Landbou sien rooi oor grond
NOG nooit was die debat oor grond, en meer spesifiek onteiening sonder vergoeding, seker so warm as die afgelope paar dae sedert ’n mosie in die Nasionale Vergadering aanvaar is vir veranderinge aan die Grondwet om voorsiening daarvoor te maak nie.
Skielik weet niemand meer of gesonde oordeel en die stem van redelikheid uiteindelik sal seëvier nie en of die regerende party dan werklik so vasbeslote is om sy politieke doelwit te bereik dat hy bereid sal wees om die landbou en die ekonomie in die proses te vernietig nie.
Die reaksie was wyd en uiteenlopend. Van vergete ou politieke partye uit die verre verlede wat dreig om die wapen op te neem tot beroepe op die buiteland om die besluit te veroordeel en dreigemente van regsoptrede.
Manie kan nie glo dat ’n nugter denker soos pres. Cyril Ramaphosa nie die vernietigende gevolge kan insien nie. Jannie de Villiers van Graan SA glo ook daar is nog genoeg mense in die Regering wat bewus is wat die vernietigende uitwerking van onteiening van grond sonder vergoeding sal hê.
Talle kenners het die gevolge die afgelope tyd uitgespel. Die landbou-ekonome prof. Johann Kirsten en Wandile Sihlobo het twee baie pertinente kwessies uitgelig. Grond op sigself is maar ruweg 10% van ’n tipiese boerdery se waarde. Die res is goed soos infrastruktuur en werktuie. Gaan dit ook sonder vergoeding onteien word? Sonder dit kan daar in elk geval geen produksie wees nie.
Tweedens word plaasskuld met die grond self verbind omdat die titelaktes as sekuriteit dien en dit beloop na raming reeds R160 miljard. Gaan die banke daarvoor vergoed word of word R160 miljard se boekwaarde net vernietig? As die Regering eiendom verniet gryp, sal iemand elders in die ekonomie daarvoor betaal.
Cas Coovadia, besturende direkteur van die Bankvereniging van Suid-Afrika, het sy stem hierby gevoeg en gesê dit kan die land se ganse finansiële stelsel bedreig. Hy sê die land se banke het meer as R180 miljard aan die landbou in totaal uitgeleen. As grond nie meer as sekuriteit kan dien nie sal ernstige probleme ontstaan. Dit sal ook beleggings ontmoedig.
Ook dr. John Purchase, uitvoerende direkteur van Agbiz, waarsku dat eiendomsreg ’n sleutelbestanddeel vir die vooruitstrewendheid van ’n gemeenskap is. Die feit dat eiendomsregte nie uitgebrei word na die meeste burgers nie, vererger die ongelykhede in die land en nie die beginsel van eiendomsreg nie.
‘VLIEG OF VREET?
Die ou garde onthou seker oudminister Hendrik Schoeman se vraag in die Parlement na aanleiding van die SAL se klagtes oor kos: “Wil julle vlieg of wil julle vreet?” Nou vat Jannie Div ’n ander dilemma met dieselfde woorde saam.
’n Mens gooi sommer spontaan saam met hom hande in die lug oor ons regeerders se misplaaste prioriteite. Want toe die georganiseerde landbou hulle nader oor die moontlikheid van staatswaarborge vir produksiefinansiering aan die begunstigdes van grondhervorming, was die antwoord glo: “Nee. Baie jammer. Julle is te laat, want die SAL en Eskom het klaar al daardie reserwes opgeslurp”.
Manie bevraagteken nie die waarheid daarvan nie, want die laaste keer wat hy gekyk het, het staatswaarborge R477 miljard beloop. Die grootste deel daarvan is vir hierdie twee wanbestuurde reuse. Om