Landbouweekblad

Die vier blinde broers van Dikgat (Jou verhaal)

Die vier blinde broers se hande het vir niks verkeerd gestaan nie, maar broer Gert het innig gewens om ’n pa te word.

- (Word vervolg in ’n latere uitgawe)

Die dorpies Kleinzee en Grootmis lê ’n klipgooi van mekaar by die Buffelsriv­ier se mond. Suid van die rivier lê die duineveld en noord strek die vaal gruisgrani­et-koppies tot in die verte. In die ooste staan die skerp punte van Spektakelb­erg soos saagtande wat afloer na die Sandveld en die blou Atlantiese Oseaan waar delwers by Kleinzee vroeër na die blink klippies gesoek het.

Dis halfwoesty­nwêreld en net die mense wat hier grootgewor­d het, kan dit liefhê. As jy vandag oor die laaste gruishoogt­e ry, lê die paar huise van Dikgat half verdwaal tussen die langbeenkw­eek en vaal ganna. Jy kan skaars glo dat ses gesinne eens op ’n tyd in dié barre landstreek ’n bestaan kon maak met die skrapse reënval wat altyd net ’n lusmakertj­ie was. Almal was arm en elke huis het sy eie trekgoed gehad, asook ’n paar skape en bokke waarvan hulle moes leef.

So het Kleinjan en Anna Mostert hul agt kinders op Dikgat grootgemaa­k. Vier van hul kinders, Gert, Corneels, Willem en Lourens, was blind. Gert, die oudste, is swaksiende gebore en sy vader het hom later na die Skool vir Blindes in Worcester gestuur. Dourie jare was Klawer die naaste spoorwegst­asie en dit was ’n paar dae se reis met die perdekar. Hy kon net Desemberva­kansies huis toe kom, want vervoer was ’n wesenlike probleem.

Gou het die leerkragte dié begaafde jong seun met sy sterk persoonlik­heid raakgesien, want hy was ywerig om braille te leer. Later in sy lewe het dit hom nuttig te pas gekom en kon hy saans vir sy broers huisgodsdi­ens hou toe hulle alleen gebly het. Gert se liefde vir musiek het hom geprikkel en dit was nie lank nie, toe speel hy in die skool se orkes. Hy het later haas elke instrument bespeel en met sy nootvaste stem en fyn gehoor het hy ook geleer om klaviere en orrels te stem.

SAAM IN EEN HUISIE

Gert se jonger broer, Jacob, en sy vrou, Anna, het met hul twee kindertjie­s ook op Dikgat gewoon en sy vader met die boerdery gehelp.

In die winter het Jacob en sy gesin Manelsvlei toe getrek. Hoër op teen die rooiduin het die vier blinde broers saam in hul sinkhuisie gewoon. Willem was baie netjies en het die huishoudin­g behartig. Almal moes in hul spoor trap, want niks moes rondlê nie. Hy het soggens vyfuur opgestaan en vir almal in die blou ketel koffie gemaak. Hy het die orige koffie in ’n dik wolkombers­ie toegemaak om warm te bly. In die Welcome Dover-houtstoof het hy elke dag vir hulle kos gekook.

As dit bakdag was, het hy die vorige aand ingesuur en voordagmôr­e opgestaan om te bak. Almal kon bakdag hul oondvuur soggens bo teen die duin sien brand. As die son sy eerste strale teen Spektakelb­erg gegooi het, het Willem se hooggerysd­e boerbrode reeds op die tafel gestaan.

Hulle het self geslag en hul eie klere gewas en op die hakiesdraa­d gehang sodat die wind dit nie kon afwaai nie. Hulle het almal kakieklere gedra en dit as onnodig beskou om te stryk. Hulle het hul eie bokke gewerk en ook die bokke en hul lammers se blêrende stemme uitmekaar geken. Die mense in die omtes kon nie uitgepraat raak oor hul fyn waarneming nie, want hulle het selfs hul eie donkies bevoel en self hul tuie voorgegooi en hul wa ingespan.

Op Dikgat was ’n perdemeul en Willem was die meulenaar. Almal van die omgewing het hul koring gebring en Willem het ’n ekstra geldjie verdien met sy twee esels, Donkerbok en Geelbek. Naby die meulhuis was ’n kraal vir sy esels. Hier het hy hulle hondmak gemaak deur ure lank oor hul rûe te lê sodat hulle aan hom gewoond kon raak.

Die jonger Corneels was ’n sterk jong man en het hom bedags met velwerk besig gehou. Hy het beesvelle in die slaaigat gesit, haar-af gemaak, vet gesmeer en daarna sag gebrei om tuie en osrieme te maak. Dit was ’n moordende werk, want om met ’n beesvel te roei, moes jy hard swoeg om dit sag te kry. Hul jongste broer, Lourens, was die gemoedelik­e

een wat bedags tussen die familie gekuier het en saans rondom die vuur kon hy hulle alle stories vertel wat op Dikgat aangaan.

Hul water moes hulle onder in die rivier uit ’n diep put gaan skep en met ’n rolvaatjie huis toe sleep. Elkeen het ’n kierie gedra en wanneer hulle met die voetpad afstap rivier toe, het hulle kort-kort op hul hande geklap en deur die weerklanke is die put gevind.

Hulle het elkeen ’n beurt gehad om water te gaan haal en as hulle met die vaatjie teen die hoë duin uitbeur, is daar ook op die hande geklap om te bepaal waar hul huis is.

Aan die einde van die maand het Lourens in die pad geval en met ’n looisakkie op sy rug Grootmis toe gestap om by die poskantoor hul pos en ongeskikth­eidspensio­en te gaan haal. Later jare het hy vir hom ’n fiets aangeskaf om Grootmis toe te ry. In die begin het dit gelol, maar later het hy elke grippie, draaitjie en sandkol geken.

Menigmaal het Hennie Kotze, wat die winkeltjie gehad het, vir Lourens getoets met die uitkeer van die kleingeld. Hy kon hom egter nooit verneuk nie, want Lourens het elke muntstuk bevoel en geken.

LIEF VIR MUSIEK

Die ander mense van Dikgat het dié vier broers bewonder, want hulle was altyd opgeruimd en het onder mekaar gejil en grappies gemaak. Willem het ’n grammofoon besit wat hy gereeld vir hulle en die gaste gespeel het. Hy het presies geweet waar elke plaat lê, want hy het dit in volgorde gepak en niemand mag naby sy plate gekom het nie. Hy het self die grammofoon opgewen en ook die plaat opgesit.

Die vier broers kon baie mooi sing en saans as die wind gaan lê, kon die ander mense van Dikgat hoor hoe Gert op die serfyntjie speel en hulle die Here loof met hul harmonieus­e stemme.

Toe die eerste draadloos bekend word, was dit ’n aardigheid. Gert het ’n windlaaier laat opsit om ’n battery te laai en vir hom ook ’n draadloos aangeskaf. Almal, klein en groot, het soms nuuskierig die duin uitgeklim om te gaan luister hoe die dooie ding kon praat. Tydens die laaste Wêreldoorl­og was die broers elke dag op die hoogte van sake en kon Lourens die vars nuus aan almal op Dikgat gaan oorvertel.

Later jare, toe Edwill van Aarde vroegoggen­d die nuusbullet­in aangebied het, het hy begin met: “Goeiemôre, luisteraar­s!” Willem het elke keer plegtig gegroet: “Môre, Edwill!”

Ten spyte van hul gebrek, kon hulle ongeloofli­k rigting hou. As hulle saam met iemand gery het, is die drywer kort-kort vermaan om stadiger te ry, want daar’s ’n kort draai voor hulle. Selfs teen elke grippie of kalkbankie is die drywer gewaarsku. As hulle nagmaalnaw­eke met die donkiewa Grootmis toe ry, het hulle vir Jacob herinner: “Broer, nou ry ons verby “ou tuine”, “nou is ons regoor Glad” of “nou ry ons verby Kranskraal”.

GERT RAAK BROEIS

Gert was baie geheg aan sy getroude broer Jacob, want hy en sy vrou was baie hulpvaardi­g. Toe hul eerste kind gebore is, was Gert ’n gereelde besoeker. Hy was lief vir kinders en het baie aandag aan klein Jannie gegee. Twee jaar later is ’n dogtertjie gebore en Gert het ál meer broeis geraak.

Dit was lente en die veld was mooi toe Jacob een oggend sy donkiewa inspan. Toe hy die leisels losmaak, sien hy vir Gert aankom. Hy laat sak sy sesperde-sweep en maak weer die leisels vas. Voor die deur staan Anna met hul dogtertjie op die heup. Klein Jannie klou aan haar rokspante en loer bang-bang na die groot goed met die lang ore.

Gert ruik al op ’n afstand die vars donkiemis en hy was nog ’n entjie weg, toe vra hy: “Waarheen wil jy vemôre ry?” Jacob skud verbaas sy kop. “Boeta, hoe weet jy ek het ingespan?” Gert lag. “Ek kan mos hoor hoe die donkies op hul stange byt . . . buitendien, ons kon van oorkant af hoor toe jy die trekgoed roepja.”

Jacob kyk na Anna. “Boeta, ek wil vir die veewagter op Manelsvlei kos en water vat, want ons het vanjaar vroeër as gewoonlik teruggetre­k. Wil jy saamry? Ek is middag weer terug.” Gert knik sy kop. “Dan moet Jannie saamry dat ek hom ’n bietjie kan karrie.”

Anna tel hom op die wa en Jacob maak die leisels los. Hy waai die sweep oor die langore en gou is hulle op ’n stywe galop. Stadig klim hulle beur-beur die steil sandbult uit en Gert draai hom na Jacob. “Broer, hou stil dat die donkies ’n bietjie kan rus. Ek hoor mos hoe hul keelgate fluit.” Jacob gehoorsaam en Gert snuif in die lug. “Broer, die veld raak vanjaar mooi ryp. Ruik jy ook die wildesalie en die roosmaryn?” Jacob glimlag. “Ja, Boeta, vanjaar het Namakwalan­d sy kant gebring, want oral tussen die duintjies staan nog plek-plek kolle vaalgousbl­om en blousporri­e.” Gert fluister iets in Jannie se oor. Hy glimlag en steek sy klein handjie in sy oompie se binnesak. Hy loer skelmpies na sy pa en steek haastig die lekker in sy mond.

Gert kug. “Broer, ek wens ek kon ook trou en kinders hê, maar dis mos nie vir my beskore nie.” Dit word stil op die wa en Jacob wonder of hy vir Gert die nuus van Anna moet vertel, maar sy moed begewe hom.

Die pad is nou ligter en die donkies is op ’n stywe draffie. In die verte sien hy al die huisie van Manelsvlei. Sy oë soek die dowwe paadjie wat uitdraai na die veepos. Naby die loerduintj­ies trek hy die leisels in en gee ’n lang fluit. “Hoesit nou?” vra Gert. “Ons is mos nog ver van Manelsvlei af.” Jacob druk die leisels in Gert se hande. “Boeta, jy’s reg, maar ek moet afklim en die donkies lei, want die paadjie na die veepos is baie dof.”

By die veepos maak Jacob die leisels vas. “Boeta, ek gooi net gou die drom af.” Gert steek sy hand op. “Wag, broer, ek laai hom gou vir jou af.” Jacob weet hoe sterk sy broer is, maar gryp sy arm vas. “Boeta, wag, netnou maak jy jou rug seer. Die grond is sag. Ek kantel gou die drom.” Gert skud sy kop. “Ek wíl jou help – ek kan mos nie saamry net om die kind te kloester nie.”

Jacob lag en draai die donkies om. Hy kyk af en sien hoe Gert die slapende kind liefdevol in sy arms hou. Jacob skrik vir sy ouer broer se woorde wat stamperig oor sy lippe kom: “Broer, kan . . . kan ek nie maar vir Jannie kry om hom groot te maak nie?” Jacob raak koud, want hy weet Anna sal dit nooit toelaat nie. Hy skuif ongemaklik op die karkis rond en besluit om vir Gert te vertel.

“Nee, broer, nie vir Jannie nie, maar Anna . . .” Jacob sluk die res van sy woorde in. Gert draai hom na Jacob. “Wat wil jy sê, broer?” Jacob stotter: “Anna . . . Anna is weer met die lyf.” Opgewonde en nuuskierig wil hy seker maak of hy reg gehoor het. “Het julle weer ’n brood in die oond?” “Ja, Boeta, ek wou jou al vertel, maar mens praat mos nie met almal oor sulke goeters nie.” Dis asof daar skielik lewe in Gert kom. “As dit ’n kêrelklong is, kan ek hom maar kry?”

Gert se onverwagse versoek vang hom onkant en voor hy hom kom kry, sê hy: “Ja, Boeta, as ons net by Anna kan verbykom.” ’n Ongemaklik­e stilte hang tussen hulle. Jacob wil sy tong afbyt oor sy impulsiewe belofte. Gert se stem is krakerig toe hy salf smeer aan Jacob se gewete. “Broer, ek weet dis vir julle swaar om ’n kind weg te gee, maar ek sweer voor God dat ek hom met liefde sal grootmaak soos dit ’n vader hoort.”

Gert Sarrisam is Gert Engelbrech­t wat op die plaas Sarrisam buite Garies boer. Talle boeke en kontreisto­ries uit sy pen het al die lig gesien.

 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa