DROOGTE SE ANGEL WYS DUIDELIK IN BBP
DIE invloed van die droogte in die Wes-Kaap is duidelik te sien in die groot inkrimping in die landbou-ekonomie in die eerste kwartaal van vanjaar. Die landbou se bruto binnelandse produk (BBP) was 24,2% kleiner as in die laaste kwartaal van verlede jaar.
Die sektor het, naas die mynbedryf en die vervaardigingsektor, ’n groot rol in die ekonomie as geheel se inkrimping gespeel, met ’n bydrae van -0,7 van ’n persentasiepunt.
Statistieke SA het op 5 Mei bekend gemaak dat die mynbedryf met 9,9% ingekrimp het en die vervaardigingsektor met 6,4%. Albei het ’n bydrae van -0,8 van ’n persentasiepunt tot BBP-groei gelewer.
Die ekonomie as geheel het op ’n kwartaalgrondslag met 2,2% ingekrimp. Dit is die grootste kwartaallikse inkrimping sedert die eerste kwartaal van 2009, toe dit met 6,1% ingekrimp het.
In die laaste kwartaal van verlede jaar het die ekonomie met 3,1% gegroei.
Statistieke SA sê die landbou het verlede jaar vir vier opeenvolgende kwartale robuuste groei getoon en die ekonomie gehelp om kop bo water te hou.
BAIE GROTER
Mnr. Wandile Sihlobo, hoof van landbousakenavorsing by Agbiz, sê die inkrimping in die landbou-ekonomie is heelwat groter as die sowat 11% wat dié landbousakekamer verwag het.
“Die meeste wintergewasse, soos koring, gars en kanola, tesame met somervrugte, soos steenvrugte en druiwe, word gewoonlik van November tot Maart geoes, wat gedeeltelik met die eerste kwartaal se BBP-data saamval.
“Dié gewasse word hoofsaaklik in die Wes-Kaap verbou en het weens die droogte ’n groot knou gekry, wat die negatiewe BBPgroei verklaar,” sê Sihlobo.
Die produksie van winterkoring het op ’n jaargrondslag met 19% gedaal, garsproduksie met 14% en kanolaproduksie met 11%.
Steenvrugte en druiwe is belangrike aandrywers van landbou-uitvoer en die daling in dié oes het dus ook uitvoerbedrywighede benadeel, sê hy.
’n Inkrimping in die landbou-ekonomie word gewoonlik voorafgegaan deur ’n daling in landbousakevertroue, soos gemeet deur Agbiz en die nywerheidontwikkelingskoöperasie (IDC) se sakevertroue-indeks.
Sihlobo sê dit was dié keer anders: Die indeks was hoër danksy ’n meer optimistiese sentiment ná die onlangse politieke ontwikkelinge in Suid-Afrika.