Aanvraag lei tot gehalteprodukte
Rooi Ivoor wil volhoubare voerprodukte van topgehalte aan boere lewer. Met nog planne om uit te brei pak dié maatskappy Limpopo nou by die horings.
Rooi Ivoor Produkte se wild- en veekorrels is geskik vir alle herkouers. Dit kan aan wild (gras- en blaarvreters), beeste, bokke en skape gevoer word teen ’n minimale daaglikse inname van 1% van die dier se liggaamsgewig. Dié maatskappy het ontstaan na aanleiding van die voedingsbehoefte wat die Rooi Ivoor Boerdery in die wildbedryf ondervind het.
“Ons wou ons eie voerkorrels maak omdat ons reeds die nodige grondstowwe op die plaas verbou,” sê mnr. Willem van der Merwe, eienaar van Rooi Ivoor.
“Me. Colleen Engelbrecht, ’n voedingkundige, het ons gehelp met die samestelling. Ons het eers net vir onsself voerkorrels gemaak, maar mettertyd het die aanvraag ons genoodsaak om ons produkte te registreer, en die verkorrel l i ng s aanlegte vergroot en uit te brei. Ons produkte is sedert Augustus 2013 kommersieel aan die publiek beskikbaar.”
Rooi Ivoor is uniek in die bedryf omdat die maatskappy sy eie lusern, mielies en ruvoer, wat driekwart van die produk uitmaak, verbou. Lusern is die hoofbestanddeel van die wild- en veekorrels. Dit word verryk met proteïene, vitamiene, minerale en die nodige vesel. Die korrel is 10 mm in deursnee en ’n veilige produk vir alle diere.
Die maatskappy kan ook, met die nodige goedkeuring van kundiges, ’n korrel formuleer wat parasiete bekamp.
NUWE PRODUK
“Ons gaan binnekort ’n nuwe produk vir wild- en veeboere bekend stel. Dit is die nuwe hoëdrukpers-multibaal wat die tradisionele klein baal vervang. Die pers lewer hoëdigtheidsbale wat weer uit kleiner bale bestaan.”
Die hoëdrukpers-multibaal is 1,8 m x 80 cm x 70 cm groot en weeg sowat 240 kg. Die baal is onderverdeel in ses kleiner bale van 40 kg elk. Dié soort bale verminder arbeid, dit benodig minder opbergruimte, dit verminder vermorsing en is makliker om te kontroleer.
“Die boer hoef net drie toue, wat die ses kleiner bale vasbind, af te sny. Die ses bale van 40 kg elk wat afsonderlik gebind is, is kleiner en makliker om te hanteer,” sê Willem.
UIT DIE PERD SE BEK
Mnr. MJ Human, takbestuurder van NTK Alldays in Limpopo, is een van die tevrede klante.
“Sedert Rooi Ivoor se wildkorrelaanleg in die distrik Alldays oopgemaak het, is dit aangenaam om te kan getuig dat VKB Landbou, en veral die Alldays-handelstak, die voorreg gehad het om deurlopend betrokke te wees by die ontwikkeling van dié aanleg,” sê MJ.
“Alle wildboere is bewus van die probleme wat Limpopo se winter kan inhou. Voeding is een van die aspekte wat noodsaaklik is in wildbestuur. Dit is dus lekker om gehalteprodukte met gemoedsrus te kan bemark en aan ons klante te bied. Rooi Ivoor se produkte bied beslis waarde.”
TOEKOMSPLANNE
Willem sê Rooi Ivoor het die afgelope vyf jaar sterk gegroei danksy gehalteprodukte.
“Deesdae lewer ons produkte aan verskeie vee- en wildboere in Limpopo. Ons wil graag die maatskappy uitbrei en nuwe produkte by ons bestaande reeks voeg, wat ons markaandeel kan laat groei. Wees op die uitkyk daarvoor!”