Comrades- kakofonie
Om die Comrades-marathon te hardloop — of deels te loop of strompel — sit beslis nie in elkeen se broek nie. Maar om dié moordende wedloop agteruit te hardloop, in ’n paar Huskies, ’n crimplene-langbroek, ’n das en twee swaar kameras om jou nek, vat ’n ma
In Bruce Fordyce se glorietyd moes ek presies dít doen – twee jaar in ’n ry, die Comrades se op- én af-roete – in opdrag van Rapport se sportredakteur.
Vreemde begrippe, soos digitale toerusting en Photoshop, was nog woorde wat regstreeks met PW se kommunistiese bedreiging geassosieer is. En van fotograwe op motorfietse wat die aksie volg en na willekeur foto’s neem, was daar nog nie sprake nie. Ek moes my Asahi Pentax-kameras – een gelaai met ’n swart-en-wit film met 36 skote en die ander met ’n Technicolor-kleurfilm – om my nek hang en laat waai.
Ek kon darem in die week voor die wedloop twee om-die-blok-drafsessies en ’n muurbalspel inkry om vir die Saterdag voor te berei, dankie tog.
Om voor die voorste atlete te hardloop, agteruit, vir gepaste aksie-foto’s, was die enigste manier. Jy kan mos nie die swetende hardlopers se agterkante kiek nie, dit moet full
frontal wees.
BRUCE OP MY HAKKE
Daardie eerste wedloop was ’n nagmerrie! Ek al springende agteruit, met Bruce Fordyce wat my ná 80 km se gespring en foto’s neem, soos ’n windhond jaag. My kuite dreig om te begin kramp en my Rapport-das druk my. Die twee kameras flap om my twee gekneusde ore en die skare raas en juig. ’n Beampte by die halfpadmerk het nog geskreeu my hemp hang agter uit en my laat stop om dit eers terug te druk.
En toe die amper-tragedie: My linkerste Husky se skoenriem wat teen Poly Shorts losraak. Stop, vinnig vasmaak, met Bruce wat soos ’n stoomtrein verbyjaag, voluit hardloop tot ek hom weer in die stadion inhaal, omswaai, 10 meter van die wenpaal af twee vinnige skote inkry. ’n Beampte wat benoud van die wenpaal af gil: “Sak Sarel, jy gaan Bruce se lint breek!”
Ek wat onder die wenlint deur sak, met Bruce wat die lint teen my lens breek en in my arms inmekaar sak, geheel en al uitgeput. En net koeldrankies vir die dors, nie eens ’n ou Klippies-en-Coke nie.
Ek is boonop die Sondagaand met saktyd voor stok gekry omdat daardie laaste foto van Bruce wat die lint breek, effe uit fokus was. My kuite was nog vir dae lank seer, man!
SPESIALE VERGUNNING
Met die volgende Comrades – die af-roete – het dit darem ’n bietjie beter gegaan. Ek het spesiale vergunning gekry om my Rapport-hemp se boonste knoop los te maak en ek kon my muurbal-tekkies dra – in Rapport se rooi korporatiewe kleur wat met ’n blikkie All weather-verf aangebring is.
As dit so moeilik is om die Comrades agteruit te hardloop, wil ek nie weet hoe dit vorentoe moet voel nie . . .
Stroois du Plessis is ’n oudjoernalis wat deesdae ’n konsultas iepraktyk uit Heidelberg (Gauteng) bedryf.
Ek het spesiale vergunning gekry om my Rapport-hemp se boonste knoop los te maak.