GRONDDEPARTEMENT SIT OP MILJOENE HEKTARE
DIE staatsdepartement wat die grootste skuld dra vir die ellendige pas van grondhervorming het nagenoeg 20,7 miljoen hektaar onder sy beheer.
Me. Maite Nkoana-Mashabane, Minister van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming, het in ’n parlementêre antwoord onthul haar departement besit 13 588 879 hektaar grond en het eksklusiewe reg tot sowat 2 222 920 hektaar.
Die Ingonyama-trust, wat onder die departement val, besit sowat 2 000 000 hektaar en het eksklusiewe gebruiksreg tot nóg sowat 2 882 000 hektaar.
Dié inligting het aan die lig gekom in dieselfde week wat Nkoana-Mashabane aangekondig het die staat se mikpunt vir die hoeveelheid landbougrond wat aan swart boere oorgedra moet word, kan vanaf die huidige 30% verhoog word.
HOEKOM ONTEIEN?
Me. Thandeka Mbabama, die DA se skaduminister vir landelike ontwikkeling en grondhervorming, sê hierdie verbasende erkenning deur die departement kom nadat die Departement van Openbare Werke aangedui het dat hy sowat 1,9 miljoen hektaar ongebruikte grond het, terwyl die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye sowat 73 000 hektaar namens die Departement van Openbare Werke administreer.
Mbabama meen dié onthulling laat die vraag ontstaan waarom die ANC druk vir wysigings aan artikel 25 van die Grondwet om grond sonder vergoeding te onteien, terwyl die Regering hope stedelike en landelike grond het wat geskik is vir ontwikkeling en/ of die landbou.
Wat verder tot die verwarring bydra, is die onlangse aanduiding van mnr. Ace Magashule, sekretaris-generaal van die ANC, dat daar “nie meer gewag gaan word nie”. In dié verband verwys hy daarna dat begin gaan word met die toepassing van die onteiening van grond sonder vergoeding, asook die voorstelle van die ANC wat op sy grondberaad verlede maand geneem is; soos dat die Parlement dringend die wysigingswetsontwerp op onteiening moet deurvoer om die beperkinge van artikel 25 van die Grondwet te toets.
Die DA glo dat die ANC onteiening sonder vergoeding as ’n gerieflike truuk gebruik om die aandag af te lei van sy mislukkings om grondhervorming aan te pak.
HOËR MIKPUNT
Nkoana-Mashabane sê die uitslag van die grondwetlike hersieningskomitee sal bepaal of die Regering sy mikpunt vir die oordrag van 30% van landbougrond aan swart mense sal verhoog. Dit was in antwoord op ’n vraag van mnr. Ken Robertson, DA-LP, of dié mikpunt aangepas sal word met ’n beleid van onteiening.
Die Regering het in 1994 sy oordrag-mikpunt van 30% teen 2014 bekend gemaak. Tot dusver is nagenoeg 10% oorgedra. Die Nasionale Ontwikkelingsplan het later die mikpunt op 20% teen 2030 gestel.
Die grondwetlike hersieningskomitee moet teen 11 September aan die Nasionale Vergadering verslag doen, en ook aandui watter grond vir onteiening sonder vergoeding geoormerk kan word.
Nkoana-Mashabane het aangedui landbougrond wat vir oordrag geoormerk word, is strategies geleë. Dit sluit in grond wat die grondnood kan verlig, ongebruikte grond en onderbenutte grond.
Die wetsontwerp op die regulering van grondbesit, wat verlede jaar vir openbare kommentaar beskikbaar gestel is, wil ’n perk daarstel op die hoeveelheid grond wat enige enkele entiteit mag besit. Daar is ook ’n projek wat kyk na wetenskaplike metodes om hierdie kriteria te verfyn en beleidsopsies daar te stel.
HEROORWEEG
Die minister sê benewens die mikpunt van 30% sal die Departement van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming ook daarop klem lê om te verseker dat plase wat gekoop is, produktief is en tot die ekonomie bydra.
Om dit te verseker, sal al die plase wat die Regering ingevolge sy strategie vir grondverkryging (PLAS) gekoop het, geëvalueer word om te bepaal watter ondersteuning gebied kan word. Alle eiendom wat sedert 1995 gekoop is, sal ook geëvalueer word. Sy sê die Regering gaan met mening werk aan die projek vir een huishouding, een hektaar en aan die projek vir een huishouding, twee melkkoeie om huishoudelike inkomste te verbeter.
‘Alle eiendom wat sedert 1995 gekoop is, sal ook geëvalueer word.’