INLIGTING OOR PRYSE ‘MISLEIDEND’
Die nuusberig “Gifpryse kan met 40% tot 100% styg” (LBW ,16 Februarie 2018) het betrekking. Dit het dadelik my oog gevang sowel as dié van die lede van CropLife SA se uitvoerende raad wat Dinsdag, 13 Februarie ’n raadsvergadering gehou het. Die artikel is met groot misnoeë ontvang en verg noodwendig ’n reaksie van CropLife SA (wat die plantbeskermingsbedryf verteenwoordig).
Die reaksie van CropLife SA op die artikel is soos volg: Eerstens vervaardig, verkoop en versprei CropLife SA se lede nie “gif” nie, maar plantbeskermingsmiddels of landboumiddels, soos wat die Wet op Misstowwe, Veevoedsel, Landboumiddels en Veemiddels (Wet 36 van 1947) sodanige produkte definieer. Dit sluit in sintetiese, chemiese plaagdoders, natuurlike plaagdoders sowel as biologiese plaagdoders waarvan die giftigheidspektrum van giftig tot feitlik skadeloos strek.
Die tyd toe die landbousektor van ”gif” gepraat het, is lankal verby, maar dit is asof die media die begrip as sensasie gebruik. Dit is onaanvaarbaar vir die plantbeskermingsektor.
Tweedens is die aanbeveling van dr. Dirk Strydom van Graan SA aan produsente om dadelik te spring en ou voorraad aan te koop, reglynig teen die wêreldwye beginsel van “koop net aan wat jy nodig het” wat deur die Voedsel- en Landbou-organisasie van die Verenigde Nasies en deur CropLife Internasionaal onderskryf word.
As ’n produsent enige landboumiddels aankoop om prysskommelings teen te werk, kelder dit die beginsel van verantwoordelike plaagdodergebruik. Dit lei noodwendig tot die opgaar van plaagdoders wat oud en onbruikbaar raak en dan teen ’n geraamde koste van R44 000 per ton vernietig moet word. Daar lê reeds meer as 500 ton onbruikbare landboumiddels op plase. As ’n mens die begrip “gif” wil gebruik, is dit op sulke produkte van toepassing, want dit het tot stowwe verval wat ’n gevaar inhou en nie meer vir plantbeskerming aangewend kan word nie.
Die huidige situasie van droogtes, onvoorspelbare reënval en klimaatsverandering dwing produsente om ’n baie korter bestuurstelsel vir gewasproduksie te volg. Daar word nie op groot skaal landboumiddels en misstowwe aangekoop nie omdat daar geen waarborg is dat die klimaat gunstige planttoestande tot gevolg sal hê nie. As ’n produsent dus nou ’n groot voorraad aankoop, is daar veral in die Wes-Kaap die sterk moont- likheid dat sulke middels sal oorstaan, verval en onbruikbaar raak. Wat gaan produsente met sulke ou voorraad maak en wie gaan vir die vernietiging betaal?
Die aantyging dat die prys van sommige middels geweldig kan styg, is ook sterk te bevraagteken. As die prys van ’n aktiewe bestanddeel styg, styg die prys van die geformuleerde produk nie met dieselfde persentasie nie, want die aktiewe bestanddeel is slegs een komponent van die geformuleerde produk.
Daar is ’n baie goeie rede waarom die Chinese produkte se pryse styg. Die Chinese het vir taamlik lank plaagdoders op groot skaal vervaardig in aanleg- te wat glad nie aan veiligheidstandaarde voldoen het nie. Sulke aanlegte kon dus noodwendig die plantbeskermingsmiddels teen baie lae pryse aan die mark voorsien. Etlike jare het almal daaruit voordeel getrek.
Weens die geweldig nadelig impak op mense se gesondheid en ernstige omgewingsbesoedeling, soos byvoorbeeld plaagdoderbesoedelde water wat in riviere gepomp is, het die Chinese regering op sulke aanlegte begin toeslaan en dit summier gesluit.
Daardie bronne van goedkoop en dikwels onbetroubare plantbeskermingsmiddels is dus nie meer beskikbaar nie. Die prys van Chinese plantbeskermingsmiddels sal dus noodwendig styg omdat die aanlegte wat oorgebly het, uitgawes aangaan om die omgewing en die mense om hulle teen enige moontlike besoedeling te beskerm.
Die wisselkoers kan ook pryse opjaag, maar met die nuwe politieke leierskap in Suid-Afrika beweeg die rand na ’n sterker posisie. Dit behoort dus pryse gunstig vir produsente te beïnvloed.
Let ook daarop dat plantbeskermingsmiddels beslis nie die grootste deel van die produsent se produksiekoste nie. Dit is waarskynlik minder as 15% van die totale koste. Met ander woorde as daar ’n prysstyging is, gaan dit nie die totale produksiekoste die hoogte laat inskiet nie.
Strydom se aantygings dat “die mense gaan sê daar is nie ou voorraad nie”, is totaal belaglik, want daar word nie “ou voorraad” aangehou nie.
Waarvan hy duidelik nie van bewus is nie, is dat plaagdoders in die algemeen ’n wettige raklewe van twee jaar het (sommige s’n is korter). Verskaffers en verspreiders se voorraadbestuur is uiters noukeurig. Dit hou vir hulle ernstige finansiële en wetlike implikasie in as produkte verval omdat dit teruggetrek en herontleed moet word. Hulle moet dan ook aansoek doen om dit te verhandel.
Indien die inspektoraat van Wet 36 van 1947 op sulke middels afkom, lê hy daarop beslag en word dit verbeurd verklaar. Verspreiders sal hoogstens middels vir een produksiejaar in voorraad hou, want dit is bloot goeie besigheid in ooreenstemming met Wet 36 van 1947 en die verantwoordelike gebruik van plaagdoders.
Strydom se aanbeveling strek dus baie na aan ’n misdryf ingevolge Wet 36 van 1947. DR. GERHARD VERDOORN Direkteur, Griffongifinligtingsentrum
DR. DIRK STRYDOM, bestuurder van graanekonomie en bemarking by Graan SA, antwoord: Die inligting wat in die berig gebruik is, is aan boere oorgedra op Graan SA se Wes-Kaapse streeksvergaderings.
Graan SA is ’n produsente-organisasie wat markinligting versamel en aan ons produsente aanbied met die doel om beter bemarkings- en aankoopbesluite te neem. Op die dae is inligting oor hoofproduksiemiddele, soos saad, kunsmis, diesel en plantbeskermingsmiddels, oorgedra.
Vir saad, kunsmis en diesel kan ons die internasionale en plaaslike prysbewegings verskaf. Die uitwerking van die wisselkoers op pryse is ook getoon.
Ongelukkig, ná vele versoeke, kan ons steeds nie die plaaslike pryse van plantbeskermingsmiddels bekom nie. Ons kan dus slegs die beweging van die internasionale pryse van aktiewe bestanddele monitor en aan ons produsente aanbied.
Die verwagting bly dat die internasionale prysbewegings uiteindelik na die plaaslike mark sal deursyfer omdat Suid-Afrika ’n netto invoerder van aktiewe bestanddele is. Maar, soos reeds genoem, het ons ongelukkig nie die plaaslike pryse om die deurvloei aan te dui nie. In die geval van ander produksiemiddele kon ons dit wel aandui.
Ons het dit ook aan die produsente duidelik gemaak dat dit die ekstreme scenario is en grootliks van toepassing is op die Chinese aktiewe bestanddele, soos in die berig genoem is.
Graan SA sal baie beter, deursigtiger inligting kan deurgee as die plaaslike inligting beskikbaar gemaak word.
Produsente in veral die WesKaap is onder enorme finansiële druk en sal verseker nie onnodig produksiemiddele aankoop nie. Ons kom uit ’n baie ernstige droogte wat wel voorrade kan beïnvloed.