Hart tot hart
Ek wonder of God ook innerlike vreugde beleef wanneer Hy my innerlike lewe in oënskou neem.
Dit moet seker maar in my genetiese samestelling ingebed wees dat ek nie kan weerstaan nie om iets te plant waar die moontlikheid hom voordoen. Selfs al weet ek ek sal waarskynlik nie self die oes geniet nie, gaan ek nogtans voort met my gewoonte in die hoop dat iemand anders dit sal geniet.
Hier waar ons hoop om vir ’n paar maande te vertoef, het ek reeds my plantjies in die grond gekry – slegs ’n dag of wat nadat ons hier aangekom het. My tuinruimte is maar beperk. Die bakke is met vrugbare grond gevul en met kraalmis ’n bietjie ekstra skop gegee. Ek beperk my tot ’n paar slaaisoorte wat ’n mens gereeld nodig het. Pietersielie is ’n moét in elke tuin, het prof. Christo Pienaar (salige nagedagtenis) altyd gesê.
Dan is daar gladdeblaar-, krulblaar- en rooiblaarslaai. Voeg hierby nog spinasie, roosmaryn, groen en rooi soetrissies en jy kan ver kom. Glo my – dit alles het in drie bakke plek gevind. Wanneer ek soggens opstaan om koffie te maak, doen ek eers inspeksie van die vordering. Elke nuwe blaar of bloeisel bring vreugde, wat nie almal verstaan nie. Selfs my liewe vrou meen ek kan, vir die geld wat ek spandeer, dieselfde groentetjies by die winkel koop – en met minder moeite. Dan antwoord ek so hoflik as moontlik: “My vrou, jy verstaan nie waaroor dit gaan nie. Dis nie ‘geld mors’ nie, dis my doktersgeld. Dis ook nie moeite nie, dis medisyne vir my siel! Dis God se preek uit Sy eie natuur.”
Wanneer ek my plantjies so met innerlike vreugde aanskou, dan wonder ek – tot my skaamte – of God ook innerlike vreugde beleef wanneer Hy my innerlike lewe in oënskou neem. Is ek dan nie ook ’n planting van die Here wat opgekweek is van my jeug af nie ( Ps 144:12)? Verwag Hy dan nie dat ek moet groei en vrugte dra nie? Dink hieroor na – betyds!