Karamba.

“Ons het ’n klomp koedoes gewaar, maar hulle is vort teen ’n kliprant uit. Nou ja, jou pa was mos ’n besige entjie mens en hy wou opsluit agter die spul skottelore aan. Ek het maar agtergebly, want my longe willie meer so lekker ghêrs change teen die skuinstes nie en my bene is ook al kapoet.

“Ek maak my toe sit voor ’n rosyntjieb­os wat so skuins neffens ’n groot erdvarkgat staan. Lekker sit ek toe daar innie melktand-sonnetjie en vat notice van allie klein gogga-goetertjie­s en voëltjies en so aan vannie Skepping. Só ingedagte loop staan en raak ek van allie vrede in my hart lat ek sommer later die Mauser plat oppie grond langs my lat lê.

DIE AANVAL

“Hoe lank my gedagtes so gedwaal het, weet ek nie, maar iets het my plotseling gewaarsku om links te kyk. Daar, innie tregterbek van die erdvarkgat, staat ’n wille varkie my en betrag. So naby lat ek skrik en skoon regterkant toe omval. Dis toe lat daai varkie met ’n snork wegvlieg, met nog drie van sy boeties wat agterna tou.

“Ek vlieg op, half onvas vannie skrik en bevind my toe reg vorie bek vannie gat. Net toe, Kola, maak ’n groot vark sy verskyning. Ene met onheil in sy hart. Ek dans en pypkan soos Mannetjies Roux, maar daai wielneus volg my soos ’n geleide missiel, skerpkant vorentoe, reg vir byt.

“Ek slaat toe neer met die balievark amper op my. Skop was al raad en ek laat my bene so vinnig werk sôsie pistons van Schumacher se resieskar. Dis net een bolling stof soos ek ennie vark mekaar rev daar innie veld.

“Toe die stof effens loop lê, kom ek agter my bene piston nog in overdrive, maar die wielneus is skoonveld. Asvaal vannie stof en skrik maak ek myself bymekaar. Dis eers toe ek regop staan, lat ek die groot skeur in my broek, die liederlike sny aan my regterkuit en die pyn ontdek.

“Toe jou pa terugkom, moes hy die mouter loop haal, want ek kon nie lekker stap nie.”

Oom Martiens het so gevat-vat na sy regterkuit en weer die blikbeker uitgehou. “Sôre dan net vir die ou weeskindji­e hier. My keel is sommer van nuuts af benoud gebaklei met daai vark.”

Oom Martiens het geril, so asof hy weer daardie oggend se koue en varkgeveg aan sy lyf kon voel.

“Kola, laat ek jou een ding sê. Pasop vir te veel vrede innie hart. Dit maak jou blind vir onheil . . . En vat raad van ’n ou man. Onheil het baie vorme, dis nie net iemand of iets wat jou liggaamlik wil kom staan en henner nie.”

Koos Barnard is redakteur van SA Jagter/SA Hunter, Landbouwee­kblad se susterstyd­skrif.

 ??  ?? Vir oom Martiens is vlakvarke niks anders as “verpesting se kontant-astrante wielneuste” nie.
Vir oom Martiens is vlakvarke niks anders as “verpesting se kontant-astrante wielneuste” nie.
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa