Ent diere nóú in om reg te wees vir lente
Inentings is net doeltreffend wanneer ’n bees se immuunstelsel sterk genoeg is om self teenliggaampies te vervaardig. Die verkeerde entstowwe of inentings programme kan groot skade op plase aanrig. ’n Veearts gee raad.
Stresfaktore veroorsaak ’n verlaagde immuunreaksie en ’n verhoogde vatbaarheid vir siektes, sê dr. Martin Ferreira, ’n spesialis in kuddegesondheid en voorkomende geneeskunde by beeste. Hy het ’n praktyk op Potchefstroom, Noordwes.
“Sowat 10% van diere wat ingeënt word, bou nie immuniteit op nie. Dit is ’n subfaktor wat nie met voeding of stres verband hou nie.”
Beeste ervaar stres weens vervoer, aanpassing, speentyd, temperatuurveranderinge tussen dag en nag, die aankoop van nuwe diere, die vermenging van kuddegroepe en voedingveranderinge. Hierdie strestoestande het ’n nadelige invloed op die immuniteitsontwikkeling van enige entstof, sê Ferreira.
“Dit is hoekom so baie kalwers wat gespeen en in ’n trop na ’n voerkraal vervoer word, op dag ses of sewe nadat hulle by die voerkraal aangekom het longontsteking ontwikkel.
“Ek beveel daarom aan dat diere nie dadelik ingeënt word wanneer hulle by die voerkraal van die lorrie afklim nie. Hul reaksie daarop is net te swak.”
SPOORELEMENTE
Wanneer beeste in strestoestande verkeer, ly hulle aan tekorte wat nie sigbaar is nie.
Dit is ’n subkliniese toestand en is dus moeilik om sonder die neem van monsters en toetse waar te neem.
Wanneer die boer die diere dan wil inent, ervaar hy swak reaksie op die entstowwe.
Spoorelemente is ’n belangrike faktor wat boere in gedagte moet hou, sê Ferreira.
“Die vlakke van spoorelemente, soos seleen, koper en chroom, speel ’n belangrike rol by die ontwikkeling van teenliggaampies wanneer die boer sy beeste inent.
“Baie kalwers of diere wat jy inent, se vlakke van spoorelemente is laag weens voeding en ’n oormaat van ander minerale, soos kalsium, yster, en fosfate en sulfate, wat die opname van spoorminerale voorkom. Daarom ly diere in die algemeen aan ’n betreklike tekort van spoorelemente.”
Ferreira meen boere misgis hulle met spoorelemente.
“Jy moenie spoorelemente in ’n boks probeer plaas nie. Ons doen dit al jare lank deur te sê sink is belangrik vir die vel, seleen is belangrik vir die slymvliese, mangaan is belangrik vir reproduksie en chroom is belangrik vir energieverwerking.
“Maar dit is nie so eenvoudig nie. Die elemente het ’n onderlinge wisselwerking en moet in die regte verhoudings aangevul word. Die verhoudings van die elemente is belangriker as die elemente as sodanig.”
ENERGIE
Voeding speel ook ’n rol by die swak immuniteitsontwikkeling van beeste.
’n Lae proteïenvlak of energietekorte werk teen immuniteitsreaksies. Dit is dus diere wat in ’n negatiewe fase is en
vet afbreek om hul liggaamstemperatuur in stand te hou of om net aan die lewe te bly.
“Hierdie diere is in ’n kataboliese fase, wat ’n nadelige invloed op die dier se immuniteit het,” sê Ferreira.
ENTSTOWWE
Die hoeveelheid entstowwe wat boere gebruik, beïnvloed ook beeste se vermoë om op die stowwe te reageer.
“Die bees se liggaam het tyd nodig om die entstowwe te verwerk sodat teenliggaampies opgebou kan word. ’n Boer moet dus nie sommer op een dag besluit om al die entstowwe te spuit wat die bees vir die jaar nodig het nie.
“Die ideaal is om sowat 1420 dae te wag tussen die spuit van verskillende stowwe.”
Gee ook aandag aan die kombinasie van entstowwe, sê Ferreira. “Spuit byvoorbeeld twee dooie en een lewende entstof saam, maar moenie drie lewende entstowwe saam spuit nie.
“Twee entstowwe op ’n slag, een dood en een lewend, of twee dooies is ideaal. Moenie twee lewende entstowwe met mekaar kombineer nie,” sê Ferreira.
Nog faktore wat ’n nadelige invloed op die doeltreffendheid van inentings kan hê, is die hantering en temperatuur van ’n entstof, en die korrekte toediening.
“Steriele naalde moet gebruik word of anders kan ’n abses vorm. Sodra absesvorming of inflammasie plaasvind, val die witbloedselle die gebied van inflammasie aan en dus ook die entstof, wat tot ’n swak reaksie op die entstof lei.”
INENTING
In sy inentingsprogram spesifiek vir SuidAfrika se somerreëngebiede ent Ferreira gewoonlik in die laat winter, met die doel om aan die begin van die lente klaar te wees. Dit is met die oog op siektes wat oorgedra word deur parasiete wat in die somer aktief is, soos bosluise, muggies en muskiete.
“Ons ent jaarliks in teen sponssiekte met die multiklostridiale entstowwe, wat jy gebruik om vir die tien sponssiektes (dit is deel van die Clostridiumgroep) te ent. Dit sluit lamsiekte en miltsiekte in.
“Knoppiesvel is ’n belangrike siekte om voor in te ent. Ons ent ook melkkoeie en alle bulle in teen driedaestywesiekte, maar nie regtig vleisbeeskoeie nie,” sê Ferreira.
Dit is ook belangrik om jaarliks teen slenkdalkoors, wat in die lente kop uitsteek, in te ent.
Ferreira sê boere moet onthou daar is nie ’n universele inentingsprogram nie. Inentingsprogramme moet saam met ’n veearts uitgewerk word vir ’n spesifieke plaas binne ’n spesifieke gebied.
ROL VAN OMGEWING
“Dit hang alles af van wat in die omgewing is. As daar byvoorbeeld baie vleie en riviere is, gaan die boer sukkel met muggies en muskiete. Gevolglik moet die boer baie aandag gee aan siektes, soos slenkdalkoors, driedaestywesiekte en knoppiesvel.”
In ’n omgewing met probleme met hartwater, rooiwater en galsiekte moet boere bykomend daarvoor inent sodat die diere daarteen geïmmuniseer is wanneer hierdie siektes in die lente voorkom.
Teen die einde van die winter behoort boere tradisioneel klaar teen beesvirusdiarree (BVD) in geënt het, want dit word vereenselwig met seisoenale stres (verskil in dag en nagtemperature en wisselende voeding).
KOEITJIES EN KALFIES
Ferreira sê koeie moet voor die dektyd met die trigomonoseentstof ingeënt wees. Hy raai boere aan om alle beeste met spoorminerale saam met vitamien A te spuit.
“Ek doen dit saam met die program se eerste inenting, want dit maak ’n groot verskil aan die dier se reaksie. Ek gebruik spesifiek Multimin (reg.nr. G2144, Wet 36 van 1947) wat chroom bevat, want chroom stimuleer die dier se insulienreaksie om meer energie te gee. Dit help die diere om beter op die entstowwe te reageer.”
Indien die boer ’n winterkalftyd bestuur en die koeie gaan oor ’n paar weke kalf, is dit goed om die koeie met ’n middel soos Rotavec (reg.nr. G2955) in te ent. “Jy ent die koeie daarmee in om die kalfies later teen diarree te beskerm. Ons ent ook jaarliks die beeste teen seerooginfeksie in.”
Natuurlik is daar inentings wat uniek tot sekere plase is as sekere toestande op die plaas anders as normaal is. Dit sal dus nie deel vorm van ’n normale inentingsprogram in die somerreëngebied nie.
Verse wat jonger as agt maande is, word teen brucellose met die stam 19entstof ingeënt (dit mag nie herhaal word nie). Omdat stam 19 nie altyd beskikbaar is nie, beveel Ferreira aan dat boere hul verse op speenouderdom met die RB51entstof teen brucellose inent. Boere moet dit herhaal ’n maand voordat die verse gedek word.
“Speenkalwers moet teen spons, lam en miltsiekte ingeënt word.
“Dit is uiters belangrik, want die immuniteit wat die kalf in die bies van sy of haar ma gekry het, het dan verval. ’n Skraagdosis word vier tot ses weke later gegee. Vervangingsverse sal in die volgende jaar by dieselfde program as die koeie inval.”
VOORBEREIDING
Wanneer ’n inentingsprogram of entstowee nie doeltreffend genoeg is nie, of as die verkeerde diagnoses gemaak word, kan alles op die plaas verkeerd loop.
“Ek sê altyd vir boere dat alles op die plaas dan ‘afgaan’, behalwe die oortrokke rekening wat opgaan. Reproduksie daal en sterftes styg.
“Die finansiële gevolge van swak of verkeerde entstowwe kan baie skadelik wees,” sê Ferreira.