Landbouweekblad

GRONDPAD EN ROLSTOEL

-

Mnr. Sarel Hayward, bestuurder van Sybokhaar SA se bemagtigin­gstrust, ry jaarliks maklik 60 000 km om plaasbesoe­ke af te lê en volhoubaar­heidswerk vir Sybokhaar SA te doen. Hy is sedert sowat ’n dekade gelede in ’n rolstoel, maar die grondpaaie, pap bande en plaashekke is alles deel van ’n dag se werk.

Dit is danksy sy hond dat hy vandag nog lewe, sê hy. “Ek het by Steytlervi­lle geboer en op ’n draai beheer oor my bakkie verloor.” Hy beduie na die bestuurder se venster. “Ek is hier uit, en daar lê ek toe – 600 m van waar ek grootgewor­d het.”

Sy eenjarige hond, Tjommie, was agter op die bakkie toe dit gerol het. “Mense het die slag gehoor en aangekom. Toe ek my arm wou uitsteek dat hulle my optel, het Tjommie begin byt. As hy nie gekeer het dat ek beweeg nie, sou ek heeltemal verlam gewees het, want my C4-nekwerwel was vergruis — die rugmurg het daar gebreek. Ek dink eintlik nie ek sou enigsins oorleef het nie.”

Dit wys jou net watter sterk band jy met ’n hond kan bou, sê Sarel. Tjommie is vandag afgetree. Hy kruip graag onder die rolstoel in en lê daar.

DIE LANGPAD

Sarel ry ’n outomaties­e bakkie wat só ingerig is dat hy net sy hande nodig het om te bestuur.

“Glo dit of jy wil of nie, ek maak baie hekke oop. Jy beplan net beter en gee ’n bietjie grasie om dit in te sluit.”

Sarel moes in ’n stadium naby Murraysbur­g ’n plaaspad met 12 hekke aandurf. “Enigeen wat heelpad só moet uitklim en inklim, voel of hy nooit daar gaan uitkom nie.”

Die sleutel is om nooit vir jouself sê jy kan nie, sê Sarel. “As jy vir jouself sê jy gáán hierdie hek oopmaak, sal jy dit regkry.

BOERDERYBE­DRYWIGHEDE

“Ek glo om in die landbou te wees, is om op die regte plek in Suid-Afrika te wees,” sê Sarel. “Dit geld veral wanneer ons met kommoditei­te boer waar daar soveel potensiaal misgekyk word.”

Die beste raad wat hy nóg gekry het, was om sy grond te verhuur. “Oom Frikkie van der Vyfer van Willowmore het vir my gesê: Verhuur jou grond en gebruik jou graad. Dit was 17 jaar terug beslis goeie raad.

“Tye het egter verander en ek dink die rede waarom hy dit gesê het, was eenvoudig om ’n breër visie te ontwikkel. Jong boere wat nie blootstell­ing aan die wêreld daar buite kry nie, kry tonnelvisi­e. Ek kon my vlerke sprei.”

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa