FYNBOS-MEDISYNE TOENEMEND GEWILD
Die vraag na kruie en natuurlike gesondheid s produkte neem vinnig toe. Dié vraag na kruieprodukte stel selfs klein maatskappye in staat om meer mense in diens te neem en uit te brei. Talle eenmansake versend sulke produkte per koerier na kopers.
Me. Karin McCann, besturende direkteur van die onderneming Cape Kingdom Nutraceuticals in Kaapstad, is dit eens dat die kruiemark lewensvatbaar is – ten spyte van ’n strawwe ekonomie wat kopers se besteding beperk.
“Daar is ’n besliste neiging onder ’n groot deel van die publiek wat nie meer gesondheidsprobleme met net chemiese medisyne wil regstel nie. Hulle maak aanpassings aan hul lewenstyl om deur die inname van aanvullende kruiemiddels siektetoestande te voorkom,” sê sy.
Haar maatskappy, wat uitsluitlik op die gebruik van boegoe in produkte vir mens en dier klem lê, het die afgelope boekjaar aansienlik gegroei. Dit is vanweë sterk buitelandse belangstelling in Oosterse lande, soos China en Korea, in dié fynbosplant. Boegoe groei endemies in net ’n dun strook in die Suidwes-Kaap vanaf die Paarl tot Clanwilliam. Cape Kingdom Nutraceuticals voer reeds produkte na Amerika en lande in die Europese Unie uit.
Volgens McCann is dit belangrik dat Suid-Afrika se endemiese kruie-erfenis beskerm word. Derhalwe het die maatskappy ’n ooreenkoms met die San- en Khoi-gemeenskap waardeur erkenning gegee word vir hul tradisionele kennis van boegoe. Saam met die Departement van Omgewingsake en ander vennote verseker die maatskappy dat die erfenis van hierdie endemiese plant beskerm en bewaar word.