MYN SPAAR WATER SOVER HY KAN
Die artikel “Nou speel myne baas oor water” (LBW, 11 Mei 2018) deur Johan van der Merwe het betrekking. Ek opper graag die onderstaande punte ter verduideliking.
Ons beskou die opskrif van die artikel as misleidend en dat dit Kropz se waterbestuursmetodes as eiesinnig en moedswillig laat lyk. Om “baas te speel oor water” is nie op ons agenda nie.
Kropz Elandsfontein het, in ooreenstemming met bestaande wetgewing, aansoek gedoen om al die nodige lisensies met betrekking tot watergebruik. ’n Waterlisensie is op 7 April 2017 met ’n omvattende stel voorwaardes aan die maatskappy toegeken. Tot op hede die maatskappy R25 miljoen bestee om hierdie voorwaardes na te kom.
Om al ons wetlike verpligtinge na te kom, doen ons gereeld aan die Departement van Water en Sanitasie verslag. Ons is aan die departement se ouditprogram onderhewig om te verseker dat alle waterverwante aangeleenthede wat tans deur Kropz Elandsfontein onderneem word, behoorlik bestuur en gemonitor word.
Kropz Elandsfontein het ’n watertoekenning van 2,4 miljoen liter per dag vanaf die Withoogte-waterskema, maar gebruik tans net water vir menslike gebruik by die mynaanleg op Hopefield. Met die aanhoudende optimalisering van ons prosesse en stelsels verwag ons dat die myn se waterverbruik tot 1 miljoen liter per dag sal daal wanneer die mynbedrywighede in 2019 hervat word.
Kropz Elandsfontein werk tans saam met die Saldanhabaai-munisipaliteit om die impak van die myn op drinkwater sover moontlik uit te skakel. Goeie vordering is gemaak om die nywerheidsaanvraag van 2,5 miljoen liter water per dag uit die Withoogte-waterskema te vervang met water vanaf die
Vredenburg-rioolsuiweringswerke. Hierdie projek word tans afgehandel en sal hopelik in bedryf gestel word voor ons bedrywighede by Elandsfontein hervat.
Die Weskus-omgewingsbewaringsvereniging (WOBA) se stellings is foutief: Kropz Elandsfontein is nie in ’n buffersone van die WeskusNasionale Park geleë nie. Die myn is nie in ’n “sone 1 omgewingsbestuursgebied” geleë nie. Kropz Elandsfontein het korrespondensie van Sanparke en die Wes-Kaapse departement van omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning ter stawing hiervan. Kropz Elandandsfontein het sy omgewingsimpak-aansoek teruggetrek op aanbeveling van die departement van omgewingsake met die verstandhouding dat dit nie nodig was ingevolge die One Environmental-stelsel nie. Een van die voorwaardes vir Kropz Elandsfontein se watergebruikslisensie was die daarstelling van ’n watermoniteringskomitee wat bestaan uit lede van die Hopefield-boerevereniging, die WOBA en verskeie streeks-, provinsiale en nasionale regeringsinstellings, waaronder die Departement van Water en Sanitasie en die Departement van Landbou. Al Kropz Elandsfontein se watermoniteringsresultate word by hierdie vergaderings voorgelê en bespreek. Die vergaderings word ook dikwels deur verskeie onafhanklike grondwaterkenners bygewoon.
Laastens, African Rainbow Capital besit 25% van die aandele in Kropz Elandsfontein (nie 30%, soos in die artikel aange- dui word nie.