Nkwinti kry eindelik sy koei
MNR. Gugile Nkwinti, voormalige Minister van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming en tans Minister van Water en Sanitasie, het presidensiële goedkeuring gekry het om die vers wat koning Goodwill Zwelithini aan hom geskenk het, te hou.
Dit blyk uit 2017 se register van ledebelange wat deur die Parlement bekend gemaak is.
Die vers van R12 000 is reeds in 2016 aan Nkwinti geskenk, maar hy moes verlede jaar eers by pres. Jacob Zuma toestemming kry om dit te aanvaar. Hy het ook ’n skaap van die Mpofana-boere in KwaZulu-Natal gekry, maar dit het hy nog nie opgeëis nie.
In 2015 het Agri SA aan hom ’n bottel rooiwyn, Big Easy van Ernie Els-wyne, gegee. Oor sy eiendom het hy verklaar dat hy onder meer ’n plaas van 103 ha en lappies grond van 3 ha en 5 ha by Grahamstad besit.
ALMAL VRY NA CYRIL
Pres. Cyril Ramaphosa se belange staan ook uit. Aangesien hy verlede jaar as Adjunkpresident ’n lid van die Parlement was, moes hy sy ledebelange verklaar.
Hy het aandele in ’n wild- en beesplaas en dien in verskeie direksies van abattoirs. Ramaphosa het verlede jaar hope geskenke gekry. Afgesien van baie boeke, bottels wyn en sterk drank het hy ook ’n beeldhouwerk van ’n swartwitpens van stoetwildtelers ontvang. Selfs die vennootskap vir grondoplossings vir die landbou (PALS) het in die ry gestaan om vir hom ’n boks appels en wyn te gee.
Me. Machwene Semenya, voorsitter van die Parlement se portefeuljekomitee vir landbou, bosbou en visserye, het die boek Reflections aan hom gegee. Die vakverbond Nehawu het dit goedgedink om hom ’n winterkombers te gee.