DROOGTE IS BRANDEWYN SE ‘BRIEKE’
DIE kleiner druiwe-oes kan in die komende twee jaar die prys van wyn vir gebruik in brandewyn kwaai opstoot omdat ’n laer wynvoorraad beteken daar gaan minder grootmaatwyn beskikbaar wees om mee brandewyn te maak.
Volgens die bedryfsorganisasie Vinpro is vanjaar se verwagte wyndruifoes van sowat 1 220 920 ton sowat 15% kleiner as verlede jaar se oes. Dit beteken 170 miljoen liter minder wyn sal gemaak kan word.
Na verwagting sal die gemiddelde prys van grootmaatwyn in die komende jaar met sowat 15% styg. “Saam met die styging in BTW en die styging in aksyns wat hoër as die inflasiekoers is, sal die hoër prys van grootmaatwyn kwaai druk op kleinhandelwynpryse plaas. Verbruikers kan verwag om 8% tot 11% meer vir hul gunstelingwyn te betaal,” sê me. Yvette van der Merwe, besturende direkteur van Suid-Afrikaanse Wynbedryfinligting en -stelsels (Sawis), in ’n verklaring.
“Brandewyn, wat betreklik gevoelig is ten opsigte van prys, sal met verloop van tyd waarskynlik nadelig geraak word namate voorraadbeperkings ’n uitwerking op pryse het,” sê sy.
SES LITER NODIG
Volgens mnr. Rico Basson, besturende direkteur van Vinpro, is ses liter wyn nodig om een liter brandewyn te maak.
Die Suid-Afrikaanse Brandewynstigting sê die wyntekort sal in die volgende paar jaar dubbelsyferstygings in die prys van grootmaatwyn tot gevolg hê.
“Volgens Sawis se vooruitskattings sal die prys van wyn vir die stook van brandewyn vanjaar met 19% styg, gevolg deur ’n toename van 22% aanstaande jaar.”
Volgens die stigting se ekonome sou die brandewynbedryf, mits daar nie ’n tekort aan insette of prysverhogings van meer as die inflasiekoers was nie, teen 2023 tot 4 miljoen liter meer brandewyn kon lewer. Dít sou die inkomste van wynboere met R120 miljoen laat styg het.
PROBLEME
Die stigting sê aksyns van 42% is ’n probleem vir die bedryf. Dit is aansienlik hoër as die Regering se gestelde teiken van 36%. ’n Langtermynvoorstel is om die ekwiteitswaarde van brandewyn as ’n kategorie in die bedryf te verbeter. “Sodra die ekwiteit sterker is, sal boere prysverhogings aan die verbruiker kan deurgee sonder die daling in volumes wat ons tans sien.”
Die buro vir ekonomiese navorsing aan die Universiteit Stellenbosch en die Buro vir Voedselen Landboubeleid (BFAP) voorspel dat Suid-Afrika se wingerde in 2022 sowat 85 000 ha sal beslaan – sowat 10% minder as verlede jaar. Dit dui op ’n oes van 1,3 miljoen ton druiwe en ’n tekort van 120 miljoen liter wyn vir die brandewynbedryf.