DIE LUI OPSIE
Nes ’n mens effens wil asem skep ná die nagmerrie van die Zuma-jare, staan ons weer voor die afgrond. Niemand weet hoe ons hier gekom het nie. Almal het gehoop Suid-Afrika sal weer normaliseer sodat ons kan begin om sinvolle, werkbare en bekostigbare oplossings te vind vir ons groot probleme ná die onvergeeflike verkwisting in die Zuma-era, wat vordering ’n dekade lank gestrem het.
Sonder twyfel is die heel grootste probleem dat te veel mense steeds werkloos is. Hoe bou ons, sommer vinnig, die ekonomie vir meer mense uit? Ná jare se gepraat weet ons eintlik wat om te doen, want dit staan alles in die Nasionale Ontwikkelingsplan.
Tog besluit ons om eerder intellektueel lui te wees pleks van ons gesonde verstand te gebruik. Ons breek eerder af as om te bou, al moet ons populistiese emosies aanwakker en diefstal grondwetlik laat lyk. Want dít is waarop onteiening sonder vergoeding neerkom. Ons besluit om die verkeerdste ding denkbaar te doen om ’n probleem op te los wat ons nie eens verstaan nie. Julius Malema het sy mosie in die Parlement op foutiewe syfers gegrond (sien bl. 14-15). Ek glo nie hy het al na ADS en Landbouweekblad se grondoudit gekyk nie. Hy sê eerder wat hy wil. Dit is mos hoe goedkoop politiek werk.
Politici steur hulle nie aan die feite wat soos ’n paal bo water staan nie, soos dat die grootste druk vir grond om stede is. Dit is waar die meeste mense woon. (Navorsing bewys die landelike grondkwessie, soos Malema dit probeer verkoop, is baie laag op die meeste Suid-Afrikaners se lys van voorrangsake.) Suid-Afrika verstedelik teen ’n skrikwekkende tempo. Sonder ’n behoorlike kommersiële landbousektor sal winkelrakke leegloop. Dit is ’n feit, nie bangmaakpraatjies nie. Dinge kan baie vinnig baie lelik raak as miljoene mense sonder kos is.
Nou bring ons wat sekerlik Suid-Afrika se belangrikste strategiese bate is in gedrang. Ons wêreldklas-landbou bestaan nêrens anders in Afrika nie. ’n Mens kan net jou kop skud.
Ons het meer as genoeg werkbare modelle om die landelike grondkwessie aan te pak. Die Witzenberg-PALS-projek, Wiphold en Amadlelo Agri is seker die innoverendste projekte in hul soort. Met net die minimum staatshulp kan wondere verrig word, maar ons kan nie eens dít bybring nie. Die volslae gemors wat die staat van grondhervoming gemaak het, is ’n skande. Selfs die vrye mark, wat graag deur politici verguis word, het al dubbeld soveel grond aan Suid-Afrikaners verskaf as die staat.
Pres. Cyril Ramaphosa se ANC was glo versigtig om die mosie te wysig met die voorwaarde dat die ekonomie nie in die proses van onteiening sonder vergoeding geskaad mag word nie. Dit laat ’n mens net weer besef hoe siek en sat jy is vir die politiek en politici, wat in die afgelope dekade niks reggekry het behalwe om staatsondernemings te plunder en die land se ekonomie tot op die rand van die afgrond te bring nie. Dít was hul bydrae.
Nou moet ons gedweë toekyk hoe hulle wettige grondeienaars tot tweedeklasburgers verklaar. Dit gaan nie gebeur nie. Die georganiseerde landbou sal hand en tand baklei. En later sal die groter sakesektor ook intree. En dan gewone Suid-Afrikaners, want dié probleem is nie ’n landbouprobleem nie, maar ’n landsprobleem.
— CHRIS BURGESS