Drukbeweiding: Dis goedkoop — en verhoog wins met 20%!
Met druk beweiding kan’ n veeboer sonder groot kostes y weiding doeltreffendheid en wins veelvuldig verhoog, en steeds speenkalwers en koeie van goeie gehalte lewer, sê dié veekundige.
Drukbeweiding verg wel meer moeite en tyd, maar die toerusting is spotgoedkoop vergeleke met tradisionele bedrading, die voordele legio en die opbrengs op kapitaal tot 20%.
Só sê mnr. Hennie du Toit, veekundige van die landboumaatskappy Obaro. Hy was’ n spreker op die Ottosdal-geen bewerking klubs e jaarlikse bewarings landbou konferensie, waarvan Landbou weekblad’ n borg is.
“Die onderbenutting (van veld) is net so nadelig soos oorbeweiding. In volhoubare veeboerdery is die veld se behoeftes die belangrikste, daarná dié van die vee, en daarná die boer s’n,” sê hy.
Daarom is veebelading ’n belangriker oorweging as diereprestasie. Om ten volle volhoubaar te boer, moet ’n goeie balans tussen die twee bereik word.
Waterafloop van swak veld af kan tot 180% meer as van goeie veld af wees. Grondverlies van swak veld af is tot 6,2 ton per hektaar per jaar, sê Hennie.
Veld in ’n goeie toestand kan tot 3,5 keer meer plantmateriaal per millimeter water lewer. Daarby verander veld se opbrengs na gelang van die reënval. Data wys in Noordwes word sowat 1 ton gras per hektaar per 100 mm reën gelewer. Daarom moet ’n konvensionele boer sy veebelading jaarliks aanpas as hy nie hoëdrukbeweiding beoefen nie.
BEGINSELS VAN BESTUUR
Die belangrikste beginsel in ’n hoëdrukstelsel is kort beweiding gevolg deur lang rus.
“Ons wil die beeste op ’n stuk weiding sit, dit
vinnig afwei, hulle skuif en dan die veld lank laat rus. Soetveld moet baie lank rus, verkieslik 12 maande. Suurveld moet sowat twee tot drie maande rus en vlei-weidings sowat ses weke.”
In ’n konvensionele stelsel moet veldtipes van mekaar afgeskei word, maar met hoëdrukbeweiding is dit onnodig, want die diere benut al die gras spesies. In’ n druk beweiding stelsel is dit ook nie belangrik om ’n hoeveelheid kampe per kudde te hê nie. Al wat nodig is, is die toerusting vir ’n verskuifbare, elektriese heiningstelsel om die vee gereeld aan te skuif sodat ’n kamp van hoek tot kant benut kan word. Hierdie toerusting is nie duur nie. Dit sluit basies ’n energie-eenheid met ’n klompie draad in. Dit kos normaalweg soveel soos een of miskien twee ou koeie wat geslag word.
Om te begin beveel Hennie ’n kampgrootte aan wat sowat 15% van die tropgrootte is, en om dan die kampe al hoe kleiner te maak. As die trop byvoorbeeld uit 100 koeie bestaan, sal dit goed wees om met ’n kamp van sowat 15 ha te begin, sê hy.
“Elke plaas se norm verskil na gelang van die weiding. Ek werk elke plaas se weidingprogram spesifiek vir hom uit. As die kamp 15% van die tropgrootte is, sal die diere die kamp binne ongeveer 14 dae skoon wei voordat hulle moet aanskuif. Vir party boere is dit aanvaarbaar en dan hou ons die program só. Ander boere wil verbeter. Dan maak ons die kampe met verloop van tyd kleiner en skuif die vee vinniger.”
Hennie voeg by dat dit ’n subjektiewe metode is, want daar is te veel faktore wat ’n rol speel in die groei van gras om ’n vaste formule daaraan te koppel.
TRAPPE VAN BEWEIDING
Enige stelsel waar diere in ’n baie kort tyd in ’n gegewe kamp of gedeelte van ’n kamp wei voordat hulle geskuif word, behels drukbeweiding, maar daar is verskillende grade daarvan. Hennie onderskei drie kategorieë: Matige druk; hoë druk – waarin die diere weekliks geskuif word; en ultrahoë druk – met sowat 260 of meer koeie per hektaar per dag, wat deur die dag elke uur geskuif en die betrokke kamp wat dan baie lank laat rus word.
Hy benadruk dat elke plaas verskil en dat daar nie ’n vaste formule is nie. “As die weiding goed uitgegroei is, laat wei ons 260 koeie op een hektaar per dag.”
BOU DIE ONDERGRONDSE BANK
In ’n tipiese, konvensionele weidingstelsel kan ’n trop koeie in ’n kamp byvoorbeeld binne twee weke al die smaaklike grasse afwei. Daarná keer hulle terug om die hergroei af te vreet en reserwes word opnuut aan die plant se wortels onttrek om blare te vorm. Die plant kry dus nooit kans om voedingstowwe in sy wortels terug te sit nie. Die gevolg is dat die plant kleiner word, die weiding verswak
toenemend en die veld lewer al hoe minder.
In ’n hoëdrukstelsel gebeur die teenoorgestelde. Die plante word vinnig afgewei en die diere geskuif.
Blaarvorming begin weer, maar dit word nie afgewei nie. Sodra die plant deur sy vegetatiewe groeifase is, begin hy reserwes in die wortels terugsit, die polle word groter en die plant se groeikragtigheid verhoog (sien SKETS ).
Hennie sê in ’n hoëdrukstelsel neem die gewenste veldspesies vinnig toe en die ongewenste, onsmaakliker spesies verminder. Die gehalte van die weiding verbeter dus toenemend. Hy noem die voorbeeld van ’n plaas by Bodenstein, tussen Lichtenburg en Ventersdorp in Noordwes, waar 60% van die rooigras binne een groeityd met ultra hoë drukbeweiding herwin is. Hy skryf dit aan ’n paar faktore toe:
■ Die diere se intensiewe trapaksie breek korse sodat water en lug die grond beter kan binnedring, ’n gesonde, vogtige en deurlugte saadbedding vorm, en saad ná ’n volgende reënbui beter ontkiem om kaal kolle te bedek.
■ Voorheen onbenutte grasspesies, soos dekgras, word ook bewei, wat nie in ’n konvensionele stelsel gebeur nie.
■ Die digte trop diere lewer ’n besonder groot hoeveelheid mis en urine wat die grond bemes en bevog. Dit word eweredig oor plaas versprei, en nie net in krale en by lekbakke of waterkrippe nie.
BRANDBANE EN PADRESERWES
Met verskuifbare elektriese heinings en hoëdrukbeweiding kan vee ingespan word om brandbane te vreet pleks daarvan om dit met vuur te maak, sê Hennie. Daar is ook die opsie om baie breër bane te maak. Hy weet van boere wat brandbane van tot 150 m wyd laat vreet.
Net so kan die weiding op padreserwes ook benut word omdat die diere danksy die gereelde hantering met die elektriese skuifdraadjies redelik mak is, en die hele trop voortdurend maklik dopgehou kan word.
Al hierdie voordele stel ’n boer in staat om meer koeie op sy plaas te kan aanhou. Hennie noem die voorbeeld van ’n boer by Piet Plessis wie se belading deesdae 3,3 ha per koei is, terwyl die tradisionele gemiddelde drakrag daar van 8 ha tot 12 ha per grootveeeenheid of 11 ha tot 17 ha per koei is na gelang van die hoeveelheid bosse. ’n Ander, met klipveldweidings wes van Coligny, se lading is nou 1,1 ha per koei. Net aan die ander kant van Coligny is die drakrag 6 ha per grootveeeenheid of 8,5 ha per koei.
MEER BESTUURSINSETTE
Hennie benadruk dat ’n hoëdrukstelsel meer bestuursinsette en die boer se voetspoor in die veld verg. “Die boer moet tussen die beeste op die weiding wees. Dit verg ’n bietjie meer tyd en moeite van die boer, maar hy sal die vrugte pluk. Die opbrengs op kapitaal kan tot 20% wees.”
Waterpunte kan ook ’n kwessie wees. Hy sê die boer hoef nie noodwendig groter krippe te hê nie, maar kan dikker pype met sterk druk oorweeg om die bestaande krippe vinniger vol te maak.
Oor kraal snags sê hy die meeste boere wat daagliks of meer gereeld hul troppe skuif, se vee slaap in ’n kraal. “Jy verloor nie aan produksie nie, want hulle vreet deur die dag genoeg om produksie te handhaaf.”