Wenke vir ou en nuwe trusts
Begunstigdes moenie net aanvaar hulle sal ’n inkomste uit ’n trust kan verdien nie. Die trustakte moet spesifiek daarvoor voorsiening maak.
Trusts is ’n ingewikkelde en wye veld, wat baie onsekerheid kan veroorsaak. Verskeie aspekte moet deeglik oorweeg word voordat ’n trust opgerig word. Indien dit reeds opgerig is, is dit altyd goed dat ’n trustspesialis weer daarna kyk, tesame met u boedelplan en testament, om seker te maak alles is reg en voldoen aan u wense.
Let wel, die doel van dié rubriek is om u bewus te maak van sekere aspekte wat tot probleme kan lei en is nie ’n volledige uiteensetting van trusts nie.
DOEL VAN DIE TRUST
’n Trust kan beskryf word as ’n regsverhouding wat deur ’n persoon (ook die “stigter”, “oprigter” of “skenker” genoem) geskep word om bates onder die beheer van ’n ander persoon of persone (die “trustee[s]”) te plaas tydens die oprigter se lewe (’n inter vivos-trust) of by die oprigter se afsterwe (’n testamentêre trust) tot voordeel van derde partye/persone (die “begunstigdes”).
TRUSTEES
Die trustees word by wyse van die trustakte en die magtigingsbrief gemagtig om die trust te bestuur tot voordeel van die begunstigdes. Die trustees moet ingevolge wetgewing en die bepalings van die trustakte optree.
Die trustees mag wel ook begunstigdes wees, maar dit is belangrik dat die trust nie as die alter ego van die oprigter of trustees bestuur word nie. Daar moet ’n behoorlike skeiding wees tussen die beheer van die trust aan die een kant en die bevoordeling van die begunstigdes aan die ander kant.
Minstens een onafhanklike trustee behoort aangestel te word, veral in ’n familietrust (dus waar al die trustees begunstigdes is en hulle ook aan mekaar verwant is).
BEGUNSTIGDES
Dit is belangrik om tussen inkomste- en kapitaalbegunstigdes te onderskei: Inkomstebegunstigdes is die persone wat geregtig is op die inkomste wat deur die trust gegenereer word, ooreenkomstig die bepalings van die trustakte (byvoorbeeld of dit diskresionêr of nie-diskresionêr is). Kapitaalbegunstigdes is die persone wat, op die datum soos dit in die trustakte bepaal word, geregtig is om kapitaal van die trust te ontvang. U moet voorsorg tref indien u en/of u gade nie ’n inkomstebegunstigde is nie en u en/of u gade dalk in die toekoms ’n behoefte aan inkomste kan hê (byvoorbeeld by aftrede of vir voorsiening vir onderhoud wanneer die eerste gade afsterf). U en/of u gade sal nie op enige inkomste uit die trust geregtig wees indien u en/of u gade nie uitdruklik as inkomstebegunstigdes benoem is nie.
PLIGTE EN BEVOEGDHEDE
Trustees moet op die hoogte wees van die trustakte se inhoud. Wetgewing en die fidusiêre aard van die trustee se posisie plaas ’n baie groot verantwoordelikheid op ’n trustee. ’n Trustee moet, onder meer, onafhanklik en ook in die beste belang van al die begunstigdes optree. Behoorlike aantekeninge moet gehou word van onder meer vergaderings, besluite en resolusies. Alle dokumentasie moet vir ’n sekere tydperk gehou word.
Trustees moet hul pligte en bevoegdhede deeglik verstaan en verseker dat die trust en trustbates behoorlik bestuur en beheer word.
’n Trustee kan nie kwytgeskeld word van persoonlike aanspreeklikheid indien hy of sy nie optree met die nodige sorg, ywer en vaardigheid, soos wat redelik verwag kan word van iemand wat ander se sake bestuur, nie.
GEVOLGTREKKING
Die aanbeveling is dat die oprigting van nuwe trusts behoorlik oorweeg word ná samesprekings met die toepaslike spesialiste. U huidige trust moet geoudit word om seker te maak dit voldoen aan huidige wetgewing en gemene reg – en ook aan u wense – en dat dit nie teenstrydig is met u boedelplan nie. Dit is belangrik om voorsorg te tref terwyl u kan, voordat enige onnodige of onverwagse slegte gevolge opduik.
Die inligting in dié rubriek word nie bedoel as of kom nie neer op persoonlike finansiële of enige ander advies nie. Raadpleeg ’n geakkrediteerde finansiële adviseur of makelaar vir ’n volledige finansiële plan.
Me. Amanda Moolman i s’ n regsadviseur spesialis by Old Mutual Makelaars dienste.
NAVRAE: E-pos: knel1@oldmutual.com