Landbouweekblad

‘Daar is altyd drome om na te jaag’

Mark le Roux, Waterford se wynmaker wat pas as Jong Wynmaker van die Jaar aangewys is, is al van jongs af geboei deur die invloed van terroir op die gehalte en produksiev­ermoë van wingerde.

-

Jy kan seker maar sê ek is ’n gebore terroir-is, sê Mark le Roux (32), wat einde verlede jaar aangewys is as die Jong Wynmaker van die Jaar in Tim Atkin se gesaghebbe­nde Suid-Afrikaanse Spesiale Verslag.

Toe Mark in 2013 deur sy mentor, Kevin Arnold, as wynmaker by die Stellenbos­se landgoed Waterford aangestel is, was dit ’n groot droom wat bewaarheid is. Maar nou, vier jaar later, met dié eerbewys, besef hy daar sal altyd drome wees om na te jaag.

“’n Mens kan sê ek is gebore om terroir te waardeer. My pa was betrokke by bosbou. Grond en plante was daarom altyd in die omtrek, of dit nou gesprekke aan tafel was of uitstappie­s in die natuur.

“As ’n laaitie het ons tyd in Maleisië en Indonesië deurgebrin­g en dit het my belangstel­ling in die wêreld se diverse plantlewe en groeisiklu­sse net aangevuur.”

Op Waterford, in die Helderberg-wynstreek, kry hy elke dag hiermee te doen.

“Waterford se grond is ongeloofli­k. Daar is graniet, Tukulu en selfs Oakleaf. Namate ek die plaas beter leer ken het, was ek egter verbaas om uit te vind hoe arm is die gronde hier, en in die algemeen in die Helderberg-streek. Klipperig. Rotse. Ondeurdrin­gbare dele. Dat die wingerde sulke fantasties­e vrugte in hierdie toestande dra, bly een van die redes waarom wynmakery en wynboerder­y my so boei.”

Vir enige ander wynmaker kan dit na ’n moeilike taak klink om wyn aan ’n breë front te maak – van Cap Classique tot Cabernet sauvignon, Pinot noir, Shiraz, Chardonnay en natuurlik die bekende The Jem (rooi versnit). Maar vir Mark is dit ’n voorreg en onuitputli­ke bron van opwinding.

“Dit hou jou op jou tone. Of ons nou wyn maak van ons eie Waterford-druiwe of van vrugte wat ons in Elgin verbou, ek en die kelderspan weet ons werk met die heel beste vrugte. Ons het ’n groot doek – ons kan ’n minimalist­iese benadering inneem of pret hê en ’n bietjie kreatiwite­it aan die dag lê.

“Solank die eindproduk goed genoeg is vir die Waterford-etiket, word ek toegelaat om my hand aan nuwe dinge te waag.”

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa