Willemse: Beplan vir hoër rentekoerse, produksiekoste
Terwyl die ekonomie binne die volgende drie jaar waarskynlik aanhou sal herstel, is daar risikofaktore wat boere in hul beplanning moet ag neem. Dit sluit ’n hoër rentekoers in.
Die toestand van die makroekonomie het ’n regstreekse impak op boerderyfinansies omdat ’n ekonomiese groeisiklus die besteebare inkomste van verbruikers en die mark vir landbouprodukte laat styg.
’n Stabiele rand stabiliseer inflasie en beperk dus produksiekostestygings, en het ook ’n regstreekse impak op die meeste landbouprodukpryse (invoer en uitvoer). As die rand in ’n versterkende siklus is, soos die afgelope twee tot drie jaar, daal die meeste produkpryse en produksiekoste bly stabiel of daal effens. ’n Verswakkende siklus beteken dat baie invoer- en uitvoergekoppelde landbouprodukpryse styg, en later ook produksiekoste.
Die prys van baie chemiese middels en natuurlik brandstof hou regstreeks verband met die internasionale olieprys.
Dit is dus belangrik om in die beplanning van jaarlikse begrotings en moontlike uitbreidings die verwagte verloop van makro-ekonomiese faktore in ag te neem en deel van die plan te maak. Naas erge natuurrampe het veranderinge in makro-ekonomiese toestande die grootste uitwerking op die wins en geldelike posisie van boerderye.
RESERWEBANK
Die Reserwebank se monetêre beleidskomitee het op sy vergadering van 24 Mei besluit om die rentekoers onveranderd te hou nadat dit begin vanjaar verlaag is. Ekonome het verwag dat die rentekoers nog gaan daal vanjaar. Dié scenario was op ’n paar aannames gegrond, veral dat die rand taamlik sterk sou bly en dat dit saam met goeie graanoeste voedselinflasie en inflasie in die algemeen laag sou hou. Die verwagting was ook dat die olieprys stabiel sou bly en dat Amerika nie sy rentekoers veel sou laat styg nie.
Hierdie scenario het die afgelope paar weke heeltemal verander.
Die rand het onder druk gekom, veral nadat die Amerikaanse reserwebank aangedui dat sy rentekoers nog sowat vier keer gedu-
rende die res van die jaar kan styg.
Die Amerikaanse reserwebank het in 2008 met die wêreldwye finansiële krisis sy rentekoerse skerp laat daal tot net bokant nul persent. Baie geld is geskep om te keer dat Amerika en die wêreldekonomie in ’n lang en diep resessie gaan, soos in die laat 1920’s.
Sy siening het einde verlede jaar verander en hy meen nou dat die rentekoers genormaliseer moet word en tot sowat 3% in die volgende jaar of wat moet styg. Dit het die geldeenhede van die meeste ontluikende ekonomieë die afgelope paar weke skerp laat daal omdat die rentekoersverskil tussen Amerika en dié lande aansienlik kan verklein. Dit beteken beleggers wil eerder weer in Amerika belê.
Geld het dus begin terugvloei na Amerika. Argentinië het in ’n skokaankondiging ’n paar weke gelede sy rentekoers tot 40% laat styg in ’n poging om sy geldeenheid te stabiliseer. Daar is heelwat ontluikende ekonomieë, waaronder Suid-Afrika, wat in dié situasie is. Die aanduiding is dat buitelanders meer as die helfte van Suid-Afrika se staatskuld besit. Tensy die Reserwebank die rentekoers verhoog, sal die rand bly verswak en sal inflasie toeneem – wat reeds begin gebeur het.
Die inflasiekoers het in April vanaf die onderste draaipunt van 3,8% in Maart tot 4,5% gestyg. Die Reserwebank verwag dat dit in die volgende jaar of twee verder kan styg tot nader aan die plafon van 6%.
Die rentekoers in Suid-Afrika moet hoër as die heersende inflasiekoers wees om mense aan te moedig om geld te spaar. Die verloop van die inflasiekoers en die primarentekoers word in GRAFIEK 1 getoon. Die korrelasie is taamlik duidelik.
Die verwagting is dus dat die land die onderste draaipunt van inflasie verbygesteek het en dat die Reserwebank later vanjaar en volgende jaar sy rentekoers geleidelik sal moet verhoog (sowat ’n kwart persentasiepunt per keer sowat twee of drie keer in die volgende 18 maande). Natuurlik wil hy nie té vinnig optree nie, want die ekonomie is tans in ’n herstelfase. Die verwagting is dat die ekonomiese groeikoers vanaf vanjaar gaan bly verbeter, mits die rentekoers nie te veel styg nie.
Die olieprys is tans in ’n sterk stygfase nadat dit die afgelope paar jaar tot net bo VSA$40 per vat gedaal het ( GRAFIEK 2 ). Die onlangse stygings is duidelik en die verwagting is dat dit in die volgende jaar of wat hoog gaan bly (minstens bo $70 per vat).
Die styging in die olieprys en die verswakkende rand sal die prys van produksiemiddele en brandstof (en dus die inflasiekoers) in die volgende maande laat styg. Loonstygings bokant die inflasiekoers dra ook by tot hoër inflasie.
Verskeie faktore dra by tot die hoër olieprys. Die wêreldekonomie groei stewig, wat die vraag na olie laat styg. Pres. Donald Trump se dreigende sanksies teen Iran en
sy olie dra by tot die stygende neiging. Trump gebruik die situasie tot Amerika se voordeel, en daar is aanduidings dat die persentasie etanol en biodiesel in brandstof verhoog gaan word, wat graan- en oliesaadpryse sal laat styg.
LANGERTERMYNVOORUITSIGTE
Teen hierdie agtergrond word die verwagtinge van die meeste ekonome in GRAFIEK 3 opgesom. Die ekonomie sal na verwagting stadig bly groei in die volgende drie jaar tot 2,5-3% in 2020. Die inflasiekoers kan tot 5-6% in die volgende drie jaar styg. Dit sal beteken dat die rentekoerse ook geleidelik sal styg tot 2020. Die wisselkoers sal na verwagting stadig bly verswak, tensy daar ’n groot ommekeer in kapitaalvloei na Suid-Afrika kom, maar behoort op die vlak van R12,50-R13,50 te bly.
Die beter ekonomiese groeivooruitsigte is goeie nuus vir die landbou en sal die vraag na voedselprodukte en dus pryse stut.
’n Swakker rand teenoor die Amerikaanse dollar sal heelwat landbouprodukpryse bevoordeel wat aan dollarpryse gekoppel is. Aan die ander kant moet jy egter begroot dat produksiekoste met sowat 5-6% per jaar gaan styg, en brandstofpryse en die prys van chemiese middels nóg meer.
Die verwagte styging in rentekoste gaan boerderye se skulddravermoë effens verswak. Rentekoste bly vir baie boerderye ’n groot uitgawe, gegewe dat die skuldlas die afgelope paar jaar tot sowat R160 miljard toegeneem het ( GRAFIEK 4 ).
Ten slotte, neem die verloop van die makro-ekonomiese veranderlikes in ag in jou beplanning. Die plaaslike vraag na landbouprodukte sal stadig bly groei, en uitvoerboere kan hoër pryse verwag. Boere moet egter vir ’n stygende rentekoers begroot.