Landbouweekblad

’n Mens se lewensomst­andighede is nie van jou geboorte af in beton gegiet nie.

-

As dit vir ’n mens moontlik was om jou lewensomst­andighede te skep, sou die meeste mense dit vir hulle self net aangenaam gemaak het. Ongelukkig werk dit nie heeltemal so nie. En tog is dit waar dat dit vir ons moontlik is om ’n belangrike bydrae te lewer tot wat ons uiteindeli­k gaan ontvang.

“Ek kan nie” is meermale net ’n verskuilde manier om te sê “ek wil nie”. Natuurlik sal toegegee moet word dat geleenthei­d om vir jouself ’n toekoms te skep nie eweredig oor alle mense versprei is nie. Ons weet nie wat of wie ook al die rede is vir die “beter” of die “slegter” van die lewe nie. Sommige trek die lang lootjie en ander die korte, sonder dat iemand nader staan om te sê hoekom dit so is. Om vir God die krediet of die skuld te gee, is ’n maklike manier om die diepte van die probleem te ontsnap.

Soms hoor ’n mens iemand sê: “God het dit so gewil.” In reaksie daarop sou ’n mens kon vra: “Is jy baie seker dat dit God is? Wil God dan ook die Kwaad?”

By geleenthei­d moes ek ’n gesprek voer met iemand wat hom letterlik in die ellende in gedrink het, met droewige gevolge vir homself en sy familie. En wat was sy verdedigin­g en verontskul­diging? “Dis seker maar God se wil dat ek hierdie pad moet loop.”

Ja, verseker kan ons ook mede-verantwoor­delik wees vir iemand anders se droewige omstandigh­ede. ’n Swak voorbeeld van ’n ouer of ’n kamma-vriend kan jou die verderf inlei en só jou lewensomst­andighede help skep.

Wanneer die bekende en gewaardeer­de skrywer en digter Adam Small praat van die “dice” wat vir sommiges verkeerd geval het, dan raak hy ’n moeilike punt aan. Die vraag bly dan nog: “Wie het die dice gegooi?”

Kom ons neem nou die positiewe uit hierdie geselsie. ’n Mens se lewensomst­andighede is nie van jou geboorte af in beton gegiet nie. Jy kan verander.

Male sonder tal kon ek dit self aanskou hoedat iemand uit die modder opstaan om vir ander ’n rolmodel te word. Dit is die wonder van God se genade.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa